Parallel
41
Josef verklaar die farao se
drome
1Twee jaar later het die farao gedroom hy staan langs die Nylrivier. 2Hy sien hoe sewe mooi vet koeie uit die water kom en in die gras begin wei. 3Toe kom daar sewe ander koeie uit die water uit, maar hulle was lelik en baie maer. Hulle het by die vet koeie gaan staan. 4Die maer, lelike koeie vreet toe die sewe mooi vettes op! Toe het die farao wakker geskrik.
5Hy het weer aan die slaap geraak en nog ’n keer gedroom. Hierdie keer sien hy sewe mooi vol are aan een stingel. 6Daarna kom daar nog sewe are uit wat verskroei is deur die oostewind. 7Die maer are sluk toe die sewe vet are in! Die farao het toe weer wakker geskrik en besef dit was ’n droom.
8Die volgende oggend het die farao hom bekommer oor wat die drome sou beteken. Hy roep toe al die waarsêers en wyse manne van Egipte en vertel hulle van sy drome. Maar niemand kon die drome uitlê nie. 9Toe sê die hoof van die skinkers vir die farao: “Vandag word ek herinner aan die oortreding wat ek begaan het. 10’n Tyd gelede was u baie kwaad vir my en vir die hoof van die bakkers. U het ons toe in die tronk, in die huis van die hoof van die farao se lyfwag laat opsluit. 11Een nag het ek en die bakker elkeen ’n droom gehad, elkeen met sy eie betekenis. 12Ons het die drome vertel vir ’n Hebreeuse jong man wat in diens was van die hoof van Farao se lyfwag. Hy het dit vir ons uitgelê. 13Alles het net so gebeur soos hy gesê het: Ek is in my pos as hoofskinker herstel, en die hoof van die bakkers is opgehang.”
14Die farao het Josef dadelik laat roep. Hulle het hom haastig uit die tronk gehaal, hom geskeer en ander klere laat aantrek. Toe het hy voor die farao verskyn. 15“Ek het laas nag ’n droom gehad,” vertel die farao, “maar niemand kon dit vir my verklaar nie. Ek hoor jy kan drome uitlê.”
16“Nee, ek kan nie!” antwoord Josef. “Maar God kan die verklaring gee.”
17Die farao vertel toe wat hy gedroom het: “Ek het op die wal van die Nylrivier gestaan. 18Skielik kom daar sewe mooi vet koeie uit die water uit en begin tussen die riete wei. 19Maar toe kom daar ook sewe ander koeie uit die water uit. Hulle was baie maer en lelik – so lelik soos ek nog nooit in Egipte gesien nie! 20Hierdie maer en lelike koeie het toe sowaar die sewe mooi vettes opgevreet! 21Nadat hulle die ander ingesluk het, kon ’n mens dit nie sien nie, want hulle het nog net so sleg gelyk soos vantevore. Toe skrik ek wakker.
22“Daarna het ek nog ’n droom gehad. Hierdie keer was daar sewe are aan een stingel. Hulle was almal mooi en vol. 23Maar toe spruit daar nog sewe are uit. Hulle was droog en verskrompeld deur die oostewind. 24Die verskrompelde are sluk toe die sewe mooi are in. Ek het dit vir my waarsêers vertel, maar nie een van hulle kon my sê wat dit beteken nie.”
25“Albei die drome beteken dieselfde ding,” sê Josef vir die farao. “God het vir u vertel wat Hy van plan is om te doen. 26Die sewe vet koeie is sewe jaar en die sewe vol are dui ook op sewe jaar. Dit is een en dieselfde droom. 27Die sewe maer en lelike koeie en die sewe droë en verskrompelde are dui op sewe jaar van hongersnood. 28Dit is wat ek bedoel het toe ek gesê het God maak aan die farao bekend wat Hy gaan doen. 29Die volgende sewe jaar sal ’n tyd van groot voorspoed in Egipte wees. 30Daarna sal daar egter sewe jaar van hongersnood aanbreek. Dit sal só erg wees dat mense die voorspoed sal vergeet. Die hongersnood sal ’n groot ramp oor die land bring. 31Die hongersnood sal so erg wees dat die jare van voorspoed nie onthou sal word nie. 32Die feit dat die droom herhaal is, beteken dat die saak by God vasstaan en dat Hy dit spoedig sal doen.
33“My voorstel is dat u ’n wyse en verstandige persoon kry en hom aanstel oor die hele Egipte. 34Die farao moet dan beamptes oor die hele land aanstel sodat hulle een vyfde van die oeste gedurende die sewe voorspoedige jare kan invorder. 35Laat hulle al die kos en graan van hierdie goeie jare in koninklike skure stoor en daaroor toesig hou sodat daar kos sal wees in die verskillende stede. 36Op hierdie manier sal daar genoeg wees om te eet wanneer die sewe jaar van hongersnood aanbreek. Indien dit nie gedoen word nie, sal ’n ramp die land tref en al die mense sal omkom.”
Josef beheer die voorsorg in
Egipte
37Die farao en sy raadgewers was in hulle skik met Josef se voorstel. 38Die farao beraadslaag toe met sy amptenare: “Waar sal ons nog iemand kry soos hierdie man? Hy het verseker die gees van die gode in hom.” 39Hy draai hom toe na Josef toe en sê: “God het die betekenis van hierdie drome aan jou bekendgemaak. Niemand is ook nog so wys en verstandig soos jy nie! 40Ek stel jou aan oor die projek en oor die paleis. Jy sal oor al my onderdane gesag hê. Net ek sal meer mag as jy hê.”
41Die farao sê verder vir Josef: “Hiermee stel ek jou aan oor die hele Egipte.” 42Toe haal die farao sy seëlring af en steek dit aan Josef se vinger as teken van sy gesag. Hy het vir hom klere van fyn linne laat aantrek en ’n goue ketting om sy nek gehang. 43Die farao het ook sy tweede beste wa vir hom gegee. Oral waar hy gegaan het, het hulle voor hom uitgeroep: “Eer hom! Eer hom!” Op hierdie manier is Josef oor die hele Egipte aangestel. 44Die farao sê vir Josef: “Ek is die koning, maar niemand sal in die ganse Egipte ’n vinger verroer of ’n voet versit sonder jou goedkeuring nie.”
45Die farao het hom ’n nuwe naam, Safenat-Paneag, gegee. Hy het Asenat, die dogter van Poti-Fera, die priester van On, vir hom as vrou gegee. 46Josef was al 30 jaar oud toe hy in diens van die farao getree het. Daarna het Josef deur die hele Egipte gereis.
47Die land het in die daaropvolgende sewe jaar oorvloed rekord-oeste opgelewer. 48Josef het gedurende dié sewe jaar al die oeste van Egipte in graanskure opgegaar. Die opbrengste van die landerye is in die naaste stad van daardie omgewing gebêre. 49Na sewe jaar was die graanskure propvol. Daar was soveel graan soos die sand by die see sodat hy nie meer daarvan rekord kon hou nie.
50Gedurende hierdie tyd, voor die aanbreek van die eerste jare van hongersnood, het Josef se vrou, Asenat, die dogter van Poti-Fera, priester van On, twee seuns vir hom in die wêreld gebring. 51Josef het die oudste een Manasse genoem, want hy het gesê: “God het my al my swaarkry laat vergeet, en alles wat my familie teen my gedoen het.” 52Die tweede een het hy Efraim genoem, want hy het gesê: “God het my voorspoedig gemaak in die land van my swaarkry.”
53Die einde van die tydperk van voorspoed het aangebreek. 54Toe begin die tydperk van hongersnood, soos Josef gesê het. Hongersnood het in al die omliggende lande uitgebreek, maar in Egipte was daar genoeg graan in die skure. 55In Egipte het mense ook begin honger ly. Hulle pleit toe by die farao vir kos, maar hy het gesê: “Gaan na Josef toe en doen wat hy ook al vir julle sê.” 56Daar was hongersnood oor die hele wêreld. Josef het toe die skure oopgemaak en graan aan die Egiptenaars begin verkoop. 57Mense uit die omringende lande het ook by Josef kom graan koop omdat die hongersnood die hele wêreld getref het.