YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 39

39
Josef in Potifar se huis
1Die Ismaelitiese handelaars het vir Josef Egipte toe gebring. Daar het Potifar, ’n amptenaar van die farao en hoof van die lyfwag, hom by hulle gekoop.
2Die Here was met Josef sodat dit met hom goed gegaan het in die huis van sy Egiptiese meester. 3Toe Potifar dit raaksien en besef die Here is met Josef aangesien hy suksesvol was in alles wat hy doen, 4was Potifar hom goedgesind. Hy het Josef as sy persoonlike sekretaris aangestel en sy hele huishouding en selfs sy saketransaksies aan hom toevertrou. 5Van toe af het die Here Potifar geseën ter wille van Josef. Die huishouding het glad verloop en sy boerdery het vooruitgegaan. 6Daarom het Potifar hom aangestel oor alles wat hy besit. Met Josef aan die stuur het hy geen bekommernisse gehad nie, behalwe om te besluit wat hy wou eet!
Josef was goed gebou en baie aantreklik. 7Ná sy bevordering het Potifar se vrou met begeerte na hom begin kyk. Sy het hom genooi om by haar te kom slaap. 8Maar Josef het geweier. “Kyk,” sê hy vir haar, “my meester vertrou my met alles in sy hele huishouding. 9Niemand het meer gesag daaroor as ek nie. Hy het niks van my weerhou nie, behalwe u, omdat u sy vrou is. Hoe kan ek ooit so ’n slegte ding doen? Ek sal mos teen God oortree.”
10Sy het dag na dag druk op hom uitgeoefen, maar hy het volhard om nie toe te gee aan haar versoeke nie. Hy het selfs so ver moontlik uit haar pad probeer bly. 11Eendag was hy besig om sy werk te doen terwyl daar niemand anders in die huis was nie. 12Sy kom toe en gryp hom aan sy klere en eis van hom: “Kom slaap by my!” Josef het hom losgeskeur, maar in die proses die kledingstuk waaraan sy hom gegryp het, agtergelaat en uit die huis gehardloop.
13Toe sy sien dat sy ’n stuk van sy klere in haar hand vashou en dat hy gevlug het, 14begin sy skree. Almal in die huis kom toe aangehardloop. “My man het hierdie Hebreeuse slaaf hier gebring om ons te beledig!” het sy gesnik. “Hy het my probeer verkrag, maar ek het geskree. 15Toe hy hoor hoe ek om hulp roep, het hy weggehardloop, maar hierdie kledingstuk by my agtergelaat.”
16Sy het die kledingstuk by haar gehou totdat haar man weer tuisgekom het. 17Sy sê toe vir hom: “Daardie Hebreeuse slaaf wat jy hier ingebring het, het probeer om by my aan te lê. 18Gelukkig het ek geskree. Toe hardloop hy hier uit, maar het sy kleed agtergelaat!”
Josef in die tronk
19Nadat Potifar sy vrou se storie gehoor het oor wat hy met haar probeer aanvang het, was hy briesend. 20Hy gryp Josef en gooi hom in die tronk waar die koning se gevangenes gehou word. Terwyl hy daar in die tronk was, 21was die Here ook met Josef. Hy het sy getrouheid aan Josef bewys deurdat die tronkbewaarder hom goedgesind was. 22Spoedig het die tronkbewaarder Josef oor die ander gevangenes aangestel en oor alles wat in die tronk moes gebeur. 23Die tronkbewaarder het geen bekommernis gehad nie, want Josef het oor alles toesig gehou. Die Here was met hom sodat hy suksesvol was in alles wat hy gedoen het.

Currently Selected:

GENESIS 39: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy