Parallel
21
Die geboorte van Isak
1Die Here het vir Sara gesorg en sy belofte aan haar nagekom. 2Sara het swanger geword en vir Abraham in sy ouderdom ’n seun gegee. Dit het gebeur op die bestemde tyd soos God beloof het. 3Abraham het sy seun Isak genoem. 4Agt dae ná Isak se geboorte het Abraham hom besny soos God hom beveel het. 5Abraham was toe 100 jaar oud.
6Sara het gejuig: “God het my laat lag van vreugde! Almal wat dit hoor, sal saam met my lag. 7Wie sou ooit vir Abraham sê: Sara sal seuns borsvoed? Tog het ek op sy oudag vir Abraham ’n seun gegee!”
Hagar en Ismael word
weggestuur
8Isak het groter geword en die dag toe hy gespeen is, het Abraham ’n groot fees gereël om die geleentheid te vier. 9Maar toe Sara opmerk hoe die seun van Abraham en Hagar vir Isak staan en lag, 10het sy by Abraham aangedring: “Raak ontslae van die slavin en haar seun! Ek sal nie toelaat dat hy, die seun van ’n slavin, die erfporsie met my seun, Isak, deel nie!”
11Dit het Abraham hewig ontstel, want Ismael was tog ook sy seun. 12Maar God sê vir Abraham: “Moenie oor die seun en jou slavin ontsteld word nie. Doen soos Sara vra, want uit Isak sal jou nageslag voortgesit word. 13Ek sal egter ook die nageslag van Hagar se seun tot ’n groot nasie maak, want hy is jou seun.”
14Die volgende oggend het Abraham vroeg opgestaan. Hy het padkos voorberei en ’n velsak met water oor Hagar se skouers gehang. Toe stuur hy haar en hulle seun weg. Sy het doelloos in die wildernis van Berseba rondgedwaal. 15Toe die water op was, het sy die seun in die koelte van ’n bos gelos. 16Sy self het ’n entjie daarvandaan gaan sit, so ver as wat ’n mens met ’n pyl en boog kan skiet. “Ek wil nie sien hoe my seun sterf nie,” het sy in trane gesê.
17Maar God het die seun hoor huil. Toe roep die engel van God vir Hagar uit die hemel: “Hagar, wat is verkeerd? Moenie bang wees nie! God het die seun gehoor huil daar waar hy onder die bos lê. 18Gaan na hom toe en vertroos hom, want Ek gaan sy nageslag ’n groot nasie maak.”
19Toe maak God Hagar se oë oop en sy sien ’n put met water. Sy het haar watersak vol gemaak en vir die seun water gegee om te drink. 20God was met die seun. Hy het in die Paranwoestyn grootgeword en ’n knap boogskutter geword. 21Sy ma het gesorg dat hy later met ’n Egiptiese meisie trou.
’n Verdrag met Abimelek
22Omstreeks hierdie tyd kom Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, op besoek by Abraham. “Dit is baie duidelik dat God jou help in alles wat jy doen,” sê Abimelek. 23“Belowe my met ’n eed in God se Naam dat jy nie oneerlik teenoor my sal optree nie, ook nie teenoor my kinders of my kleinkinders nie. Ek was lojaal aan jou; belowe nou dat jy ook aan my en hierdie land lojaal sal wees solank jy lewe.”
24Abraham antwoord hom: “Nou goed, ek belowe!” 25Hy het egter by Abimelek beswaar gemaak oor ’n waterput wat Abimelek se slawe met geweld van hom afgeneem het.
26“Dis die eerste keer dat ek hiervan hoor,” sê Abimelek. “Ek het nie die vaagste benul wie dit gedoen het nie. Hoekom het jy my nie al eerder gesê nie?”
27Abraham gee toe kleinvee en beeste vir Abimelek en hulle sluit ’n ooreenkoms met mekaar. 28Maar toe Abraham nog sewe ooilammers eenkant sit, 29vra Abimelek: “Wat doen jy nou met die ooilammers?”
30Abraham antwoord: “Neem dit. Dis ’n sigbare teken dat jy erken dat ek hierdie put gegrawe het.” 31Sedert dié voorval staan die put bekend as Berseba, die put van die eed, want dis waar hulle ’n eed teenoor mekaar afgelê het. 32Ná die sluiting van die ooreenkoms, het Abimelek en Pikol, die bevelvoerder van sy leër, teruggegaan na hulle tuiste in die land van die Filistyne. 33Abraham plant toe ’n tamarisk by Berseba en het die Here, die ewige God, daar aanbid. 34Abraham het nog vir ’n lang tyd in die land van die Filistyne gewoon.