YouVersion Logo
Search Icon

JAKOBUS 3

3
Jou tong is ’n baie kragtige instrument; hou dit in toom!
1My broers en susters#3:1 Grondteks broers., julle moenie almal leermeesters wil word nie, want julle weet dat God ons wat leermeesters is, strenger as ander sal beoordeel.
2Ons maak almal baie foute. Maar ’n mens wat sy tong in toom kan hou, kan dit ook met sy hele liggaam regkry. 3Net as ons stange in hulle bek gesit het, gehoorsaam perde ons en het ons die hele dier onder beheer. 4En ’n klein roertjie maak dat ’n groot skip draai net waarheen die stuurman wil, selfs wanneer sterk winde waai. 5So is die tong ook iets kleins, en tog kry dit groot dinge reg. ’n Klein vuurtjie kan ’n groot bos aan die brand steek. 6Die tong is ook ’n vuur. Dit is vol dinge wat jou verhouding met God kan bederf. Dit kan jou hele lewe in vlamme laat opgaan, want die duiwel#3:6 Grondteks die hel. steek dit aan.
7Die mens kan elke soort dier, voël, reptiel en seedier mak maak, 8maar geen mens kan die tong tem nie. Dit is ’n onbeheerbare kwaad, vol dodelike gif. 9Partykeer loof daardie tong ons Here en Vader, en ander kere vloek dieselfde tong mense wat na die beeld van God gemaak is. 10Dit beteken dat lof en vloek uit dieselfde mond kom. Dit kan tog nie so wees nie, my broers en susters#3:10 Grondteks broers.! 11Kan ’n fontein uit dieselfde oog soet en bitter water laat opborrel? 12Kan jy olywe van ’n vyeboom afpluk, of vye van ’n druiwestok? Net so min as wat ’n brak bron vars water kan voortbring!
Hemelse wysheid word sigbaar in ’n baie spesifieke leefstyl
13Aangesien julle wys is en verstaan wat God wil hê, moet julle sorg dat julle leefstyl goed is. Julle wysheid moet juis in nederige gedrag sigbaar word. 14As julle bitter jaloers is en selfsugtige ambisie in julle harte het, moenie dan spog dat julle wysheid het nie. Dis om teen die waarheid in te lieg! 15Jaloesie en selfsug is nie wysheid wat van God af kom nie. Dit is eerder aards, tipies van iemand se sondige natuur. Eintlik is dit demonies, 16want waar jaloesie en selfsugtige ambisie is, dáár sal jy ook wanorde en allerhande gemene dade kry.
17Maar die wysheid wat van Bo kom, is in die eerste plek suiwer. Verder is dit vredeliewend, inskiklik, bedagsaam. Dit is bereid om ontferming te betoon, en het goeie gevolge#3:17 Grondteks goeie vrugte.. Dit diskrimineer nooit en is altyd opreg. 18Die vredemakers saai saad van vrede; hulle oes omdat hulle reg lewe voor God.

Currently Selected:

JAKOBUS 3: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy