Parallel
28
1Isak roep toe vir Jakob. Hy seën hom en sê: “Jy moenie met enige van hierdie Kanaänitiese vroue trou nie. 2Gaan eerder na Paddan-Aram toe, na die huis van jou oupa Betuel, en trou met een van jou oom Laban se dogters. 3Mag God die Almagtige jou seën en vir jou baie kinders gee. Mag Hy jou ’n groot nasie maak. 4Jy en jou nageslag sal die beloftes aan Abraham ontvang. Hierdie land waar ons nou as vreemdelinge woon, sal die eiendom van jou nageslag word, want God het dit reeds aan Abraham gegee.”
5Isak het toe vir Jakob weggestuur. Hy het na Paddan-Aram toe vertrek, na sy ma se broer Laban, die seun van Betuel die Arameër.
6Esau het geweet dat sy pa vir Jakob geseën en Paddan-Aram toe gestuur het om daar ’n vrou te kry. Toe hy Jakob geseën het, het hy hom gewaarsku: “Jy moenie met ’n Kanaänitiese meisie trou nie.” 7Hy het ook gehoor dat Jakob gehoorsaam was aan sy ouers en na Paddan-Aram toe vertrek het. 8Dit was vir Esau duidelik dat sy pa nie van die plaaslike Kanaänitiese vroue gehou het nie. 9Daarom gaan hy na sy oom Ismael toe en trou met Magalat, dogter van Abraham se seun Ismael, en suster van Nebajot. Dit was benewens die vroue wat hy reeds gehad het.
Die Here verskyn aan Jakob by
Bet-El
10Jakob is van Berseba af weg en het na Haran toe vertrek. 11Teen sononder kom hy by ’n geskikte plek aan waar hy kon oornag. Hy neem toe een van die klippe van die plek en sit dit by sy kop neer. Toe gaan lê hy om te slaap. 12Dié nag droom hy dat hy ’n leer sien wat op die aarde staan met die bopunt in die hemel. Engele van God het daarmee op en af geklim.
13Die Here het aan die bokant van die leer gestaan en vir hom gesê: “Ek is die Here, die God van jou voorvader Abraham en die God van Isak. Die grond waarop jy lê, gee Ek vir jou en jou nageslag. 14Jou nageslag sal so baie wees soos die stof van die aarde. Hulle sal versprei na die ooste en die weste, en na die noorde en die suide. Al die mense op aarde sal deur middel van jou nageslag geseën word. 15Ek sal by jou wees en jou beskerm waar jy ook al gaan. Ek sal jou weer terugbring na hierdie land toe. Ek sal jou nie verlaat nie, maar doen wat Ek beloof het.”
16Toe Jakob wakker word, sê hy: “Sowaar! Die Here is op hierdie plek, en ek het dit nie eers geweet nie!” 17Hy was egter ook bang en het gesê: “Hoe vreesaanjaend is hierdie plek! Dis niks anders nie as die woning van God, die poort na die hemel!” 18Die volgende oggend staan hy vroeg op. Hy neem die klip by sy kop en sit dit regop as ’n gedenkteken. Daarna gooi hy olie daarop uit. 19Hy noem die plek toe Bet-El, “huis van God”. Die dorp daar naby was voorheen bekend as Lus.
20Toe lê Jakob ’n eed af en sê: “As U, o God, by my sal wees, my op hierdie reis sal beskerm en vir my kos en klere gee 21sodat ek weer veilig terugkom by my ouerhuis, dan sal U, Here, my God wees. 22Hierdie gedenkteken sal ’n plek wees waar God aanbid word. Van alles wat U vir my gee, sal ek vir U ’n tiende afstaan.”