YouVersion Logo
Search Icon

PREDIKER 2

2
1Ek het vir myself gesê:
“Kom ek beproef plesier,
en geniet die lewe!”
Maar ook dit was sinloos!
2Ek het gesê:
“Om te lag, is dwaasheid,
en watter vreugde bring dit?”
3Ek het gewonder wat sal gebeur
as ek my liggaam
met wyn verkwik,
terwyl my verstand
my met wysheid begelei,
as ek dwaasheid vir ’n tyd omarm
tot ek vasgestel het
wat die beste is
waarmee ’n mens
hom sy lewe lank
onder die hemel besig kan hou.
4Ek het toe ook groot projekte
aangepak.
Ek het huise vir myself gebou
en groot wingerde
vir myself aangelê.
5Ek het vir myself
tuine en parke uitgelê
en verskillende vrugtebome
daarin geplant.
6Ek het damme vir myself gebou
om die tuine vol jong bome
nat te lei.
7Ek het slawe en slavinne
aangekoop.
Ander is as slawe
in my huis gebore.
Ek het groot troppe beeste
en kleinvee besit,
meer as enigeen wat voor my
in Jerusalem geleef het.
8Ek het baie silwer en goud
vir myself bymekaargemaak,
asook ’n skat van konings
en provinsies.
Ek het sangers en sangeresse
aangestel,
en die dinge bekom
waarmee mense
die lewe geniet,
naamlik een meisie na die ander.
9Ek het ver uitgestyg
bo almal voor my
in Jerusalem,
en my wysheid
het my baie gehelp.
10Alles wat my oë begeer het,
het ek my nie ontsê nie.
Ek het my nie teruggehou
van enige plesier nie.
Ek het genot gevind
in my harde werk.
Dit was my beloning
vir al my inspanning.
11Ek het daarna egter nagedink
oor alles wat ek bereik het,
oor al die moeite
wat ek gedoen het.
Ek het besef
hoe sinloos dit alles is.
Dis niks anders as ’n gejaag
na wind nie.
Daar is geen voordeel
onder die son nie.
Die wyses en dwases
12Ek het toe besluit
om wysheid en dwaasheid
teen mekaar op te weeg.
Wat anders kan ’n koning
se opvolger bereik
as wat reeds bereik is?
13Ek het wel gesien
dat wysheid meer waarde het
as dwaasheid,
net soos lig beter is as donkerte.
14Want wyse mense
kan sien waar hulle gaan,
terwyl die dwaas
in die donker loop.
Maar tog het ek besef
dieselfde lot tref sowel wyses
as dwase.
15“As my lot dieselfde is
as dié van dwase,
wat is die sin om wys te wees?”
het ek my afgevra.
Ek het besef
dit is ook alles sinloos.
16Want die wyse mens
en die dwaas
gaan albei dood,
en niemand onthou hulle nie.
In die toekoms
word albei vergeet!
Harde werk is sinloos
17Ek was nie meer lus
om te lewe nie,
want wat onder die son
gedoen word,
het my teleurgestel.
Alles is sinloos
en ’n blote gejaag na wind.
18Ek was moeg vir alles
waarvoor ek in hierdie wêreld
hard gewerk het,
want ek moet dit alles nalaat
aan die een wat ná my kom.
19En wie sal weet of hy ’n wyse
of dwaas gaan wees?
En tog sal hy beheer uitoefen
oor alles
wat ek met moeite en wysheid
onder die son
tot stand gebring het.
Dit alles is dus sinloos!
20Ek het dus opgehou
om myself tot wanhoop te dryf
oor alles waarmee ek
met soveel moeite onder die son
my besig gehou het.
21Want ’n mens
wat met wysheid
en bekwaamheid
gewerk het,
moet sy besittings
oorgee aan iemand
wat nie daarvoor gewerk het nie.
Dis alles sinloos en vrugteloos!
22Wat kry die mens
vir al sy harde werk
waarmee hy hom
met soveel ywer
onder die son vermoei?
23Sy hele lewe is vol
pyn en leed.
En alles wat hy onderneem,
is verdriet.
Selfs in die nag
kry hy nie rus nie.
Ook dit is alles sinloos.
24Daar is vir die mens niks goeds
behalwe dat hy kan eet
en drink
en ten spyte van sy arbeid
nog die goeie kan geniet nie.
Ek het besef dit is ’n gawe
wat uit God se hand kom.
25Want wie kan sonder Hom
enigiets eet of geniet?
26God gee wysheid,
kennis en blydskap
vir die mens wat Hom vreugde bring.
Maar van die dwaas eis Hy
om rykdom op te gaar
en bymekaar te maak,
net om dit te gee aan iemand
met wie God tevrede is.
Dit is ook sinloos,
’n blote gejaag na wind!

Currently Selected:

PREDIKER 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy