YouVersion Logo
Search Icon

HEBREËRS 13

13
Aansporing om as Christene te lewe
1Julle moet mekaar steeds met ware broederliefde liefhê. 2Moenie nalaat om gasvry te wees nie. Deur gasvry te wees het party mense, sonder dat hulle dit besef, selfs engele tuis ontvang! 3Moenie hulle wat in die tronk is, vergeet nie. Ly saam met hulle asof julle self daar sit. Deel in die seer van hulle wat mishandel word asof julle dit aan julle eie liggaam voel.
4Respekteer die huwelik in alle omstandighede. Wees getrou aan julle huweliksmaats. God sal almal wat immoreel lewe en in die huwelik ontrou is, in die oordeel bring.
5Hou julle lewe vry van die honger na geld. Laat wat julle het, vir julle genoeg wees. Onthou dat God die versekering gegee het: “Ek sal jou nie los nie. Ek sal jou nie in die steek laat nie.”#13:5 Deut 31:6, 8.
6Daarom kan ons moed skep en antwoord:
“Die Here is my hulp;
daarom sal ek
nie bang wees nie.
Wat kan ’n blote mens
my aandoen?”#13:6 Ps 118:6.
7Onthou julle voorgangers wat die woord van God aan julle verkondig het. Dink aan watter voorbeeldige lewe hulle enduit gelei het en vertrou soos hulle op God.
8Jesus Christus bly steeds dieselfde – gister, vandag en vir altyd! 9Pas op dat julle nie meegesleur word deur die bekoring van allerlei vreemde idees nie. Dit is goed om deur God se genade#13:9, 25 Of onverdiende goedheid. versterk te word en nie deur die nakoming van kosvoorskrifte, wat in elk geval vir dié wat dit nagekom het, niks gebaat het nie. 10Ons het ’n altaar om van te eet; dis ’n altaar waarvan die priesters in die aardse verbondstent nie die reg het om te eet nie.
11Die hoofpriester bring die bloed van die offerdiere in die Allerheiligste in om as ’n offer vir die sonde te dien, maar hulle karkasse word buitekant die laer verbrand. 12Daarom het Jesus ook buitekant die stadspoort gely om sy volk met sy eie bloed aan God toe te wy#13:12 Grondteks te heilig.. 13Kom ons gaan dan uit na Hom toe buitekant die laer en ons dra saam aan die smaad wat Hy moes verduur. 14Want ons het hier geen blywende stad nie; ons hunker na die komende stad van God.
15Kom ons bring dan, met Jesus Christus se hulp, ’n voortdurende offer van lofprysing aan God – ’n offer wat opklink van die lippe van hulle wat Hom bely. 16Moenie versuim om goed te doen en wat julle het met mense in nood te deel nie. Dit is hierdie soort offers wat God se hart bly maak#13:16 Grondteks behaag.. 17Luister na julle voorgangers en doen wat hulle aan julle opdra. Hulle taak is om te waak oor julle geestelike lewe#13:17 Grondteks siele., want hulle moet aan God verslag doen. Help hulle om dit met blydskap te kan doen en nie met ’n beswaarde gemoed nie. Dít sal sekerlik vir julle geen voordeel inhou nie.
Slotopmerkings
18Bid vir ons. Ons glo dat ons gewete skoon is, want ons probeer om in alle omstandighede reg op te tree. 19Ek vra veral dringend dat julle sal bid dat God my binnekort aan julle sal terugbesorg.
20Mag die God wat vrede gee, wat Jesus ons Here uit die dood teruggebring het – Jesus wat deur die bloed van die ewige verbond die Herder van die kudde geword het – 21julle toerus met alles wat goed is sodat julle sy wil kan uitvoer. Mag Hy, deur Jesus Christus se bemagtiging, in ons tot stand bring wat God se hart sal bly maak. Aan Hom kom die heerlikheid toe vir altyd en altyd! Amen.
22Ek vra julle mooi, broers en susters#13:22 Grondteks broers., luister geduldig na hierdie woord van aansporing. Ek het ook maar heel bondig aan julle geskryf.
23Julle weet dat ons broer Timoteus vrygelaat is. As hy binnekort hier by my opdaag, bring ek hom saam wanneer ek na julle toe kom#13:23 Grondteks julle sal sien..
24Gee my groete aan al julle voorgangers en aan al God se mense#13:24 Grondteks heiliges.. Die gelowiges uit Italië stuur vir julle groete.
25Mag God se genade#13:9, 25 Of onverdiende goedheid. met julle almal wees.

Currently Selected:

HEBREËRS 13: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy