YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 38

38
Tamar uitoorlê Juda
1In hierdie tyd het Juda van sy broers af weggetrek na Adullam toe. Daar het hy by ’n man met die naam Gira uitgekom. 2Daar ontmoet hy ’n Kanaänitiese vrou met die naam Bat-Sua#38:2 Bat-Sua beteken dogter van Sua. en trou met haar. 3Sy het swanger geraak en geboorte gegee aan ’n seun wat Juda Er genoem het. 4Daarna het sy weer ’n seuntjie in die wêreld gebring en hom Onan genoem. 5Toe haar derde seun gebore is, het sy hom Sela genoem. Hulle was op daardie stadium in Kesib.
6Toe sy oudste seun Er groot genoeg was, het Juda hom met ’n meisie met die naam Tamar laat trou. 7Maar omdat Er in die oë van die Here ’n slegte persoon was, het die Here hom laat sterf. 8Juda sê toe vir Er se broer Onan: “Gaan na jou broer se weduwee Tamar toe en verwek vir jou broer kinders by haar.”
9Maar Onan was nie bereid om ’n kind te hê wat nie sy wetlike erfgenaam sou wees nie. Dus het hy, elke keer wanneer hy met Tamar gemeenskap gehad het, gesorg dat sy saad op die grond kom om te verhoed dat hy vir sy broer ’n erfgenaam verwek. 10Vir die Here was dit ’n slegte ding dat hy nie vir sy broer ’n kind wou verwek nie. Daarom het die Here Onan ook laat sterf.
11Juda sê toe vir Tamar, sy skoondogter: “Gaan terug en woon liewer as ’n weduwee by jou ouers totdat my seun Sela groot genoeg is om met jou te trou.” Maar eintlik was Juda glad nie van plan om dit te doen nie, want hy was bang dat Sela met dieselfde lot as sy broers getref sou word. Tamar het toe na haar ouerhuis toe teruggegaan.
12Mettertyd het Juda se vrou, Bat-Sua, gesterf. Ná die routyd het Juda en sy vriend Gira van Adullam na Timna gegaan waar skeerders besig was om sy skape te skeer. 13Iemand het vir Tamar gesê: “Jou skoonpa is op pad Timna toe om sy skape te laat skeer.” 14Tamar het opgemerk dat Sela nou al groot genoeg was, maar dat Juda nie sy belofte nagekom het nie. Sy het haar rouklere uitgetrek, ’n sluier aangesit en haarself vermom. Toe het sy langs die pad na Timna, by die poort van die dorpie Enajim, gaan sit. 15Juda het daar verbygekom, haar gesien en gedink sy is ’n prostituut omdat haar gesig toegemaak was. 16Hy draai toe uit en onderhandel met haar om gemeenskap te hê. Hy het nie geweet dat dit sy skoondogter is nie.
“Hoeveel sal jy my betaal?” vra Tamar hom.
17“Ek sal vir jou ’n bokkie uit my trop stuur,” belowe Juda.
“Mits jy vir my ’n pand gee totdat jy dit stuur,” sê sy.
18“Nou wat wil jy hê?” vra hy.
Sy antwoord: “Ek wil jou seël, jou armband en die stok in jou hand hê.” Juda gee toe die goed wat sy gevra het. Hy het met haar gemeenskap gehad en sy het swanger geword. 19Daarna het sy huis toe gegaan, haar sluier afgehaal en weer haar rouklere aangetrek.
20Juda het later sy vriend Gira, die Adullamiet, gevra om die bokkie na haar toe te neem en die pand by haar terug te kry. Hy kon haar egter nie opspoor nie. 21Hy vra toe vir die mense van die plek: “Waar is die tempelprostituut wat hier langs die pad by die poort van Enajim gesit het?”
“Ons het nog nooit ’n tempelprostituut hier gehad nie,” het hulle geantwoord. 22Gira het toe maar teruggegaan na Juda toe en gesê: “Ek kon haar nêrens kry nie en die mense van die dorp sê daar is nie ’n prostituut daar nie.”
23“Sy moet dan maar die goed hou!” sê hy. “Ons het ons bes probeer om die bokkie vir haar te gee. Ons sal van onsself ’n spektakel maak as ons weer na die dorpie toe teruggaan.”
24Omtrent drie maande later hoor Juda dat Tamar, sy skoondogter, haar vir ’n prostituut uitgegee het en swanger geword het. “Bring haar uit en verbrand haar!” het Juda uitgeroep.
25Toe hulle haar uitbring om haar te straf, stuur sy ’n boodskap aan haar skoonpa: “Die man aan wie hierdie seël, armband en kierie behoort, is die pa van my kind. Herken jy hulle?”
26Juda het erken dat dit syne was en sê: “Ek is skuldiger as sy, want ek het nie my belofte nagekom om haar as vrou vir my seun Sela te gee nie.” Juda het daarna nie weer met Tamar gemeenskap gehad nie.
27Toe die tyd van die bevalling kom, was dit ’n tweeling. 28Tydens die geboorte het een sy hand uitgesteek. Die vroedvrou bind toe ’n rooi garingdraad om sy pols en sê: “Hierdie een is eerste.” 29Maar toe trek hy sy hand terug en die ander baba word eerste gebore. “My wêreld!” roep die vroedvrou uit. “Kyk hoe het hy eerste deurgebreek!” Daarom was sy naam Peres#38:29 Peres beteken deurbreek.. 30Daarna is die baba met die rooi garingdraad om sy pols gebore. Hy is Serag#38:30 Serag beteken die rooi of helder van dagbreek. genoem.

Currently Selected:

GENESIS 38: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy