YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 6

6
Die verval van die mensdom
1Mettertyd het die mense op die aarde baie vermeerder. Daar is ook dogters vir hulle gebore. 2Die godeseuns het opgemerk hoe mooi die dogters van die mense was. Hulle het van hulle as vroue gekies. 3Toe sê die Here: “My gees sal nie vir altyd in die mensdom wees nie, want hulle is sterflik. Voortaan sal hulle leeftyd hoogstens 120 jaar wees.”
4In daardie tyd en ook daarna, was daar reuse op die aarde, want telkens wanneer die godeseuns gemeenskap met die vroue uit die menslike geslag gehad het, is kinders gebore wat helde geword het en wat in die ou legendes vermeld word.
5Die Here het die omvang van die boosheid van die mensdom op aarde raakgesien. Hy het opgemerk dat hulle gedagtes gedurig sleg was. 6Die Here was spyt#6:6, 7 Spyt druk hier God se droefheid uit. dat Hy die mens op die aarde gemaak het. Dit het Hom diep bedroef. 7Daarom sê die Here: “Ek sal die mensheid wat Ek gemaak het heeltemal uitwis van die aarde. Saam met hulle sal Ek ook al die diere, klein en groot, asook die voëls vernietig, want Ek is spyt#6:6, 7 Spyt druk hier God se droefheid uit. dat Ek hulle gemaak het.” 8Maar die Here was Noag goedgesind.
Die opdrag aan Noag
9Wat volg, is die geskiedenis van Noag. Noag was ’n opregte man, die enigste onberispelike persoon in daardie tyd. Hy het God se wil deurgaans uitgeleef en ’n noue verhouding met Hom gehad. 10Noag het drie seuns gehad, naamlik Sem, Gam en Jafet.
11Teen hierdie tyd was die aarde volgens die oordeel van God korrup en vol geweld. 12God het al hierdie korrupsie in die wêreld gesien. Oral waar Hy gekyk het, was daar geweld en bederf.
13Daarop sê God vir Noag: “Ek het besluit om alle lewende wesens te vernietig, want dis as gevolg van hulle dat die aarde vol geweld is. Ek gaan hulle almal verseker tot niet maak. 14Jy moet ’n groot ark van goferhout maak met verskillende vertrekke binne-in. Verseël dit binne en buite met teer. 15Dit moet 135 meter lank, 22,5 meter breed en 13,5 meter hoog wees.#6:15 Grondteks 300 el lank, 50 el breed en 30 el hoog. 16Voorsien dit van ’n dak waarvan die nok 45 sentimeter#6:16 Grondteks een el. hoog is. Dit moet drie verdiepings hê en ’n deur aan die kant.
17“Let op! Ek gaan vloedwaters oor die aarde laat kom wat elke lewende wese onder die son sal uitwis. Alles op aarde sal doodgaan. 18Maar met jou sluit Ek ’n verbond. Jy, jou vrou, jou seuns en hulle vroue moet ingaan in die ark. 19Van elke soort dier moet jy ’n paar – ’n mannetjie en ’n wyfie – in die ark besorg sodat hulle saam met jou die vloed kan oorleef. 20Twee van elke soort voël en dier, klein en groot, sal na jou toe kom. Jy moet hulle in die ark aan die lewe hou. 21Maak seker dat jy genoeg kos inlaai vir jou gesin en vir al die diere.”
22Noag het presies gemaak soos God hom beveel het.

Currently Selected:

GENESIS 6: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy