Parallel
1
1Paulus skryf aan die gemeentes
in Galasië en stuur
’n seëngroet
Hierdie brief kom van Paulus, ’n apostel wat nie deur mense aangestel of gestuur is nie, maar deur Jesus Christus en deur God die Vader – Hy wat Jesus Christus uit die dood opgewek het.
2Dit kom ook van al die broers en susters hier saam met my. Ons skryf aan die gemeentes in Galasië. 3Mag die genade en vrede van God ons Vader en van Jesus Christus met julle wees. 4Jesus Christus het volgens God ons Vader se wil vir ons sondes gesterf om ons te bevry van die bose tyd waarin ons nou lewe. 5Hiervoor moet God se heerlikheid vir altyd en altyd geprys word! Amen.
Daar is geen ander Goeie Nuus
nie
6Ek is verstom oor wat julle gedoen het. Hoe kon julle so gou julle rug op God draai? Op Hóm wat julle deur Christus se genade na Hom toe geroep het!
Julle het julle ore uitgeleen vir ’n ander “Goeie Nuus”. 7Maar daar is geen ander Goeie Nuus nie! Al wat daar is, is ’n paar mense wat julle deurmekaarmaak, ja, wat die Goeie Nuus van Christus wil verdraai.
8Vervloek is elkeen wat ’n ander boodskap verkondig as wat ons aan julle verkondig het, al sou dit ons self of ’n boodskapper uit die hemel wees. 9Ek herhaal: Vervloek is elkeen wat ’n ander boodskap verkondig as dié een wat julle ontvang het!
10Hoe klink dit vir julle? Wil ek in mense se goeie boekies kom? Of wil ek God tevrede stel? Probeer ek mense gelukkig maak? As ek nog steeds mense gelukkig wil maak, is ek nie ’n dienskneg van Christus nie.
Paulus se Goeie Nuus deur
Christus aan hom
bekendgemaak
11Ek verseker julle, broers en susters, die Goeie Nuus wat ek aan julle verkondig het, is nie deur mense uitgedink nie. 12Ek het dit nie by ’n mens gehoor of geleer nie, maar deurdat God Jesus Christus aan my geopenbaar het.
13Julle het mos gehoor hoe ek my vroeër, toe ek nog die Joodse godsdiens aangehang het, gedra het, dat ek God se kerk fanaties vervolg en verwoesting gesaai het. 14In die uitlewing van die Joodse godsdiens het ek in my ouderdomsgroep bo baie van my volksgenote uitgestaan. Ek was besig om my uitermate te beywer vir die tradisies van my voorgeslagte.
15Maar toe het God besluit – Hy wat my al voor my geboorte gekies het en my deur sy genade geroep het – 16om sy Seun aan my bekend te maak. Dit het gebeur sodat ek Hom aan die nie-Joodse nasies kan verkondig. Ek het nie dadelik met mense gepraat nie.
17Ek het ook nie Jerusalem toe gegaan na hulle wat reeds voor my apostels was nie. Nee, ek het Arabië toe gegaan en van daar af teruggekom Damaskus toe.
18Eers drie jaar later is ek Jerusalem toe om Petrus te ontmoet. Ek het twee weke by hom gebly, 19maar van die ander apostels het ek niemand gesien nie behalwe Jakobus, die broer van die Here.
20Kyk, God is my getuie dat die dinge wat ek vir julle skryf nie leuens is nie. 21Daarna het ek na die gebied van Sirië en Silisië toe gegaan.
22Die Christene in die gemeentes van Judea het my nog nie persoonlik geken nie. 23Hulle het net gehoor: “Die persoon wat ons vroeër vervolg het, verkondig nou die geloof wat hy wou uitroei!” 24En hulle het God oor my geprys.