YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 14

14
Babilon se koning gespot
1Die Here sal genade bewys aan die kinders van Jakob. Israel sal steeds sy volk wees. Hy sal hulle terugbring en weer laat bly in hulle eie land. Vreemde mense van baie verskillende nasies sal kom en deel word van die volk Israel#14:1 Grondteks die huis van Jakob.. 2Die volke van die wêreld sal die Here se volk help om terug te kom, en die mense wat in hulle land kom woon, sal hulle dien. Dié wat Israel gevang het, sal gevang word en Israel sal oor sy vyande regeer.
3Op daardie wonderlike dag as die Here sy volk laat rus van lyding, verwarring en wrede slawerny, 4sal jy die koning van Babel spot.
Jy sal sê:
“Die magtige is vernietig.
Ja, sy astrantheid
het opgehou.
5Want die Here het
jou bose mag verpletter
en jou regering laat val.
6Jy het mense vervolg
en hulle aanhou slaan
sonder om op te hou.
In jou woede
het jy nasies onderwerp
met genadelose aggressie.
7Nou is die hele aarde rustig en stil.
Die mense kan weer sing.
8Selfs die bome van die bos,
die sipresse en seders
van Libanonberg,
sing hierdie vreugdevolle lied:
‘Jou mag is gebreek!
Niemand gaan weer kom
en ons afkap nie!’
9“In die doderyk#14:9 Grondteks Sjeool, wat na die onderwêreld van die dooies verwys.
is daar opwinding
oor jou aankoms.
Die dooies, ook wêreldleiers
en magtige heersers
staan op om jou te verwelkom.
10Hulle roep almal
met een stem uit:
‘Nou is jy net so swak soos ons.
Jy het net soos ons geword!
11Jou mag en krag het verdwyn.
Dis saam met jou begrawe.
Die vrolike musiek in jou paleis
het opgehou.
Die bed onder jou is maaiers,
jy maak jou toe met wurms.’
12“Hoe het jy
uit die hemel geval,
blink ster, seun van die môre!
Jy is op die aarde neergegooi,
jy wat die nasies van die wêreld
verpletter het.
13Jy het mos vir jouself gesê:
‘Ek sal na die hemel toe opklim
en my troon bo God se sterre
neersit.
Ek sal regeer
op die godeberg
ver in die noorde.
14Ek sal opklim tot in die
hoogste hemele.
Soos die Allerhoogste
sal ek word.’
15Maar in plaas daarvan
sal jy in die doderyk beland,
in sy diepste deel.
16Almal daar sal jou aangaap
en vra:
‘Kan dit die man wees
wat die aarde met sy koninkryke
geskud het?
17Is dit die man
wat die wêreld
in ’n woestyn
verander het?
Is dit die koning
wat die wêreld
se grootste stede platgevee het
en geen genade
vir sy gevangenes
gehad het nie?’
18“Al die konings van die nasies
is met eer begrawe,
elkeen in sy eie graf.
19Maar jou lyk
word in die graf gegooi
soos ’n boomtak
wat klaar verrot is.
Jy lê in ’n massagraf
saam met die lyke
van dié wat in die oorlog dood is.
Soos ’n lyk wat vertrap word,
20sal jy nie ’n behoorlike begrafnis
kry nie.
Want jy het jou eie volk verwoes
en jou eie mense geslag.
Mag jou seun jou nie
as koning opvolg nie!
21Maak hierdie booswig
se kinders dood
sodat hulle nie opstaan
en die land beset
of die stede van die wêreld
herbou nie!”
22So sê die Here,
die Almagtige:
“Ek self het teen hom
opgestaan!
Ek sal sy kinders
en kleinkinders doodmaak,
sodat hulle nooit
op Babilon se troon sit nie.
23Ek maak Babilon verlate,
’n land vir ystervarke,
vol moerasse en vleie.
Met ’n besem van vernietiging
vee Ek die land uit.
Ek, die Here, die Almagtige,
het so gesê!”
’n Boodskap oor Assirië
24Die Here, die Almagtige,
het gesweer:
“Dit sal gebeur
soos Ek dit beplan het,
volgens my doel.
25Ek sal die Assiriërs vertrap
wanneer hulle in my land is.
Ek sal hulle op my berge
verpletter.
My volk sal nie langer
hulle slawe wees nie.
26“Ek het ’n plan
vir die hele wêreld,
want my mag geld
oor alle nasies.
27Die Here, die Almagtige,
het besluit,
en wie sal sy planne
kan verander?
Wanneer sy hand beweeg,
wie kan dit terugbring?”
’n Boodskap oor die Filistyne
28Hierdie boodskap het ek gekry in die jaar wat koning Agas dood is:
29Julle Filistyne,
moenie bly word
omdat die koning
wat julle aangeval het,
dood is nie.
Want al is die sweep stukkend,
sal sy seun erger wees
as wat sy pa ooit was.
Uit daardie slang
sal ’n giftige slang kom,
’n vlieënde draak
wat julle sal verbrand.
30Ek sal die armes
op my weiveld laat wei.
Die mense met nood
sal veilig gaan lê.
Maar julle,
julle sal in ’n hongersnood
uitgewis word.
Die bietjie wat oorbly,
sal Ek vernietig.
31Huil, julle Filistynse stede,
want julle is verdoem!
Smelt inmekaar van vrees,
want julle gaan vernietig word!
’n Magtige leër
kom uit die noorde.
Nie een soldaat deins terug
vir die geveg nie.
32Wat moet ons die boodskappers
van die vyand antwoord?
Sê vir hulle
die Here het Jerusalem#14:32 Grondteks Sion. gebou,
en Hy sal die armes onder sy volk
daar beskerm.

Currently Selected:

JESAJA 14: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy