YouVersion Logo
Search Icon

ESRA 6

6
Darius keur die bouwerk goed
1Koning Darius het toe opdrag gegee dat ’n ondersoek in die argiewe in Babel gedoen moes word. Die dokumente is daar gehou. 2Die boekrol is egter in Agmeta, ’n vestingstad in die provinsie Medië, gevind. Dit het só gelees:
3“In die eerste jaar van koning Kores se regering is ’n dekreet uitgevaardig oor die tempel van God in Jerusalem. Hulle moet die tempel op dieselfde fondasie herbou as ’n plek waar hulle altyd die offers kan bring. Die gebou moet 30 meter hoog en 30 meter breed wees. 4Op elke drie lae van die gekapte steenblokke moet hulle ’n laag hout plaas. Die koninklike skatkis sal alle kostes vir die bouwerk dra. 5Al die goue en silwer voorwerpe wat Nebukadnesar uit die tempel van God in Jerusalem gevat het en na Babel toe gebring is, moet teruggegee word. Dit sal soos vroeër weer in die tempel van God in Jerusalem gesit word.”
6Koning Darius het die volgende boodskap gestuur:
“Aan die goewerneur Tattenai van die provinsie wes van die Eufraatrivier, Setar-Bosnai en die ander amptenare van die provinsie wes van die Eufraat: Bly weg daarvandaan! 7Moenie in die pad staan van die bouwerk aan die tempel van God nie. Laat die goewerneur van Juda en die Judese leiers toe om die tempel van God op die oorspronklike plek te herbou.
8“Ek beveel verder ook dat julle hierdie leiers van die Jode moet bystaan om die tempel van God te herbou.
“Betaal ook dadelik al die kostes van die bouwerk uit die belastings wat julle in julle provinsie wes van die Eufraat ingesamel het sodat die werk nie stilstaan nie.
9“Voorsien ook aan die priesters in Jerusalem wat hulle nodig het om aan die God van die hemel te offer. Dit sluit in jong bulle, ramme en lammers. Moet ook nie nalaat om vir hulle die koring, sout, wyn en olyfolie te gee wat hulle daagliks nodig het nie. 10Hulle sal dan in staat wees om aanvaarbare offers aan die God van die hemel te bring en vir my en my seuns te bid.
11“Ek beveel ook dat as mense hierdie bevel verontagsaam, ’n balk uit hulle huise geruk moet word. Nadat hulle aan die balk opgehang en geslaan is, sal hulle huise ’n rommelhoop gemaak word.
12“God het Jerusalem gekies as ’n plek waar hulle sy Naam sal eer. Mag Hy enige koning of nasie wat my bevel verontagsaam en die tempel afbreek, vernietig. Ek, Darius, het hierdie dekreet uitgevaardig. Mense moet dit met sorg nakom.”
Inwyding van die tempel
13Tattenai die goewerneur van die provinsie wes van die Eufraatrivier, Setar-Bosnai en die ander amptenare het die bevel van koning Darius sorgvuldig nagekom. 14Die prediking van die profete Haggai en Sagaria seun van Iddo het die Joodse leiers aangespoor om met die werk aan te gaan. Soos die God van Israel beveel het en op bevel van Kores, Darius en Artasasta, die konings van Persië, het hulle die tempel uiteindelik klaar gebou. 15Die werk aan die tempel was klaar op 12 Maart. Dit was in die sesde jaar wat koning Darius regeer het.
16Die mense van Israel, die priesters, die Leviete en al die mense wat uit ballingskap teruggekom het, het die tempel van God met groot blydskap ingewy. 17By die inwyding van die tempel van God is 100 jong bulle, 200 skaapramme en 400 lammers geoffer. Hulle het ook twaalf bokramme as ’n sonde-offer vir die twaalf stamme van Israel geoffer. 18Hulle het die priesters en die Leviete in verskillende groepe ingedeel om God in Jerusalem te dien net soos dit in Moses se boek voorgeskryf is.
Viering van die Paasfees
19Op 21 April#6:19 Grondteks Op die veertiende dag van die sewende jaar van die koning. het die ballinge wat teruggekom het, die Paasfees gevier. 20Die priesters en die Leviete het hulle almal gereinig vir die geleentheid en hulle was seremonieel rein. Hulle het die paaslam vir die mense wat teruggekeer het, vir die ander priesters en vir hulleself geslag. 21Die Israeliete wat uit ballingskap teruggekeer het, het die paasmaal geëet saam met ander mense van die land. Dit was van die mense wat nie langer aan afgodsdiens deelgeneem het nie, maar die Here, die God van Israel, gedien het. 22Hulle het vir sewe dae lank die Fees van die Ongesuurde Brood gevier. Die mense in die land was baie bly, want die Here het die gesindheid van die Assiriese koning teenoor hulle verander. Die koning het hulle gehelp sodat hulle die tempel van God, die God van Israel, kon herbou.

Currently Selected:

ESRA 6: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy