GENESIS 24
NLV
24
’n Vrou vir Isak
1Teen hierdie tyd was Abraham ’n baie ou man. Die Here het hom op alle terreine geseën. 2Op ’n dag sê hy vir die oudste slaaf wat oor sy huishouding aangestel is: “Kom sit jou hand hier, 3en lê ’n eed af by die Here, die God van die hemel en die aarde, dat jy nie sal toelaat dat my seun met een van hierdie plaaslike Kanaänitiese meisies trou nie. 4Gaan liewer na my geboorteland en my bloedverwante en soek daar ’n vrou vir my seun Isak.”
5Die slaaf antwoord hom: “Sê nou net ek kry nie ’n jong vrou wat bereid is om saam met my te kom nie? Mag ek Isak dan soontoe neem om weer by u bloedverwante te woon?”
6“Nee!” waarsku Abraham. “Pas op! Jy moet my seun nooit daarheen terugneem nie. 7Die Here, die God van die hemel wat my uit my pa se huis en my geboorteland geroep het, het met ’n eed belowe om hierdie land aan my nageslag te gee. Hy sal sy engel voor jou uitstuur en sorg dat jy daar ’n meisie kry wat met my seun sal trou. 8Maar as sy onwillig is om saam met jou terug te kom, sal hierdie eed jou nie meer bind nie. Maar jy mag my seun nie daarheen terugneem nie.”
9Die slaaf het toe ’n eed afgelê dat hy Abraham se voorskrifte sou uitvoer. 10Hy het tien kamele gelaai met allerlei kosbare geskenke van Abraham. Daarna het hy vertrek na Mesopotamië, na die dorp waar Abraham se broer Nahor gewoon het. 11Daar aangekom, laat hy die kamele kniel by ’n fontein net buite die dorp. Dit was laatnamiddag en tyd dat die vroue uitkom om water te kom haal.
12“O Here, God van my meester Abraham,” het hy gebid. “Laat ek suksesvol wees, en bewys u getrouheid aan my meester Abraham. 13Kyk, hier staan ek by hierdie fontein en die meisies is besig om hierheen te kom om water te kry. 14Ek sal vir een van hulle water vra om te drink. As sy sê ‘sekerlik, en ek sal sommer ook vir jou kamele water gee om te drink’ – laat dit die een wees wat U gekies het as vrou vir Isak. Dit sal ’n bevestiging wees van u troue liefde teenoor my meester.”
15Hy was nog besig om te bid toe ’n meisie met die naam Rebekka daar aankom met ’n waterkruik op haar skouer. Haar pa se naam was Betuel, die seun van Abraham se broer Nahor en sy vrou Milka.
16Rebekka was ’n besonder mooi meisie en het nog nooit by ’n man geslaap nie. Sy gaan af na die water toe, maak haar kruik vol en kom weer boontoe. 17Die slaaf hardloop oor na haar toe en vra: “Gee asseblief vir my water om te drink.”
18“Sekerlik, Meneer, drink gerus,” antwoord sy terwyl sy dadelik die kruik laat sak. 19Toe hy klaar gedrink het, sê sy vir hom: “Ek sal sommer ook vir u kamele water skep totdat hulle genoeg gehad het!”
20Sy maak toe gou haar kruik leeg in die drinkbak en gaan vinnig af na die water toe. Sy het aangehou om water vir die kamele aan te dra totdat almal genoeg gedrink het.
21Die slaaf het haar in stilte dopgehou en gewonder of dit werklik die een is wat die Here beskik het dat hy moes teëkom. 22Toe die kamele klaar gedrink het, gee hy haar ’n goue ring van ’n halwe sikkel vir haar neus en twee armbande van tien sikkels goud.
23“Wie se dogter is jy?” vra hy. “Het jou pa dalk plek waar ons vannag kan slaap?”
24“My pa se naam is Betuel,” antwoord sy. “My oupa en ouma is Nahor en Milka. 25En ja, ons het genoeg strooi en voer vir die diere, en ook slaapplek.”
26Toe buig die man neer en aanbid die Here. 27“Aan die Here, die God van my meester Abraham, kom toe die lof,” sê hy. “Die Here was goed vir my en getrou aan Abraham, want hy het my reguit na my meester se bloedverwante toe gelei.”
28Die meisie hardloop toe na haar huis toe en vertel haar familie alles wat gebeur het. 29Rebekka se broer se naam was Laban. 30Hy het die neusring en die armbande gesien wat sy suster dra, en die storie gehoor wat sy vertel het. Daarom hardloop hy haastig na die fontein toe. Die man het nog daar by sy kamele gestaan. Laban sê vir hom: 31“Kom saam en bly oor by ons. U is ’n geseënde van die Here. Hoekom sal u hier buitekant die dorp bly staan terwyl ek alreeds vir u slaapplek reggemaak het? Ek het ook plek reg vir u kamele.”
32Die man gaan toe saam met Laban huis toe. Laban het die kamele afgesaal, vir hulle voer gegee en strooi om op te slaap. Hy het ook vir die slaaf en die mense by hom water gegee om te was. 33Daarna is aandete bedien. Maar die slaaf sê: “Ek wil nie eet voordat ek vertel het waarom ek hierheen gekom het nie.”
“Goed,” sê Laban, “vertel ons wat jy kom doen het.”
34“Ek is Abraham se slaaf,” verduidelik hy. 35“Die Here het hom baie geseën sodat hy ryk geword het. Die Here het hom troppe kleinvee en beeste gegee, ’n fortuin aan goud en silwer, en baie slawe, kamele en donkies.
36“Toe Sara, my meester se vrou, alreeds bejaard was, het sy geboorte gegee aan sy seun. My meester het alles wat hy besit aan hom bemaak. 37Hy het my met ’n eed laat belowe dat ek nie sou toelaat dat Isak met een van die Kanaänitiese meisies trou waar hy woon nie. 38‘Gaan liewer na my familie toe en kry daar ’n vrou vir my seun,’ het hy beveel.
39“‘Maar sê nou ek kan nie ’n meisie kry wat bereid is om saam met my terug te gaan nie?’ het ek gevra. 40‘Jy sal,’ het hy gesê, ‘want die Here voor wie ek lewe, sal sy engel saam met jou stuur sodat jou sending suksesvol sal wees. Jy moet beslis onder my bloedverwante, uit my pa se mense, ’n vrou vir my seun kry. 41Maar as jy na my bloedverwante gaan en hulle weier dat sy kom, sal hierdie eed jou nie meer bind nie.’
42“Vanmiddag, toe ek by die fontein aankom, het ek so gebid: ‘O Here, God van my meester Abraham, laat my tog asseblief slaag. 43Hier staan ek nou by die fontein. Ek sal vir ’n meisie wat kom water haal, vra: ‘Gee my asseblief water om te drink!’ 44As sy vir my sê: ‘Sekerlik, drink gerus, en ek sal sommer vir jou kamele ook water gee!’ – Here, laat sý die een wees wat U bestem het as vrou vir die seun van my meester.’
45“Ek het skaars so saggies klaar gebid, of ek sien Rebekka aankom met ’n waterkruik op haar skouer. Sy het afgegaan na die fontein toe en haar kruik vol gemaak. Ek sê toe vir haar: ‘Gee asseblief vir my water om te drink.’ 46Sy het dadelik die kruik van haar skouer laat afsak sodat ek kon drink en gesê: ‘Sekerlik, Meneer, en ek sal ook vir jou kamele water gee.’ Dit het sy gedoen.
47“Toe ek haar vra wie se dogter sy is, het sy gesê: ‘My pa is Betuel, die seun van Nahor en sy vrou Milka.’ Dis toe dat ek haar die neusring en armbande gegee het.
48“Ek het gebuig en die Here aanbid. Ek het die Here, die God van my meester Abraham, geloof omdat Hy my op die regte pad gelei het sodat ek ’n vrou uit die familie van my meester se bloedverwante kon kry. 49Nou wil ek graag weet: Sal julle lojaal en getrou wees aan my meester, of nie? Sê vir my ja of nee sodat ek kan weet wat my te doen staan.”
50Laban en Betuel het geantwoord: “Dit kom van die Here af. Wat kan ons dan sê? 51Hier is Rebekka. Neem haar en gaan. Ja, laat sy die vrou word van jou meester se seun soos die Here bepaal het.”
52Toe hy dit hoor, het Abraham se slaaf laag afgebuig en die Here aanbid. 53Toe haal hy silwer en goue voorwerpe uit, asook klere, en gee dit vir Rebekka. Vir haar broer en haar ma het hy duur geskenke gegee.
54Toe eers het die slaaf en die mense saam met hom aandete geëet en daar oorgebly. Vroeg die volgende oggend sê hy: “Stuur my terug na my meester toe.”
55“Maar ons wil hê Rebekka moet nog tien dae hier by ons bly, dan kan sy gaan,” sê haar broer en ma.
56Maar hy sê: “Moet my nie ophou nie. Die Here het my reis suksesvol gemaak. Laat my toe om na my meester terug te gaan.”
57“Kom ons vra liewer wat Rebekka self dink,” sê hulle. 58Hulle roep haar toe en vra: “Is jy gewillig om saam met hierdie man te gaan?”
“Ja, ek wil gaan,” antwoord sy.
59Hulle het Rebekka gegroet en haar saam met Abraham se slaaf en sy reisgenote laat gaan. Die vrou wat haar van kleins af opgepas het, het ook saam met haar gegaan.
60Hulle het haar geseën met die volgende seën:
“Ons suster, mag jou nageslag
tienduisende word;
mag jou afstammelinge
die stede van hulle vyande oorwin.”
Isak trou met Rebekka
61Toe het Rebekka en haar slavinne op die kamele geklim en saam met Abraham se slaaf vertrek.
62Intussen het Isak teruggekeer huis toe van Lagai-Roï-fontein. Sy huis was in die Negev. 63Teen laatnamiddag het Isak in die veld gaan stap. Hy kyk op en sien ’n klomp kamele aankom. 64Rebekka kyk ook op, sien hom en klim van die kameel af.
65“Wie is daardie man wat deur die veld na ons toe aankom?” vra sy vir die slaaf.
Toe hy sê: “Dit is my meester,” bedek sy haar gesig met haar sluier. 66Die slaaf het Isak alles vertel wat met hom gebeur het.
67Daarna het Isak Rebekka na sy ma se tent gebring en sy het sy vrou geword. Hy was baie lief vir haar en sy was vir hom ’n groot troos ná die dood van sy ma.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling