Parallel
31
Jakob vertrek in die geheim
1Jakob het agtergekom dat Laban se seuns hom beskinder. “Jakob het ons pa se goed gesteel!” het hulle gesê. “Al sy rykdom het hy ten koste van ons pa bekom.” 2Jakob het ook opgemerk dat Laban se gesindheid teenoor hom verander het.
3Toe sê die Here vir Jakob: “Gaan terug na die land van jou herkoms en na jou familie toe. Ek sal by jou wees.”
4Jakob het vir Ragel en Lea na die veld toe laat kom waar sy kuddes was. 5Hy het daar vir hulle gesê: “Ek kom agter dat julle pa my nie meer soos voorheen behandel nie. Maar die God van mý pa was by my. 6Julle weet hoe hard ek vir julle pa gewerk het, 7maar hy het my bedrieg deur telkens die ooreenkoms met my te verander. God het egter nie toegelaat dat hy my benadeel nie. 8Wanneer hy sê die bont diere is myne, het die hele kudde bont lammers opgelewer. Wanneer hy van plan verander en sê ek kon die gestreepte diere kry, dan was al die lammers gestreep. 9Op hierdie manier het God my voorspoedig gemaak ten koste van julle pa. 10Gedurende die paartyd het ek ’n droom gehad en gesien dat die bokramme wat die ooie dek, gestreep, bont en gevlek was. 11In my droom sê die engel van God vir my: ‘Jakob!’ Ek het geantwoord: ‘Ja, hier is ek!’ 12Die engel sê toe: ‘Let op en jy sal sien net die gestreepte, bont en gevlekte ramme dek die ooie in die trop, want Ek het alles gesien wat Laban aan jou gedoen het. 13Ek is die God wat jy ontmoet het by Bet-El, die plek waar jy die olie op die klippilaar uitgegooi het en ’n eed geneem het dat jy My sal dien. Maak klaar om hierdie land te verlaat en na jou geboorteland toe terug te gaan.’”
14Ragel en Lea sê toe: “Ons stem saam! Hier is niks meer vir ons oor nie en ons sal niks van ons pa se rykdom erf nie. 15Hy het ons voorregte verminder tot dié van vreemdelinge. Hy het ons verkoop, en die geld opgebruik. 16Dit wat God van hom af weggevat en vir jou gegee het, is wetlik ons en ons kinders s’n. Doen gerus alles wat God vir jou gesê het.”
17Jakob het toe sy vroue en kinders op kamele gelaai. 18Hy het al die lewende hawe en ander besittings wat hy in Paddan-Aram bekom het, bymekaargemaak om na sy pa in die land Kanaän terug te gaan. 19Laban was weg om sy skape te gaan skeer. Ragel steel toe haar pa se afgodsbeeldjies en neem dit saam met haar. 20Hulle het in die geheim vertrek en nie vir Laban gesê dat hulle sou gaan nie. 21Jakob het al sy besittings saam met hom geneem en die Eufraatrivier oorgesteek op pad na die heuwels van Gilead.
Laban sit Jakob agterna
22Laban het eers drie dae later gehoor dat Jakob gevlug het. 23Hy het ’n klomp manne van sy familie bymekaargeroep en Jakob agternagesit. Sewe dae later het hy Jakob-hulle tussen die heuwels van Gilead ingehaal. 24Gedurende die nag het God egter in ’n droom aan Laban die Arameër verskyn en vir hom gesê: “Pas op wat jy vir Jakob sê!”
25Laban het Jakob ingehaal waar hy tussen die heuwels van Gilead kamp opgeslaan het. Nie te ver daarvan af nie het Laban ook kamp opgeslaan. 26“Wat het jy aangevang?” vra Laban. “Jy het my bedrieg en my dogters soos oorlogsbuit weggevoer. 27Hoekom het jy in die geheim gevlug? Ek sou ’n afskeidsfees gereël het met vreugdevolle tamboeryne en liere. 28Hoekom het jy nie toegelaat dat ek my dogters en kleinkinders groet nie? Jy het baie dwaas opgetree! 29Ek kon jou doodgemaak het, maar die God van jou voorouers het aan my verskyn en vir my gesê: ‘Pas op wat jy vir Jakob sê!’ 30Ek kan nog verstaan as jy gegaan het omdat jy baie na jou ouerhuis verlang. Maar hoekom het jy dan my huisgode gesteel?”
31“Ek is haastig daar weg omdat ek bang was,” antwoord Jakob. “Ek het vir myself gesê: ‘Hy sal my doodmaak en sy dogters met geweld van my wegneem.’ 32Maar wat die huisgode betref, dié persoon by wie u dit kry, moet sterf! Ek sê voor ons familie: As julle enigiets kry wat aan Pa behoort, sal ek dit sonder teëpraat teruggee.” Maar Jakob het nie geweet dat Ragel die huisgode gevat het nie.
33Laban het eers na Jakob se tent toe gegaan om daar te soek. Toe is hy na Lea s’n, en daarna het hy die tente van die twee slavinvroue deursoek, maar niks gekry nie. Toe gaan hy na Ragel se tent. 34Sy het intussen die beeldjies onder die kameelsaal weggesteek en daarop gaan sit. Laban het ook haar tent deeglik deursoek, maar niks gekry nie. 35“Verskoon my dat ek nie opstaan nie, Pa,” verduidelik sy. “Ek is siek van my maandstonde.” Laban het verder gesoek, maar kon nie die beeldjies kry nie.
36Jakob het toe baie kwaad geword en met Laban getwis: “Wat is my oortreding? Pa het my agternagesit asof ek ’n misdadiger is. 37Pa het alles wat ek besit, deursoek. Nou, wys my wat het Pa gekry wat aan u behoort! Sit dit hier voor ons familie neer sodat almal dit kan sien. Laat hulle dan besluit wie is reg!
38“Twintig jaar lank was ek by Pa en al die tyd het ek u skape en bokke opgepas sodat hulle gereeld gelam het. In al die jare het ek nie één van u ramme vir my gevat om te eet nie. 39Ek het nooit die kleinvee wat deur wilde diere verskeur is na u toe gebring nie. Ek moes dit self vervang. Pa het my laat betaal vir elke dier wat gesteel is, of dit nou my skuld was of nie. 40Deur skroeiende hitte in die dag en ysige slaaplose nagte het ek vir u gewerk. 41Vir twintig jaar het ek u gedien, veertien jaar daarvan vir Pa se twee dogters en ses jaar om my eie kudde op te bou. Maar Pa het my vergoeding tien keer verander! 42Trouens, was dit nie vir die genade van die God van my voorouers nie, die God van Abraham en die Beskermer van Isak nie, sou Pa my sonder vergoeding weggestuur het. Maar God het my swoeg en swaarkry raakgesien. Dis hoekom Hy aan Pa verskyn het en in my guns uitspraak gegee het.”
Jakob se ooreenkoms met
Laban
43Laban antwoord toe vir Jakob: “Hierdie vroue is my dogters, en hierdie kinders is my kleinkinders, en hierdie vee wat jy het, alles wat jy sien, kom van my af. Waarom sou ek dan my eie dogters en kleinkinders kwaad aandoen? 44Kom ons, ek en jy, sluit eerder ’n ooreenkoms en laat dit ’n getuienis wees tussen my en jou.”
45Toe vat Jakob ’n klip en sit dit regop as ’n gedenkteken. 46Hy het ook vir die mense by hom gesê om klippe bymekaar te maak en op ’n hoop te stapel. Hulle het toe langs die hoop gaan sit en saam geëet. 47Hulle het dit die “Kliphoop van Getuienis” genoem, in Laban se taal Jegar-Sahaduta en in Jakob se taal Galed.
48“Hierdie kliphoop sal dien as getuienis van ons ooreenkoms,” het Laban verklaar. 49Die plek is ook Mispa genoem, want Laban het gesê: “Die Here sal waghou oor my en jou wanneer ons mekaar nie meer kan sien nie. 50As jy my dogters sleg behandel of as jy ander vroue neem, selfs as daar niemand anders by ons is nie – onthou, God is ’n getuie tussen my en jou. 51Kyk na hierdie hoop klippe en hierdie klippilaar wat ek opgerig het. 52Dit staan as getuies tussen ons. Ek sal nie hier verbygaan om teen jou uit te trek nie, en jy mag nie hier verbykom om my te kom aanval nie. 53Die God van ons voorouers, die God van jou oupa Abraham en die God van my oupa Nahor, sal as regter tussen ons optree as enigeen van ons die ander een kwaad wil aandoen.”
Jakob het toe ’n eed afgelê by die Beskermer van sy pa, Isak, dat hy die grens sou eerbiedig. 54Toe het Jakob ’n offer vir God gebring en almal genooi om deel te neem aan ’n fees. Na hulle geëet het, het hulle daar in die heuwels oornag. 55Laban het die volgende oggend vroeg opgestaan, sy kleinseuns en sy dogters met ’n seënwens gegroet, en teruggegaan huis toe.