Parallel
42
Josef se broers gaan na Egipte
toe
1Jakob het gehoor dat daar in Egipte graan te koop was. Hy sê toe vir sy seuns: “Hoekom staan en kyk julle vir mekaar? 2Ek het gehoor daar is graan in Egipte. Gaan soontoe en koop vir ons daarvan sodat ons kan oorleef, anders sal ons van die honger doodgaan.” 3Josef se tien oudste broers het toe na Egipte vertrek om daar graan te gaan koop. 4Jakob het geweier dat Josef se jonger broer, Benjamin, saamgaan omdat hy bang was hy kom iets oor. 5Jakob se seuns het saam met ander mense in Egipte aangekom om kos te koop omdat die hongersnood ook Kanaän getref het.
6Josef was in beheer van die hele Egipte. Hy het ook die graanverkope behartig. Daarom het sy broers na hom toe gegaan. Hulle het diep voor hom gebuig. 7Josef het hulle dadelik herken, maar hom as ’n vreemdeling voorgedoen. “Van waar is julle?” het hy kortaf gevra.
“Van die land Kanaän,” antwoord hulle. “Ons het gekom om graan te koop.”
8Josef het hulle wel herken, maar hulle het hom nie herken nie. 9Dit het hom dadelik laat dink aan die drome van jare gelede. Hy sê vir hulle: “Julle is spioene! Julle het kom kyk waar ons land kwesbaar is.”
10“Nee, Meneer, ons is u dienaars!” sê hulle. “Ons het maar net gekom om kos te koop. 11Ons is almal broers en eerlike mense, Meneer! Ons is nie spioene nie!”
12“Nee, julle is!” hou Josef vol. “Julle het gekom om te kyk waar die land ingeval kan word.”
13“Meneer,” sê hulle, “ons was twaalf broers, seuns van een pa wat in die land Kanaän woon. Ons jongste broer is daar by ons pa, maar een van ons broers leef nie meer nie.”
14Maar Josef hou steeds vol: “Nee, julle ís spioene! 15Kyk, ek sal julle storie toets. So waar as Farao leef, julle sal Egipte nie verlaat voordat julle jongste broer hierheen gekom het nie. 16Een van julle moet julle broer gaan haal. Ek sal die ander hier in die tronk aanhou. Dan sal ek kan vasstel of julle storie waar is of nie. As dit blyk dat julle nie ’n jonger broer het nie, sal ek weet julle is spioene.”
17Toe stuur hy hulle almal vir drie dae tronk toe. 18Op die derde dag sê Josef vir hulle: “Ek dien God. As julle maak soos ek sê, sal julle lewe. 19As julle werklik eerlike mense is, sal een van julle in die tronk agterbly. Die ander kan egter huis toe gaan met die kos vir julle gesinne. 20Maar julle moet julle jongste broer volgende keer saambring. So sal ek weet of julle die waarheid praat. As julle dit doen, sal ek julle lewens spaar.” Hulle het dié reëling aanvaar.
21Die broers het toe onder mekaar gepraat: “Dit het alles gebeur oor wat ons lank gelede aan Josef gedoen het. Ons het sy angs en benoudheid gesien en gehoor hoe hy gesmeek het, maar ons het ons doof gehou. Dis hoekom hierdie moeilikheid nou oor ons kom.”
22“Het ek nie vir julle gesê om dit nie te doen nie?” sê Ruben. “Maar julle wou mos nie luister nie. Nou gaan ons almal sterf omdat ons hom vermoor het.”
23Hulle het natuurlik nie geweet Josef verstaan alles wat hulle gesê het nie, want hy het deur ’n tolk met hulle gepraat. 24Josef het dadelik omgedraai weg van hulle af, want hy kon nie sy trane bedwing nie. Hy het weer na hulle toe teruggegaan en voor hulle oë vir Simeon laat boei en tronk toe gestuur.
25Josef het opdrag gegee dat die broers se sakke vol graan gemaak word en dat die geld wat hulle betaal het bo-op in die sakke teruggesit word. Hy het ook vir hulle padkos vir die pad gegee. Dit is presies net so gedoen. 26Daarop het hulle die graan op die donkies gelaai en die tog terug huis toe aangepak.
27Toe een van hulle sy sak oopmaak om kos vir sy donkies uit te haal, kry hy sy geld bo in die sak. 28“Haai! Kom kyk hier!” skree hy vir sy broers. “My geld is hier bo-op in my sak!” Hulle het hulle doodgeskrik en vir mekaar gesê: “Wat het God met ons laat gebeur?” 29Toe hulle in die land Kanaän by Jakob, hulle pa, aankom, het hulle hom alles vertel wat gebeur het.
30“Die man in beheer van die land het bars met ons gepraat,” vertel hulle. “Hy het ons vir spioene aangesien, 31maar ons het gesê: ‘Ons is eerlike mense. Ons is nie spioene nie. 32Ons is twaalf broers, die seuns van een pa. Een van ons is dood en die jongste is by ons pa in die land Kanaän.’ 33Daarop sê die belangrike man vir ons: ‘Om te kan vasstel of julle eerlik is, moet een van julle hier by my agterbly. Neem nou die graan vir julle honger gesinne en gaan huis toe. 34Maar julle moet julle jongste broer saambring hier na my toe. Dan sal ek weet dat julle eerlik is en nie spioene nie. Ek sal dan julle broer uit die tronk vrylaat en julle mag vrylik rondbeweeg in die land.’”
35Hulle het die sakke oopgemaak en kyk! die geld wat elkeen vir die graan betaal het, lê bo in sy sak! Hulle en hulle pa was vreesbevange. 36Jakob het uitgeroep: “Julle beroof my van my kinders! Josef leef nie meer nie en Simeon is ook weg. Nou wil julle Benjamin ook wegneem. Alles is teen my!”
37Ruben sê toe vir sy pa: “Pa kan al twee my seuns doodmaak as ek Benjamin nie na Pa toe terugbring nie. Laat hom in my hande en ek sal hom aan Pa terugbesorg.”
38Maar Jakob sê: “My seun sal beslis nie met julle saamgaan nie. Sy broer Josef is nou al dood en hy is al een wat oor is van sy ma se kinders. As hy op die pad iets oorkom, sal julle my in my ouderdom met smart in die graf laat gaan.”