YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 35

35
Die Sabbat
1Moses het al die Israeliete laat bymekaarkom. Hy het vir hulle gesê: “Hier is die voorskrifte wat die Here vir julle gegee het: 2Julle moet ses dae lank julle werk doen. Die sewende dag moet vir julle ’n heilige dag wees wat aan die Here gewy word en waarop gerus moet word.
“Enigeen wat op daardie dag werk, moet doodgemaak word. 3Op daardie dag mag julle selfs nie vuur in julle huise maak nie.”
Vrywillige bydraes vir die bou van die tabernakel
4Moses het vir die vergadering van die Israeliete gesê: “Dit is wat die Here beveel het. 5Gee vir die Here ’n vrywillige offer uit julle besittings. Almal wat bereid is, kan enigiets van die volgende vir die Here bring: goud, silwer of koper, 6blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar, 7rooigekleurde ramsvelle, gebreide velle of akasiahout, 8olie vir die lampe, balsem vir salfolie en vir geurige wierook, 9oniks en ander edelstene wat in die skouerkleed en borssak van die hoëpriester gesit kan word.
10“Almal onder julle wat die bekwaamheid het, moet kom om die dinge te maak wat die Here gesê het: 11die tabernakel#35:11, 15, 18, 21 Of tent van ontmoeting. met sy seile bo-oor, die hakies, die rame, die dwarsbalke en die regop pale met hulle voetstukke; 12die ark met sy drahoute; die deksel daarop en die gordyn wat dit afskort; 13die tafel met die pale waaraan dit gedra word en al sy toebehore; die offerbrood; 14die kandelaar en alles wat daarby hoort; sy lampies met hulle olie; 15die wierookaltaar en die pale waaraan dit gedra word; die salfolie en die geurige wierook; die gordyn by die ingang van die tabernakel#35:11, 15, 18, 21 Of tent van ontmoeting.; 16die brandofferaltaar met alles wat daarby hoort; sy koperrooster en die pale waaraan dit gedra word; die waskom en sy voetstuk; 17die materiaal vir die muur rondom die binnehof; die regop pale en hulle voetstukke; die gordyn by die opening van die binnehof; 18die tentpenne vir die tabernakel#35:11, 15, 18, 21 Of tent van ontmoeting. en vir die binnehof met hulle toue; 19die spesiale klere wat die priester dra wanneer hy in die heiligdom werk; Aäron en sy seuns se klere om hulle dienswerk in te doen.”
Voorbereiding vir die werk aan die tabernakel
20Almal van die vergadering is toe weg van Moses af. 21Elkeen wat so gevoel het, het uit vrye wil vir die Here iets gebring vir die tabernakel#35:11, 15, 18, 21 Of tent van ontmoeting. en sy toerusting, en vir die heilige klere wat gemaak moes word. 22Almal wat gewillig was, sowel mans as vroue, het gekom en vir die Here borsspelde, oorringe, halssnoere en voorwerpe van goud gegee. 23Elkeen wat blou, pers en bloedrooi wol gehad het, of linne, of bokhaar, of rooigekleurde ramsvel, of gebreide vel, het dit vir die Here gebring. 24Dié wat dit kon bekostig, het vir die Here iets van silwer of koper gebring. Elkeen wat akasiahout gehad het wat gebruik kon word om die meubels van die tent te maak, het dit gebring.
25Al die vroue wat bedrewe was met weefwerk het gekom en blou, pers en rooi materiaal en fyn linnestof vir die Here gebring. 26Die vroue wat gewillig was en dit kon doen, het bokhaar gespin. 27Die leiers het onikssteen en die ander edelstene geskenk wat vir die skouerstuk en die borssak nodig was. 28Hulle het ook die speserye en die olie vir die kandelaar gebring, die salfolie en die geurige wierook. 29So het elke man en vrou van die Israeliete wat bereid was, vrywillige bydraes gemaak om te help met die werk wat die Here vir hulle deur Moses opgedra het.
30Moses het vir die Israeliete gesê: “Die Here het Besaleël, die seun van Uri uit die Judastam gekies. 31God se Gees gee vir hom die verstand, die kennis en die vaardigheid vir die werk wat gedoen moet word. 32Hy kan voorwerpe maak uit goud, silwer en koper. 33Hy kan edelstene bewerk en dit monteer en ook houtsnywerk doen. Hy is in staat om enige kunswerk te maak. 34God het vir hom en Oholiab, seun van Agisamak uit die Danstam, die vermoë gegee om ander op te lei. 35Die Here stel hulle in staat om graveerwerk, borduurwerk en weefwerk te doen met blou, pers en bloedrooi wol en linne.”

Currently Selected:

EKSODUS 35: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy