Parallel
25
Die dood van Abraham
1Abraham het weer getrou. Die vrou se naam was Ketura. 2Sy het vir hom die volgende kinders in die wêreld gebring: Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag. 3Joksan se twee seuns was Skeba en Dedan. Die inwoners van Assur, Letus en Leüm was die nageslag van Dedan. 4Midian se seuns was: Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Al hierdie mense was nasate van Abraham en Ketura.
5Abraham het alles wat hy besit het aan sy seun Isak nagelaat. 6Voor sy dood het hy geskenke vir die seuns van sy byvroue gegee en hulle ooswaarts, wég van Isak af, na die land Kedem toe gestuur.
7Abraham het 175 jaar oud geword. 8Hy het op ’n rype ouderdom na ’n lang en vol lewe gesterf. 9Sy seuns Isak en Ismael het hom in die grot van Makpela begrawe. Dit is naby Mamre en op die grond van Efron, seun van Sogar, die Hetiet. 10Dit is die stuk grond wat Abraham van die Hetiete gekoop het en waar hy sy vrou Sara begrawe het. 11Ná Abraham se dood het God sy seun Isak geseën. Isak het by Lagai-Roï-fontein in die Negev gaan woon.
Ismael se nageslag
12Nou volg die stamboom van die nageslag van Ismael, die seun van Abraham en Hagar, Sara se Egiptiese slavin. 13Dit is die name van die seuns en die familiegroepe van Ismael se nageslag. Die oudste seun was Nebajot, gevolg deur Kedar, Adbeël, Mibsam, 14Misma, Duma, Massa, 15Gadad, Tema, Jetur, Nafis en Kedma. 16Hierdie is die seuns van Ismael en ook die name van hulle nedersettings en blyplekke – twaalf heersers van die stamme wat na hulle vernoem is.
17Ismael was 137 jaar oud toe hy gesterf het en begrawe is. 18Ismael se nageslag was oor die land versprei vanaf Gawila tot by Sur, oos van Egipte, in die rigting van Assur. Die familiegroepe het in konflik met mekaar gelewe.
Die geboorte van Jakob en Esau
19Nou volg die besonderhede van die nageslag van Isak, die seun van Abraham. 20Isak was 40 jaar oud toe hy met Rebekka getrou het. Sy was die dogter van Betuel, die Arameër uit Paddan-Aram en die suster van die Arameër Laban. 21Rebekka was kinderloos. Daarom het Isak by die Here gepleit vir ’n kind. Die Here het sy gebed verhoor en sy vrou het swanger geword. 22Die twee kinders het in haar teen mekaar gestamp. Sy het gewonder: “Hoekom gebeur so iets met my?” Sy raadpleeg toe die Here.
23Die Here antwoord haar: “Die twee seuns wat jy verwag, sal twee nasies word wat teen mekaar wedywer. Die een sal sterker wees as die ander. Die nageslag van die oudste sal die nageslag van die jongste dien.”
24Toe die tyd aanbreek, is die tweeling gebore. 25Die eerste was by geboorte baie rooierig. Hy was so van die hare oortrek dat dit soos ’n harige kleed gelyk het. Daarom het hulle hom Esau genoem. 26Sy broer is ná hom gebore terwyl hy die hak van Esau vashou. Toe noem hulle hom Jakob. Isak was 60 jaar oud toe die tweeling gebore is.
Esau verkoop sy eersgeboorte-
reg
27Die seuns het groter geword. Esau was ’n bekwame jagter, iemand van die veld. Jakob, weer, het verkies om rustig tuis te bly. 28Isak het ’n voorkeur vir Esau gehad oor die wildsvleis wat hy vir hom gebring het. Rebekka weer, was liewer vir Jakob.
29Eendag was Jakob besig om sop te kook. Esau het doodmoeg van die veld af teruggekom. 30Esau sê toe vir Jakob: “Gee my tog van daardie rooi goed, want ek wil doodgaan van die honger.” Dis hoe Esau sy ander naam, Edom – wat “rooi” beteken – gekry het.
31Jakob antwoord hom: “Dis alles goed en wel, maar dan moet jy jou regte as oudste seun in ruil daarvoor gee.”
32“Wat maak dit eintlik saak,” antwoord Esau, “ek is tog op die punt om van honger te sterf. Wat beteken my eersgeboortereg dan vir my?”
33Jakob dring egter daarop aan: “Lê ’n eed af dat jou regte nou myne word.” Esau het toe ’n eed afgelê en so sy eersgeboortereg as oudste aan Jakob, die jongste, verkoop. 34Toe gee Jakob vir Esau brood en sop. Hy het dit geëet en gedrink en weggegaan asof sy eersgeboortereg vir hom niks beteken nie.