YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 23

23
Egbreuk van twee susters
1Die Here het vir my gesê: 2“Mensekind, daar was twee sussies, dogters van dieselfde ma. 3Hulle het prostitute in Egipte geword. Selfs as jong kinders het hulle al toegelaat dat hulle betas en geliefkoos word.
4“Die ouer dogter se naam was Ohola, en haar sussie was Oholiba. Ek het met hulle getrou, en hulle het seuns en dogters by My gehad. Ohola is Samaria, en Oholiba is Jerusalem.
5“Ohola was ontrou aan My. Sy het ander minnaars, die Assiriërs wat haar bure was, bo My verkies. 6Hulle was almal aantreklike jong mans, goewerneurs en bevelvoerders, met pers klere aan. Hulle het op perde rondgejaag. 7Sy was ’n prostituut vir die begeerlikste Assiriërs. En sy het die gode van haar minnaars aanbid. 8Toe sy weggetrek het uit Egipte waar sy saam met jong mans geslaap het wat haar as maagd onteer het, het sy nie opgehou om haar as prostituut aan te bied nie. 9Daarom het Ek haar aan haar minnaars oorgelewer, die Assiriërs wat sy so begeer het. 10Hulle het haar kaal uitgetrek en haar doodgemaak. Hulle het haar kinders weggeneem. Elke vrou in die land het van haar geweet: sy was die sondaar wat gekry het wat sy verdien het.
11“Alhoewel Oholiba gesien het wat met haar sussie gebeur, het sy aangehou om presies net so te maak. Trouens, sy was selfs nog erger. Sy het haar ten volle oorgegee aan haar sonde en prostitusie. 12Sy het na die Assiriërs gesmag, die aantreklike jong mans op trotse perde, goewerneurs en bevelvoerders in mooi klere. Almal van hulle was begeerlik. 13Ek het gesien hoe sy haar verontreinig het, hoe albei sussies dieselfde doen.
14“Maar sy het nog verder gegaan. Sy het verlief geraak op prentjies wat teen ’n muur geverf was, prentjies van Babiloniese offisiere, met rooi verf geverf. 15Hulle het mooi gordels gedra, met kopdoeke om hulle koppe. Hulle het nes die offisiere gelyk wat uit Babilonië kom. 16Toe sy hulle sien, het sy daarna gesmag om haarself vir hulle te gee. Daarom het sy boodskappers na Babilonië gestuur. 17Hulle het gekom en by haar kom slaap. Hulle het haar met hulle onsedelikheid kom besoedel. Later het sy ’n weersin in hulle gekry en haar verhouding met hulle verbreek.
18“Daarom het Ek ’n weersin in Oholiba gekry, net soos in haar suster. Sy het mos haar lyf verkoop en haarself vir enigeen uitgetrek. 19Maar sy het nie omgegee nie. Sy het net nog meer onsedelik geraak, nes in die dae toe sy nog jonk was, ’n prostituut in Egipte. 20Daar het sy agter haar minnaars aangeloop, wat so driftig soos donkie- en perdehingste was. 21Ja, jy het gesmag na jou afskuwelike gedrag in Egipte toe jy jonk was, toe jy toegelaat het dat jy betas en geliefkoos word.”
Die Here oordeel Oholiba
22“Daarom, Oholiba, so sê die oppermagtige Here: Ek stuur jou minnaars in wie jy ’n weersin gekry het as vyande teen jou. Hulle sal van alle kante af teen jou kom. 23Die Babiloniërs sal saam met al die Galdeërs kom vanaf Pekod en Soa en Koa. En die Assiriërs sal saam met hulle kom – aantreklike jong goewerneurs en bevelvoerders, offisiere en belangrike mense, almal te perd. 24Hulle sal vanuit die noorde teen jou kom met strydwaens, waens en ’n groot leërmag. Hulle sal aan elke kant teen jou stelling inneem en jou omring met soldate wat gereedstaan vir die geveg. Ek sal jou aan hulle oorgee, en hulle sal met jou maak net wat hulle wil. 25Ek stort my wraak uit oor jou. Hulle sal hulle op jou wreek en jou neus en ore afsny. Enigeen wat dit oorleef, sal in die geveg doodgemaak word. Hulle sal jou kinders wegvoer en alles wat agterbly, verbrand. 26Jou klere en juwele sal hulle vir hulleself vat. 27So maak Ek ’n einde aan jou afstootlike optrede en prostitusie wat jy van Egipte af saamgebring het. Jy sal nooit weer na jou minnaars soek nie, en nie meer aan Egipte dink nie.
28“So sê die oppermagtige Here: Ek sal jou oorgee aan jou vyande, dié wat jy geminag het. 29Hulle sal jou met haat behandel, alles vat waarvoor jy gewerk het, en jou kaal agterlaat. Die hele wêreld sal jou kaal sien staan in jou afskuwelike onsedelikheid. 30Ek het dit alles oor jou gebring omdat jy ’n prostituut vir die nasies geword het en jou met hulle afgode besoedel het. 31Jy het nes jou sussie gemaak; daarom straf Ek jou op dieselfde manier as vir haar.
32“So sê die oppermagtige Here:
Jy sal dieselfde beker moet drink
as jou sussie,
’n beker wat groot en diep is.
Almal sal met jou spot
omdat jou straf so groot is.
33Jy sal in jou hartseer
soos ’n dronkaard rondslinger,
net soos jou sussie, Samaria.
34Jy sal die beker drink,
dit leeg drink,
en dit stukkend breek
terwyl jy jou borste oopruk,
sê die oppermagtige Here.
35“Omdat jy My vergeet het en jou rug op My gedraai het, sê die oppermagtige Here, sal jy die gevolge van jou afskuwelike onsedelikheid moet dra.”
Die Here se oordeel oor albei susters
36Die Here het vir my gesê: “Mensekind, kla Ohola en Oholiba aan oor hulle verskriklike dade. 37Hulle het egbreuk en moord gepleeg – egbreuk deur afgode te aanbid, en moord toe hulle hulle kinders as offers op hulle altare verbrand het. 38Ná dit alles het hulle ook my woonplek verontreinig en my Sabbatdae geminag. 39Op dieselfde dag wat hulle hulle kinders voor die afgode vermoor het, het hulle ewe dapper in my woonplek gekom om My te aanbid! Hulle het ingestap en my huis verontreinig!
40“Julle het boodskappers na ver lande gestuur om mans te kry. Toe hulle aankom, het jy jouself vir hulle gebad, jou gesig opgemaak en jou mooiste juwele aangesit om hulle te beïndruk. 41Jy het saam met hulle op ’n mooi bed gaan sit. Die wierook en olie wat Ek vir jou gegee het, het jy op die tafel voor jou geplaas. 42Die geraas van sorgelose mense kon uit jou slaapkamer gehoor word. Hulle was dronkaards uit die woestyn wat vir jou armbande aangesit en mooi krone opgesit het. 43Toe het Ek gesê: ‘Het hulle by ’n ou prostituut wat opgebruik is, kom slaap? Dis wat sy is!’ 44En dis wat hulle gedoen het. Hulle het by Ohola en Oholiba geslaap, die skaamtelose prostitute. 45Regverdige mense sal die twee susterstede oordeel vir wat hulle eintlik is: egbrekers en moordenaars. Regverdige mense sal hulle die straf oplê wat hulle verdien.
46“So sê die oppermagtige Here: Bring ’n hele leër teen hulle en laat hulle geterroriseer en geplunder word! 47Hulle vyande sal hulle met klippe gooi en met swaarde doodmaak. Hulle sal hulle seuns en dogters slag en hulle huise afbrand. 48Op hierdie manier sal Ek ’n stokkie steek voor die afskuwelike optrede in die land. En alle vroue sal dit sien en nie dieselfde dinge as hulle doen nie.
49“Julle sal gestraf word vir julle afskuwelike optrede, toe julle afgode aanbid het. Julle sal die straf moet dra! Dan sal julle agterkom dat Ek die oppermagtige Here is.”

Currently Selected:

ESEGIËL 23: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy