YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 5

5
’n Verlamde man loop weer
1Hierna het daar ’n groot fees van die Jode plaasgevind. Jesus het daarvoor na Jerusalem toe gegaan. 2By Skaappoort in Jerusalem is daar ’n waterbad wat in Hebreeus Betesda#5:2 Sommige manuskripte Betsata; en ander Betsaida. genoem word. Dit het vyf onderdakpilaargange gehad 3waar daar ’n menigte gestremdes gelê het: blindes, kreupeles en lammes.#5:3 Enkele manuskripte het ook ’n vers 4 Hulle het gewag vir die water om te beweeg, want ’n engel van die Here het van tyd tot tyd na die bad toe afgedaal en die water geroer. Gevolglik is die een wat eerste in die bewegende water geklim het, van sy siekte genees. 5Onder hulle was daar ’n sekere persoon wat al 38 jaar lank siek was. 6Jesus het hom daar sien lê en was bewus daarvan dat hy geruime tyd al siek was. Hy vra hom toe: “Wil jy graag gesond word?”
7Die sieke het Jesus geantwoord: “Meneer, ek het niemand naby my om my in die waterbad te tel wanneer die water geroer word nie; en terwyl ek nog naderkom, gaan iemand anders voor my in.”
8Jesus sê toe vir hom: “Staan nou op, tel jou slaapmatjie op en loop!”
9Onmiddellik het die man gesond geword, sy slaapmatjie opgetel en begin loop. Op daardie dag was dit die Sabbat. 10Die Jode sê toe vir die man wat so pas gesond geword het: “Dit is ’n Sabbat; daarom mag jy nie jou slaapmatjie dra nie.”
11Hy antwoord hulle egter: “Die man wat my gesond gemaak het, dit is hý wat vir my gesê het: ‘Tel jou slaapmatjie op en loop.’”
12Hulle vra hom: “Wie is die persoon wat vir jou gesê het: ‘Tel jou slaapmatjie op en loop’?”
13Die man wat gesond geword het, het nie geweet wie dit is nie, want Jesus het weggegaan omdat daar ’n groot skare op die plek saamgedrom het. 14Hierna loop Jesus hom toe in die tempel raak en sê vir hom: “Kyk, jy is genees. Moenie verder sonde gaan doen nie sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie.” 15Die man het toe vir die Jode gaan vertel dat Jesus die Een is wat hom gesond gemaak het.
Jesus is werklik die Seun van God
16Daarom het die Jode Jesus probeer vervolg, net omdat Hy dit op ’n Sabbat gedoen het. 17Maar Jesus het teenoor hulle reageer: “My Vader werk tot nou toe, en ook Ek is aan die werk.” 18Daarom het die Jode hulle nog meer beywer om Hom dood te maak, want Hy het nie net die Sabbat ontheilig nie, maar God ook sy eie Vader genoem, en Homself só aan God gelykgestel.
19Jesus het daarop reageer: “Ek verseker julle, die Seun kan niks uit sy eie doen nie. Hy doen slegs wat Hy die Vader sien doen. Wat die Vader ook al doen, dit doen die Seun net so. 20Die Vader het die Seun lief en wys Hom alles wat Hy self doen; en Hy sal Hom nog groter dinge wys as hierdie sodat julle verstom sal staan. 21Soos die Vader die dooies opwek en weer lewend maak, só maak die Seun ook lewend wie Hy wil. 22Die Vader veroordeel niemand self nie; Hy het die volle oordeel aan die Seun oorgelaat. 23Daarom moet almal die Seun eer net soos hulle die Vader eer. Wie nie die Seun eer nie, eer ook nie die Vader wat Hom gestuur het nie.
24“Dit verseker Ek julle, wie my woorde hoor en wie vertrou op Hom wat My gestuur het, het die ewige lewe. Hy kom nie in die oordeel nie, maar het reeds oorgegaan uit die dood na die lewe. 25Ek verseker julle, daar breek ’n uur aan, en dit is nou, wanneer die dooies die stem van die Seun van God sal hoor en dié wat dit gehoorsaam, sal lewe. 26Soos die Vader lewe in Homself het, só het Hy dit ook aan die Seun gegee om lewe in Homself te hê. 27Hy het Hom ook volmag gegee om te oordeel omdat Hy die Seun van die Mens is. 28Moenie hieroor verwonderd wees nie: Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor 29en sal opstaan. Dié wat goedgedoen het, sal opstaan om vir altyd te lewe, en dié wat kwaad gedoen het, sal opstaan om veroordeel te word. 30Ek is nie daartoe in staat om enigiets uit my eie te doen nie. Soos Ek dit van die Vader hoor, oordeel Ek en my oordeel is billik omdat dit nie my wil is wat Ek najaag nie, maar die wil van Hom wat My gestuur het.”
Ook die Vader getuig van Jesus
31“As net Ek oor Myself getuig, is my getuienis nie geldig nie. 32Daar is Iemand anders wat oor My getuig, en Ek weet dat die getuienis wat Hy oor My aflê, eg is. 33Julle het mense na Johannes toe gestuur en sy getuienis was die waarheid. 34Ek hou nie vas aan die getuienis van ’n mens nie, maar Ek sê dit sodat julle verlos kan word.
35“Hý was die lamp wat gebrand en helder geskyn het, en julle was gewillig om julle vir ’n uur in sy lig te verbly. 36Ek beskik egter oor getuienis wat swaarder weeg as dié van Johannes. Die werk wat die Vader vir My gegee het om klaar te maak, dit is die werk waarmee Ek nou besig is; dit getuig ook oor My dat die Vader My gestuur het. 37Die Vader wat My gestuur het, dit is Hy wat oor My getuig het. Sy stem het julle nog nooit gehoor nie en sy persoon het julle ook nog nie gesien nie. 38En julle het nie regtig ’n greep op sy boodskap nie omdat julle nie in die Een glo wat Hy gestuur het nie. 39Julle bestudeer die Skrifte omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe sal kry. Dit is juis daardie Skrifte wat oor My getuig. 40Julle wil nietemin nie na My toe kom sodat julle die lewe kan ontvang nie.
41“Ek ontvang nie eer van mense af nie, 42maar Ek ken julle en weet dat julle nie die liefde vir God in julle koester nie. 43Ek het hiernatoe gekom in die Naam van my Vader, maar julle ontvang My nie. As iemand anders in sy eie naam sou kom, sal julle daardie persoon ontvang. 44Hoe kan julle in My glo terwyl julle onder mekaar eer ontvang, en nie die eer soek wat van die enigste God af kom nie? 45Moenie dink dat dit Ek is wat julle aankla by die Vader nie. Dit is Moses, op wie julle julle hoop gevestig het, wat die aanklaer is. 46As julle Moses maar vertrou het, sou julle in My geglo het, want dit is oor Mý dat hy geskryf het. 47As julle egter nie glo in wat hy geskryf het nie, hoe sal julle ooit in my woorde glo?”

Currently Selected:

JOHANNES 5: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy