YouVersion Logo
Search Icon

HEBREËRS 10

10
Christus se offer oortref dié van die ou verbond
1Die offerstelsel onder die wet van Moses is maar net ’n skadubeeld van die goeie dinge wat sou kom, nie ’n lewensgetroue weergawe daarvan nie. Die offers onder die ou stelsel is oor en oor herhaal, van jaar tot jaar, maar hulle kon dié wat hulle gebring het, nooit heeltemal reinig#10:1 Of skoonmaak. nie. 2As die offers dit wel gedoen het, sou dié wat kom aanbid het, nadat hulle een maal gereinig is, geen skuldgevoelens meer oorgehou het nie en sou hulle mos opgehou het om offers te bring.
3Maar nou gebeur net die teenoorgestelde. Hierdie jaarlikse offers herinner hulle juis jaar na jaar aan hulle sondes, 4want die bloed van bulle en bokke kan onmoontlik die sondes wegneem.
5Daarom het Christus, toe Hy hierdie wêreld ingekom het, verklaar:
“Diere- of graanoffers is nie
wat U wou hê nie,
maar die liggaam wat U
vir My voorberei het.
6U was nie tevrede met brandoffers
of sonde-offers nie.
7Toe het Ek gesê: ‘Kyk, Ek het
gekom, o God,
om u wil uit te voer –
so staan dit van My
in die Skrif#10:7 Grondteks in die boekrol. geskryf.’”#10:5-7 Ps 40:7-9.
8Eers sê Hy: “Diere- of graanoffers of brandoffers of sonde-offers wou U nie hê nie en stel U nie tevrede nie” – alhoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. 9Daarna sê Hy: “Kyk, Ek het gekom om u wil uit te voer.” Hy skaf dus die eerste reëling af om dit met ’n tweede een te vervang. 10Omdat God dit so wou hê, is ons geheilig#10:10 Of aan Hom gewy. deur Jesus se liggaam wat eens en vir altyd vir ons geoffer is.
11Onder die ou verbond staan elke priester dag vir dag op diens en bring hy oor en oor dieselfde offers wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. 12Maar ons Hoofpriester het vir die sondes net een offer vir alle tye gebring en daarna op die ereplek aan die regterhand van God gaan sit.#10:12 Vgl Ps 110:1. 13Nou wag Hy daar totdat God sy vyande volledig aan Hom onderwerp het. 14Deur sy een offer het Hy al sy mense vir altyd volmaak geheilig. 15Die Heilige Gees bevestig dit vir ons wanneer Hy in die eerste plek verklaar:
16“Dít is nou die verbond
wat Ek hierna met die volk Israel
gaan sluit, verklaar die Here:
Ek sal my opdragte inskryf
in hulle harte
en Ek sal dit
in hulle verstand graveer.”#10:16 Jer 31:33.
17Dan voeg Hy daarby:
“Ek sal aan hulle sondes
en hulle oortredings
nooit weer dink nie.”#10:17 Jer 31:34.
18Inderdaad, waar sondevergifnis ’n werklikheid is, is geen verdere offer vir die sonde nodig nie.
Kom ons hou vas aan wat ons Hoofpriester vir ons verwerf het
19Broers en susters#10:19 Grondteks Broers., ons het dus nou deur die bloed van Jesus volle vrymoedigheid om in die hemelse heiligdom in te gaan. 20Hy het hierdie nuwe, lewegewende pad wat deur die binneste voorhangsel tot by God gaan, vir ons oopgemaak deur vir ons te sterf#10:20 Grondteks deur sy liggaam.. 21Wat meer is, ons het ’n groot priester wat toesig hou oor die huis van God. 22Kom ons gaan dan die heiligdom binne, ja tot voor God, met ’n opregte hart en absolute vertroue, terwyl ons harte deur besprinkeling gesuiwer is van ’n skuldige gewete en ons liggame gewas is met skoon water.
23Kom ons hou ook styf vas aan die hoop wat ons bely, want ons kan op God staatmaak; Hy sal doen wat Hy beloof het. 24Laat ons voortdurend aandag gee aan mekaar – oor hoe ons mekaar kan aanspoor tot liefde en goeie dade. 25En laat ons tog nie – soos party gemeentelede die gewoonte het – versuim om die gemeentebyeenkomste by te woon nie. Kom ons moedig mekaar aan, nog meer omdat ons sien dat die dag van Christus se koms al hoe nader kom.
26As ons opsetlik bly sonde doen nadat ons die volle waarheid leer ken het, bly daar geen offer vir die sondes oor nie. 27Al wat oorbly, is die vreeslike vooruitsig van God se oordeel, ja ’n gloeiende vuur wat God se vyande gaan verteer. 28Enige persoon wat die wet van Moses verbreek het, is op die getuienis van twee of drie mense sonder enige begenadiging doodgemaak. 29Dink net hoeveel swaarder sal die straf van daardie mense wees wat die Seun van God onder hulle voete vertrap en die verbondsbloed wat hulle geheilig het, met minagting bejeën en die Gees van genade#10:29 Of onverdiende goedheid. beledig het. 30Ons ken tog die Een wat gesê het:
“Ék sal die straf voltrek,
Ek sal die kwaad vergeld.”#10:30a Deut 32:35.
En verder:
“Die Here sal oor sy volk oordeel.”#10:30b Deut 32:36.
31Hoe verskriklik is dit om in die hande van die lewende God te val.
Hou aan volhard in die geloof
32Dink terug aan die mooi tye van vroeër toe God se lig vir die eerste keer in julle lewens geskyn het. Onthou hoe julle ten spyte van al die opoffering en lyding volhard het. 33Party van julle was blootgestel aan openbare bespotting#10:33 Of julle was uitgestal asof in ’n amfiteater.; ander weer het hulle vereenselwig met dié wat so behandel is. 34Julle het saam gely met hulle wat in die gevangenis was en toe hulle julle van julle besittings beroof het, het julle dit met blymoedigheid aanvaar omdat julle geweet het dat julle ’n beter en permanente besitting het.
35Moenie hierdie vertroue in God deur julle vingers laat glip nie. Dit hou vir julle ’n groot beloning in. 36Wat julle nodig het, is om te volhard sodat julle kan voortgaan om God se wil te gehoorsaam. Dan sal julle ontvang wat God beloof het.
37Nog net, soos die Skrif sê,
“’n baie kort tydjie,
en Hy wat op pad is, sal kom.
Hy sal nie talm nie.
38Dié mense wat my wil doen,
sal uit die geloof lewe.
Maar dié wie se moed
hulle begewe –
van hulle wil Ek niks weet nie.”#10:37-38 Hab 2:3-4.
39Ons is egter nie mense wat ons tot ons eie ondergang laat afskrik nie. Nee, ons vertrou op God en daardeur sal ons lewe.

Currently Selected:

HEBREËRS 10: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy