GENESIS 48
NLV
48
Jakob seën Manasse en Efraim
1Kort hierna hoor Josef dat sy pa vinnig agteruitgaan. Hy het hom besoek en sy twee seuns, Manasse en Efraim, saamgeneem. 2Toe Jakob hoor dat Josef daar aangekom het, gebruik hy al sy kragte om regop in die bed te sit.
3Jakob sê vir Josef: “God die Allerhoogste het in Lus in die land Kanaän aan my verskyn en my geseën. 4Hy het vir my gesê: ‘Ek sal jou vrugbaar maak en jou nageslag tot baie nasies maak. Hierdie land Kanaän gee Ek vir jou en jou nageslag as eiendom vir altyd.’ 5Jou twee seuns, Manasse en Efraim wat in Egipte gebore is voor ek hier gekom het, neem ek aan as my eie. Hulle sal net soos Ruben en Simeon my seuns wees. 6Enige kinders wat jy na hulle sal hê, sal saam met Manasse en Efraim erf. 7Op pad terug van Paddan-Aram het Ragel in die land Kanaän gesterf. Ons was toe nog op pad, kort by Efrata (dit is Betlehem). Ek het haar toe met groot verdriet daar langs die pad na Efrata begrawe.”
8Jakob kyk toe na die twee seuns en vra: “Is dit jou twee seuns?”
9“Ja,” antwoord Josef. “Dit is die seuns wat God my hier in Egipte gegee het.”
Jakob sê vir hom: “Bring hulle hier na my toe. Ek wil hulle seën.”
10Weens sy ouderdom kon Jakob nie meer so goed sien nie. Josef bring toe die twee nader. Jakob het hulle gesoen en omhels. 11Jakob sê toe vir Josef: “Ek het nie gedink ek sou jou ooit weer sien nie, maar nou het God selfs toegelaat dat ek jou kinders ook kan sien.”
12Josef tel toe die seuns af van hulle oupa se skoot af en buig laag voor hom. 13Josef het albei sy seuns voor Jakob laat staan, Efraim aan sy regterhand, aan Jakob se linkerkant en Manasse aan sy linkerhand, aan Jakob se regterkant. 14Maar Jakob het sy arms oorkruis gehou toe hy sy hande op die koppe van die seuns sit. Sy regterhand was dus op die kop van die jonger seun Efraim, en sy linkerhand op die kop van die oudste een Manasse.
15Toe seën hy vir Josef en sê: “Mag God, die God voor wie my oupa Abraham en my pa, Isak, geleef het, die God wat my versorg het my lewe lank tot vandag toe, 16en die Engel wat my uit alle gevaar gered het, mag Hy hierdie twee seuns seën. Mag Hy sorg dat my naam en die name van my oupa Abraham en my pa, Isak, in hulle voortleef. En mag hulle ’n groot nasie word.”
17Maar Josef het gesien dat sy pa sy regterhand op Efraim se kop gesit het en gedink dit is ’n fout. Daarom tel hy Jakob se hand op om dit op Manasse se kop te sit. 18“Nie so nie, Pa,” sê Josef. “Hy is die oudste. Sit u regterhand op sý kop.”
19Maar sy pa het geweier. “Ek weet, my seun, ek weet,” sê hy. “Manasse sal ook ’n groot nasie word, maar sy jonger broer sal selfs magtiger wees as hy. Sy nageslag sal ’n magtige nasie word!” 20Jakob het toe dié dag die seuns geseën met die woorde: “Die Israeliete sal julle name gebruik om mekaar seën toe te wens. Hulle sal sê: ‘Mag God jou so voorspoedig maak soos vir Efraim en vir Manasse.’” So het Jakob vir Efraim bo Manasse gestel.
21Toe sê Jakob vir Josef: “Ek is op die punt om te sterf, maar God sal met julle wees. Hy sal julle terugbring Kanaän toe, na die land van ons voorouers. 22Vir jou laat ek iets meer na as vir jou broers, naamlik die stuk grond van Sigem wat ek met my eie swaard en pyl en boog van die Amoriete verower het.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling