YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 65

65
Oordeel en redding
1“Ek openbaar My
aan hulle
wat nie my raad gevra het nie.
Ek laat My vind deur mense
wat My nie gesoek het nie.
Vir ’n nasie wat nie na My
geroep het nie,
het Ek gesê: ‘Hier is Ek!’
2Want Ek het heeldag lank
my hande uitgesteek
na my eie, opstandige volk.
Maar hulle het aangehou loop
op hulle eie sondige paaie.
Hulle het hulle eie koppe gevolg.
3Hulle is ’n volk wat My in my gesig
beledig.
Hulle bring offers vir afgode
in tuine
en brand wierook
op hulle steenaltare.
4In die nag gaan hulle
na die grafte
en geheime plekke
om bose geeste te aanbid.
Hulle eet varkvleis
en onrein kos wat verbode is.
5En dan sê hulle: ‘Bly waar jy is!
Moenie naby my kom nie!
Ek is heiliger as jy!’
Sulke mense
is soos rook in my neus,
soos ’n vuur wat heeldag brand.
6“Dit staan voor My geskryf:
Ek sal nie langer stilbly nie.
Nee, Ek sal hulle straf.
Ek gaan hulle terugbetaal
volgens hulle verdienste.
7Ek gaan hulle straf
vir hulle eie sondes
en vir die sondes van hulle
voorouers,” sê die Here.
“Want hulle het wierook gebrand
op die berge,
en My beledig op die hoogtes.
Ek gaan hulle straf,
volgens wat hulle verdien.”
8So sê die Here:
“As daar nog sap
in ’n druiwetros is,
sê die mense:
‘Moenie dit weggooi nie,
want dit kan nog
gebruik word.’
So sal Ek doen
ter wille van my dienaars:
Ek sal hulle nie almal
vernietig nie.
9Ek sal vir Jakob
weer ’n nageslag gee,
aan Juda kinders
wat my bergland sal besit.
Die mense wat Ek uitverkies,
sal dit in besit neem,
en daar
sal my dienaars woon.
10“Die Saronvlakte
sal ’n weiveld wees
vir mense met kleinvee,
en die Akorlaagte
’n rusplek vir die beeste.
Dit is vir hulle uit die volk
wat na my wil vra.
11“Maar die res van julle
het die Here
versaak
en my heilige berg vergeet.
Julle het die geluksgod
en die god van die noodlot aanbid.
12Daarom het Ek julle bestem
om doodgemaak te word.
Julle sal moet neerkniel
om geslag te word.
Want toe Ek julle geroep het,
het julle nie geantwoord nie.
Toe Ek gepraat het,
het julle nie geluister nie.
Julle het gedoen
wat verkeerd is
reg voor my oë.
Julle het gekies om te doen
wat Ek haat.”
13Daarom sê die oppermagtige
Here:
“My dienaars sal eet,
maar julle sal honger ly.
My dienaars sal drink,
maar julle sal dors ly.
My dienaars sal bly wees,
maar julle sal in die skande kom.
14My dienaars sal sing
met vreugde in die hart.
Maar julle sal uitroep
van droefheid,
julle sal ween oor julle leed.
15“Dié wat Ek uitverkies het,
sal julle naam gebruik
om mense mee te vervloek.
Die oppermagtige Here
sal julle vernietig,
maar aan sy dienaars
gee Hy ’n nuwe naam.
16Almal wat iemand wil seën
of wil sweer,
sal dit doen in die Naam
van die God van waarheid.
Die probleme van voorheen
sal vergete wees.
Ek laat dit verdwyn.”
Nuwe hemel en aarde
17“Kyk, Ek skep ’n nuwe hemel
en ’n nuwe aarde.
Die vorige dinge
sal nie meer onthou word nie
en nie in die gedagte opkom nie.
18Wees bly en jubel
oor wat Ek gaan skep.
Ek skep ’n Jerusalem
waaroor mense bly sal wees,
en sy inwoners sal
’n bron van vreugde wees.
19Ek sal bly wees oor Jerusalem,
My verheug oor my volk.
In die stad sal jy nooit weer hoor
hoe mense huil
of om hulp roep nie.
20“Nooit weer sal ’n suigeling
net maar ’n paar dae leef nie.
Daar sal nie grysaards wees
wat nie hulle jare uitleef nie.
Iemand wat op 100 jaar sterf,
sal as ’n jong man geag word.
Iemand wat vroeër as 100 jaar sterf,
sal beskou word
as ’n vervloekte.
21Dan sal mense weer huise bou
en daarin woon.
Hulle sal wingerde plant
en self die druiwe eet.
22Hulle sal nie huise bou
waarin ander mense woon nie.
Hulle sal nie meer plant,
maar ander eet die vrugte nie.
My volk sal oud word
soos ’n boom.
Hulle wat Ek uitverkies het,
sal die vrug geniet
van hulle eie handewerk.
23“Hulle sal nie tevergeefs swoeg,
en kinders grootmaak
vir rampe nie.
Want hulle sal ’n volk wees
wat deur die Here geseën is,
hulle en hulle afstammelinge.
24Ek sal hulle antwoord
nog voor hulle na My roep.
Terwyl hulle vra,
sal Ek hulle gebede verhoor.
25Die wolf en die lam
sal saam wei.
Die leeu sal strooi vreet
soos ’n bees,
en giftige slange sal stof vreet.
Op my heilige berg
sal hulle geen skade aanrig,
en niks vernietig nie.
Ek, die Here, sê so!”

Currently Selected:

JESAJA 65: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy