GENESIS 43
NLV
43
Josef se broers keer terug na
Egipte
1Daar was geen verligting van die vreeslike hongersnood wat in die gebied geheers het nie. 2Toe die graan wat hulle van Egipte af gebring het, begin opraak, het Jakob vir sy seuns gesê: “Gaan terug en koop weer vir ons ’n bietjie kos.”
3Maar Juda sê: “Pa, die man het ons ernstig gewaarsku: ‘Ek wil julle nie weer sien as julle broer nie saamkom nie.’ 4As u instem dat ons broer saam met ons gaan, sal ons die kos kan gaan koop. 5Maar as hy nie mag saamgaan nie, gaan ons nie, want die man het uitdruklik gesê: ‘Ek wil julle nie sien as julle broer nie saamkom nie.’”
6Baie ontsteld het Jakob geantwoord: “Hoekom het julle hierdie moeilikheid oor my gebring? Hoekom het julle die man vertel dat julle nog ’n ander broer het?”
7Hulle antwoord hom: “Die man het spesifiek uitgevra oor ons familie. Hy het gevra: ‘Leef julle pa nog? Het julle nog ’n broer?’ Hoe moes ons geweet het hy sou sê: ‘Bring julle broer hiernatoe’? Ons het maar net sy vrae beantwoord.”
8Juda sê toe vir sy pa: “Stuur tog maar die seun saam met my dat ons kan vertrek sodat ons kan bly lewe en nie doodgaan nie. Dit raak almal van ons, ook Pa en ons klein kindertjies. 9Ek sal persoonlik instaan vir sy veiligheid. As ek hom nie terugbring nie, sal ek vir altyd skuldig wees teenoor Pa. 10Ons kon nou al twee keer weg en terug gewees het as dit nie was dat Pa hom teruggehou het nie.”
11Uiteindelik het Jakob toegegee: “As dit nie anders kan nie, gaan dan maar. Julle moet julle sakke vol maak met die beste wat ons land het en neem vir die man ’n geskenk: ’n bietjie balsem, ’n bietjie heuning, gom, hars, neute en amandels. 12Neem dubbel die hoeveelheid geld, asook die geld wat in julle sakke gekry is. Dalk het iemand ’n fout gemaak. 13Vat nou julle broer en gaan terug na die man toe. 14Mag God Almagtig julle genadig wees wanneer julle by die man aankom en mag hy Simeon vrylaat en Benjamin terugstuur. As ek dan van kinders beroof moet word, moet ek maar beroof word.”
15Die mans vat toe die geskenke, dubbel die hoeveelheid geld én vir Benjamin en gaan Egipte toe en meld hulle by Josef aan. 16Toe Josef sien dat Benjamin by hulle is, sê hy vir die bestuurder van sy huishouding: “Vat die manne na my huis toe en berei ’n feesmaal voor sodat hulle middagete by my kan geniet.”
17Die man het so gemaak en hulle na Josef se paleis toe geneem. 18Toe hulle sien waarheen hulle geneem word, het hulle baie bang geword. “Dis oor die geld wat die vorige keer in ons sakke teruggesit is,” sê hulle. “Hy wil ons oorweldig, ons sy slawe maak en ons donkies vat.”
Josef onthaal sy broers by sy
paleis
19Toe die broers by die ingang na die paleis kom, gaan hulle na die bestuurder van Josef se huishouding. 20Hulle sê vir hom: “Meneer, toe ons laas keer Egipte toe gekom het, 21het ons op pad huis toe vir die nag uitgespan. Toe ons ons sakke oopmaak, kry ons daar die presiese bedrag geld wat ons vir die graan betaal het. Hier is dit. Ons het dit teruggebring. 22Ons het ook nog ander geld gebring om weer graan te koop. Maar ons het geen idee hoe die geld in ons sakke beland het nie.”
23“Ontspan! Moenie julle daaroor bekommer nie,” sê die bestuurder vir hulle. “Julle God, die God van julle voorouers, moes dit teruggesit het. Ons het mos julle betaling gekry.”
Toe het hy Simeon na hulle toe gebring.
24Daarna het die bestuurder hulle in Josef se paleis ingevat en vir hulle water gegee om hulle voete te was. Hy het ook voer vir hulle donkies gegee. 25Hulle het gehoor dat hulle die middag daar sou eet en het die geskenke gereed gekry om dit vir Josef te gee.
26Toe Josef inkom, gee hulle hom die geskenke en buig laag voor hom. 27Hy vra hoe dit met hulle gaan en voeg by: “En hoe gaan dit met julle pa, die ou man van wie julle gepraat het? Lewe hy nog?”
28“Ja,” antwoord hulle. “U dienaar, ons pa, leef nog en dit gaan goed met hom.” Hulle buig toe weer voor hom.
29Toe hy opkyk, sien hy sy bloedbroer Benjamin raak. Hy vra toe: “Is dit julle jongste broer, die een van wie julle gepraat het? Mag God jou seën, my seun.” 30Toe kon hy sy trane oor Benjamin nie meer bedwing nie en het haastig die vertrek verlaat. Hy het na ’n aparte vertrek gegaan om daar te gaan huil. 31Nadat hy sy gesig gewas het, het hy teruggekom. Met sy emosies nou onder beheer, het hy beveel: “Bring die kos!”
32Josef het eenkant gesit, sy broers by ’n ander tafel en die ander Egiptenaars ook apart. Egiptenaars het nie saam met Hebreërs geëet nie. Dit was vir hulle ’n skande. 33Josef het vir sy broers hulle plekke aangewys. Tot hulle verbasing was dit in volgorde van hulle ouderdomme, van die oudste tot die jongste. 34Hulle kos is vanaf Josef se tafel bedien. Die grootste porsie het hy aan Benjamin gegee. Dit was vyf keer groter as dié van die ander. Hulle het toe saam met Josef wyn gedrink en daarvan vrolik geword.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling