YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 49

49
Die Here se kneg uitgestuur
1Luister na my,
almal wat in ver lande bly!
Voor my geboorte
het die Here my geroep.
Van my geboorte af
het Hy my op my naam genoem.
2Hy het my mond
soos ’n skerp swaard gemaak.
In die skaduwee van sy hand
het Hy my weggesteek.
Hy het my ’n skerp pyl gemaak
en in sy pylkoker weggesteek.
3Hy het vir my gesê:
“Jy is my dienaar, Israel.
Deur jou sal Ek verheerlik word.”
4Ek het geantwoord:
“Wat ek doen,
is nutteloos.
Ek het tevergeefs geswoeg!
Tog laat ek dit alles
in die hand van die Here.
Hy sal my beloon.”
5En nou praat die Here,
Hy wat my as sy dienaar
in my ma se skoot gemaak het
om Jakob na Hom
terug te bring
en Israel vir Hom
bymekaar te maak.
Die Here het my geëer.
My God het my sterk gemaak.
6Hy sê: “Jy sal nog meer doen
as om die stamme van Jakob
op te rig
en my volk Israel
na My toe terug te bring.
Ek gaan jou ’n lig maak
vir die nasies
sodat jy my redding kan bring
tot aan die uithoeke
van die aarde.”
7Dit is wat die Here,
die Redder en Heilige
van Israel,
sê vir die een wat verag is
en verwerp word
deur die nasie,
wat ’n dienaar van regeerders is:
“Konings sal jou sien
en op aandag staan.
Prinse sal laag voor jou buig
ter wille van die Here wat getrou is.
Hy, die Heilige van Israel,
het jou gekies.”
Belofte van Israel se herstel
8So sê die Here:
“Op die regte oomblik
sal Ek jou antwoord.
Op die dag wat Ek red,
sal Ek jou help.
Ek sal jou bewaar
en jou maak
tot ’n verbond
met my volk
om sy land te herstel
en die verlate eiendom
weer terug te kry
9om aan die gevangenes te sê:
‘Kom uit!’
en aan hulle in duisternis:
‘Wees vry!’
Hulle sal my kudde wees
wat in groen weivelde wei,
selfs op heuwels
wat voorheen kaal was.
10Hulle sal nie meer honger
of dors wees nie.
Die warm son
en die droë woestynwinde
sal niks aan hulle doen nie.
Hy wat vir hulle omgee,
sal vir hulle sorg
en hulle lei
na koel fonteine.
11Al my berge
maak Ek paaie.
My hoofweë
sal Ek vir hulle gelykmaak.
12My volk kom terug van ver af,
sommige uit die noorde,
ander uit die weste,
nog ander so ver as Egipte#49:12 Grondteks van die streke van Sinim. Hier soos in Dooie See-rolle..”
13Sing van vreugde, hemel!
Aarde, wees bly!
Berge, juig met ’n vrolike lied!
Want die Here
het sy volk getroos.
Hy sal Hom ontferm oor hulle
wat in ellende is.
14Tog het Sion gesê:
“Die Here het my verlaat.
Die Here het my vergeet.”
15“Kan ’n ma die baba vergeet
wat aan haar bors drink?
Kan sy geen medelye hê
met die kind
wat sy in die wêreld
gebring het nie?
Selfs al sou dit
tog moontlik wees,
Ék sal jou nie vergeet nie!
16Kyk, Ek het jou naam
in my hand gegraveer.
Die mure van Jerusalem
wat afgebreek is,
is altyd voor My.
17Baie gou sal jou nageslag
hulle terughaas,
maar hulle wat jou verwoes het,
sal wegvlug.
18Kyk rondom jou.
Al jou kinders sal terugkom
na jou toe.
So seker as Ek lewe,”
sê die Here,
“jy sal hulle dra soos juwele,
soos ’n bruid haar juwele aansit.
19“Jy is nou net ’n ruïne
en jou land verlate,
maar dan sal jy te klein wees
om al die inwoners te huisves,
en dié wat jou wou vernietig,
sal ver weg wees.
20Die geslag in ballingskap
gebore,
sal terugkom en sê:
‘Ons het meer plek nodig!
Maak vir ons meer plek
om in te woon!’
21Dan sal jy by jouself dink:
‘Wie het al hierdie kinders
vir my gegee?
Ek was kinderloos
en onvrugbaar.
Ek was ’n balling
en verstoot.
Maar wie het hierdie kinders
grootgemaak?
Ek alleen het oorgebly,
maar waar kom hulle
nou vandaan?’”
22So sê die oppermagtige Here:
“Ek steek my hand op
en gee ’n teken
aan die nasies.
Dan sal hulle jou seuns
terugdra in hulle arms.
Hulle sal jou dogters
op hulle skouers dra.
23Konings sal pleegvaders
van jou kinders wees.
En koninginne
hulle pleegmoeders.
Hulle sal diep voor jou buig
en die stof
van jou skoene aflek.
Dan sal jy weet dat Ek
die Here is.
Wie sy hoop op My stel,
sal nie teleurgestel word nie.”
24Kan die buit van ’n soldaat
uit sy hande gesteel word,
of ’n gevangene uit die bewaking
van ’n betroubare persoon?
25So sê die Here:
“Die gevangene gaan bevry word
en die buit gaan afgeneem word.
Want Ek is ’n vyand van jou vyand,
en Ek sal jou kinders red.
26Ek sal jou vyande
hulle eie vleis laat eet.
Hulle sal dronk word
van hulle eie bloed
soos van wyn.
Die hele wêreld sal weet:
Ek is die Here,
jou Redder en jou Verlosser,
die Magtige van Jakob.”

Currently Selected:

JESAJA 49: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy