Parallel
37
Josef se drome
1Jakob het hom weer in die land Kanaän gaan vestig waar sy pa gewoon het.
2Nou volg die familiegeskiedenis van Jakob. Toe Josef sewentien jaar oud was, het hy dikwels sy pa se troppe vee opgepas saam met sy halfbroers, die seuns van sy pa se vroue Bilha en Silpa. Josef het by sy pa nuus aangedra oor die verkeerde dinge wat sy broers gedoen het. 3Jakob het Josef liewer gehad as al sy ander kinders omdat hy gebore is toe Jakob reeds bejaard was. Hy gee toe vir Josef ’n besondere kleed. 4Maar sy broers het Josef gehaat omdat hulle pa vir Josef voorgetrek het. Hulle het geen vriendelike woord vir hom gehad nie.
5Een nag het Josef ’n droom gehad. Hy het dit vir sy broers vertel, waarna hulle hom nog meer gehaat het. 6“Kom luister na hierdie droom van my,” het hy gesê. 7“Ons was besig op die land om gerwe graan vas te bind. My gerf het regop gestaan, maar julle gerwe het rondom kom staan en laag voor myne gebuig!”
8“Gaan jy dan ons koning word, gaan jy nogal oor ons regeer?” spot sy broers. Ná die vertelling oor die droom het hulle hom nog meer gehaat.
9Daarna het Josef nog ’n droom gehad en hy vertel dit weer aan sy broers. “Luister na hierdie droom,” sê hy. “Die son, maan en elf sterre het voor my kom neerbuig!”
10Hierdie keer het hy dit vir sy pa en sy broers vertel. Sy pa het hom vermaan. “Watse soort goed droom jy?” het sy pa gevra. “Sal jou ma, jou broers en ek sowaar voor jou kom neerbuig?” 11Maar terwyl sy broers jaloers was op Josef, het sy pa tog daaroor nagedink en gewonder wat dit alles sou beteken.
Josef se broers raak van hom
ontslae
12Kort hierna gaan Josef se broers om die vee in die omgewing van Sigem te laat wei. 13Toe hulle vir ’n tyd lank weg was, sê Jakob vir Josef: “Jou broers is met die vee daar anderkant by Sigem. Ek wil jou na hulle toe stuur.”
“Goed, Pa,” sê Josef.
14“Gaan kyk hoe dit met jou broers en die vee gaan,” sê Jakob. “Kom dan terug en vertel vir my.”
Jakob was in die vallei van Hebron toe hy hom gestuur het. Josef het gegaan en in Sigem aangekom.
15Iemand het hom gesien terwyl hy daar rondloop. “Waarna soek jy?” vra hy.
16“Ek soek my broers en hulle troppe vee,” antwoord Josef. “Het jy hulle dalk gesien?”
17“Ja,” antwoord die man, “maar hulle is nie meer hier nie. Ek het gehoor jou broers sê hulle gaan na Dotan toe.” Josef is na Dotan toe en het hulle daar gekry.
18Toe sy broers hom sien aankom, het hulle hom van ver af herken en planne beraam om hom dood te maak. 19“Hier kom daardie dromer!” het hulle uitgeroep. 20“Kom ons maak hom dood en gooi hom in ’n diep put. Ons kan ons pa vertel dat ’n wilde dier hom opgevreet het. Dan sal ons sien wat word van sy drome!”
21Maar Ruben het vir hom in die bres getree. “Ons moenie hom doodmaak nie,” sê hy. 22“Hoekom sal ons bloed vergiet? Kom ons gooi hom lewendig in hierdie put in die woestyn. Dan sal hy sterf sonder dat ons hom self doodgemaak het.” Ruben het stilletjies beplan om Josef te help ontsnap en hom dan na sy pa terug te stuur.
23Toe Josef daar aankom, het hulle hom sy spoggerige kleed laat uittrek 24en hom in die put gegooi. Dit was op daardie tydstip kurkdroog. 25Net toe hulle gaan sit om te eet, sien hulle ’n klomp kamele in die verte in hulle rigting aankom. Dit was ’n groep Ismaelitiese handelaars wat gom, balsem en hars vanaf Gilead na Egipte toe neem.
26Sy ander broer Juda sê toe vir die ander: “Watter voordeel is daar vir ons om ons broer dood te maak en dit geheim te hou? 27Kom ons verkoop Josef aan daardie Ismaelitiese handelaars. Ons moenie vir sy dood verantwoordelik wees nie. Per slot van rekening is hy ons broer!” Sy broers het saamgestem. 28Toe die handelaars by hulle verbykom, trek die broers vir Josef op uit die put. Daarna verkoop hulle hom vir twintig stukke silwer. Die Ismaelitiese handelaars het hom saamgeneem Egipte toe.
29Toe Ruben later terugkom om Josef uit die put te haal, was Josef nie meer daar nie. Hy skeur sy klere en 30gaan terug na sy broers toe en roep uit: “Die seun is weg! Wat kan ek nou doen?”
31Josef se broers slag toe ’n bokkie en druk die kleed in sy bloed. 32Daarna stuur hulle die bloedbesmeerde kleed na hulle pa toe. “Ons het dit in die veld gekry,” sê hulle. “Is dit nie dalk Josef s’n nie?”
33Hulle pa het dit dadelik herken. “Ja,” sê hy. “Dit is my seun se kleed. Dis seker ’n wilde dier wat hom gevang en opgevreet het. Josef is sekerlik verskeur!”
34Toe skeur Jakob sy klere en trek rouklere aan. Hy het baie dae lank oor sy seun getreur. 35Sy gesin het hom probeer troos, maar dit het niks gehelp nie. “Ek sal al treurende oor my seun graf toe gaan!” het hy gesê. Hy was diep bedroef.
36Intussen het die handelaars Josef in Egipte aan Potifar verkoop, ’n beampte van die farao, die koning van Egipte. Potifar was die hoof van die farao se lyfwag.