YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 22

22
Die Here toets Abraham
1Na ’n tyd wou God Abraham toets. “Abraham!” roep God.
“Hier is ek,” antwoord Abraham.
2God sê vir hom: “Neem jou seun, jou enigste seun, ja, vir Isak wat jy so liefhet, en gaan na die land Moria. Offer hom daar as brandoffer op een van die berge wat Ek jou sal wys.”
3Die volgende oggend het Abraham vroeg opgestaan. Hy het sy donkie opgesaal vir die reis en hout gekap vir die brandoffer. Toe het hy twee slawe en ook sy seun Isak geneem om saam te gaan. Daarna het hy vertrek na die plek wat God vir hom aangedui het. 4Op die derde dag sien Abraham die plek in die verte. 5“Bly ’n bietjie hier by die donkie,” sê Abraham vir die slawe. “Ek en die seun sal ’n entjie verder gaan. Ons sal daar aanbid en dan terugkom.”
6Abraham sit toe die hout op Isak se skouers. Hy het self die mes en die vuur gedra. Terwyl die twee so saamloop, 7sê Isak: “Pa?”
“Ja, my seun?” antwoord Abraham.
“Ons het nou wel die hout en die vuur,” sê die seun, “maar waar is die lam vir die offerande?”
8“God sal self die lam voorsien, my seun,” antwoord Abraham. So het die twee verder gestap.
9Toe hulle aankom by die plek wat God vir Abraham aangewys het, bou hy daar ’n altaar en sit die hout daarop neer. Hy maak Isak vas en sit hom bo-op die hout op die altaar. 10Daarna vat Abraham die mes en lig dit op om sy seun as offer aan die Here te slag. 11Op daardie oomblik roep die engel van die Here na hom uit die hemel: “Abraham, Abraham!”
“Ek luister,” antwoord Abraham.
12“Moenie jou hand oplig teen die seun en hom enige kwaad aandoen nie!” sê die engel. “Nou weet Ek dat jy regtig vir God dien, want jy het selfs jou geliefde seun nie van My weerhou nie.”
13Abraham kyk op en sien ’n ram wat met sy horings in ’n bos vassit. Hy neem die ram en offer dit as brandoffer op die altaar in die plek van sy seun. 14Abraham het toe die plek genoem “Die Here voorsien”. Hierdie naam het sedertdien ’n spreekwoord geword: “Op die berg van die Here sal voorsien word.”
15Die engel van die Here roep toe weer uit die hemel na Abraham: 16“Die Here sê: ‘Omdat jy My gehoorsaam het en nie eens jou geliefde seun van My weerhou het nie, neem Ek ’n eed 17dat Ek jou oorvloedig sal seën. Ek sal jou nageslag vermenigvuldig tot ’n ontelbare menigte, soos die sterre aan die hemel en die sand aan die see en hulle sal hulle vyande oorwin. 18In jou nageslag sal al die nasies van die aarde geseën word. Dit sal alles gebeur omdat jy My gehoorsaam het.’” 19Daarna het hulle na die twee slawe toe teruggekeer en almal saam Berseba toe gegaan waar Abraham gewoon het.
20Kort hierna hoor Abraham dat Milka, sy broer Nahor se vrou, vir Nahor agt seuns in die wêreld gebring het. 21Die oudste se naam was Us en die ander was Bus, Kemuel (die voorvader van die Arameërs), 22Kesed, Gaso, Pildas, Jidlaf en Betuel. 23Betuel het later die pa van Rebekka geword. 24Benewens hierdie agt seuns by Milka, het Nahor ook nog vier kinders by sy byvrou Reüma gehad. Hulle name was Tebag, Gagam, Tagas en Maäka.

Currently Selected:

GENESIS 22: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy