YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 14

14
Simson se eerste huwelik
1Simson het afgegaan na Timna toe. Hy het daar ’n Filistynse meisie gesien. 2Toe hy teruggaan, het hy sy ouers van haar vertel: “Ek het in Timna ’n Filistynse meisie gesien. Gaan kry haar dat ek met haar kan trou.”
3Sy ouers vra toe vir hom: “Is daar nie iemand tussen die mense van jou stam of onder jou volksgenote met wie jy kan trou nie? Moet jy nou onder die heidense#14:3 Of onbesnede. Filistyne ’n vrou vat?”
Simson het vir sy pa gesê: “Kry haar vir my. Ek wil haar hê.”
4Sy ouers het nie agtergekom dat dit eintlik van die Here af gekom het nie. Die Filistyne het op daardie stadium oor Israel geheers. God het na ’n geleentheid gesoek om iets aan die Filistyne te doen.
5Toe Simson en sy ouers op pad was na Timna toe, het ’n jong leeu hom naby die wingerde van Timna aangeval. 6Die Gees van die Here het in hom gekom. Hy het met sy kaal hande die leeu se kake uitmekaargeskeur, soos ’n mens ’n bokkie verskeur. Simson het niks daarvan vir sy ouers gesê nie. 7Hy het in Timna gekom en met die vrou gaan praat. Hy het baie van haar gehou.
8Toe hy later weer vir die troue terugkom na Timna toe, het hy afgedraai om na die leeu se karkas te gaan kyk. ’n Swerm bye was besig om daarin heuning te maak. 9Hy het met sy hand van die heuning uitgehaal en langs die pad daaraan geloop en eet. Hy het ook vir sy ouers daarvan gegee. Hulle het ook daarvan geëet, maar nie geweet dat hy die heuning uit die leeu se karkas gehaal het nie.
10Sy pa is na die vrou se huis toe om reëlings te tref. Soos dit destyds die gewoonte was onder die jong mans, het Simson ’n onthaal gehou. 11Toe hulle hom sien, het haar ouers 30 Filistynse jong mans na die fees uitgenooi.
12Simson het vir hulle gesê: “Ek wil julle graag ’n raaisel vra. As julle binne die sewe dae van die fees vir my kan sê wat dit beteken, sal ek vir julle 30 hemde en 30 stelle klere gee. 13As julle dit nie kan oplos nie, gee julle vir my 30 hemde en 30 stelle klere.”
Hulle stem toe in: “Goed, laat ons jou raaisel hoor.”
14Simson sê toe vir hulle:
“Uit een wat eet,
kom daar iets om te eet.
Uit een wat sterk is,
kom daar iets wat soet is.”
Teen die derde dag kon hulle nog nie sê wat dit beteken nie. 15Op die vierde#14:15 Grondteks sewende. dag sê hulle vir Simson se vrou: “Oorreed jou man om die oplossing van die raaisel vir ons te gee. Anders sal ons jou doodmaak en jou pa se huis met vuur verbrand. Het jy ons uitgenooi om ons te verarm?”
16Simson se vrou het by hom gaan neul: “Jy het my nie regtig lief nie. Jy haat my. Jy het dan vir my mense ’n raaisel gegee en nie eers vir my gesê wat dit beteken nie!”
Simson het vir haar gesê: “Ek het dit nie eers vir my eie ouers vertel nie. Hoekom sou ek dit vir jou gee?”
17Elke keer as hy by haar kom, het sy begin neul. So het dit die res van die tyd van die fees gegaan. Op die sewende dag het hy vir haar die oplossing gegee, want sy wou hom nie met rus laat nie. Sy het toe die oplossing vir haar mense gegee.
18Net voor sononder op die sewende dag het die mense van die stad vir Simson die antwoord kom gee:
“Wat is daar
wat soeter is as heuning?
En wat is daar
wat sterker is as ’n leeu?”
Simson sê toe vir hulle: “As julle nie met my kalf geploeg het nie, sou julle nooit die antwoord op my raaisel kon kry nie!”
19Die Gees van die Here het in Simson gekom. Hy het afgegaan na Askelon en 30 van hulle mans doodgeslaan. Hy het hulle besittings afgevat en daaruit 30 stelle klere gevat vir die mans wat die raaisel uitgelê het. Hy was briesend. Hy is toe terug na sy pa se huis toe.
20Simson se strooijonker het toe met die vrou getrou.

Currently Selected:

RIGTERS 14: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy