YouVersion Logo
Search Icon

DEUTERONOMIUM 7

7
Wis die vreemde volke uit
1“Wanneer die Here jou God jou inbring in die land waarheen jy op pad is om dit in besit te gaan neem, sal Hy baie nasies voor jou verdryf: die Hetiete, Girgasiete, Amoriete, Kanaäniete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete. Hierdie sewe nasies is almal sterker as jy. 2Wanneer die Here jou God hierdie nasies in jou hande oorgee en jy hulle oorwin, moet jy hulle heeltemal uitwis#7:2 Of met die banvloek tref.. Moenie ooreenkomste met hulle sluit nie en moenie hulle genadig wees nie. 3Moenie met hulle ondertrou nie. Moenie toelaat dat jou dogters en seuns met hulle seuns en dogters trou nie. 4Hulle sal jou jongmense van My af weglei om ander gode te aanbid. Dan sal die woede van die Here teen jou ontvlam en sal Hy jou vernietig. 5In plaas daarvan, breek hulle heidense altare af en verwoes hulle heilige klippilare. Kap hulle Asjerapale af en verbrand hulle afgode. 6Jy is immers ’n heilige volk wat aan die Here jou God behoort. Die Here jou God het jou uit al die volke op aarde gekies om sy eiendomsvolk te wees.
7“Die Here het jou nie gekies of liefgehad omdat jy meer of groter was as die ander nasies nie. Trouens, jy was die kleinste van al die nasies! 8Dit was net omdat die Here jou liefgehad het en omdat Hy die eed wat Hy gesweer het aan jou voorouers nagekom het. Dit is die rede waarom die Here jou met sulke verstommende krag gered het uit die slawerny onder die farao in Egipte. 9Verstaan daarom dat die Here jou God inderdaad God is. Hy is die getroue God wat sy verbond vir duisend geslagte hou. Hy hou nie op om dié mense lief te hê wat Hom liefhet en sy gebooie gehoorsaam nie. 10Maar, Hy huiwer ook nie om die mense wat Hom haat, te straf en te vernietig nie. 11Daarom, gehoorsaam eerder al hierdie opdragte, voorskrifte en bepalings wat ek vandag vir jou gee.
12“As jy luister na hierdie gebooie en dit getrou gehoorsaam, sal die Here jou God sy verbond van troue liefde met jou nakom, net soos Hy dit plegtig aan jou voorouers beloof het. 13Hy sal jou liefhê en jou seën en jou ’n groot nasie maak. Hy sal vir jou baie kinders gee en Hy sal jou land en jou diere vrugbaar maak. Wanneer jy aankom in die land wat Hy aan jou voorouers beloof het, sal jy groot oeste van graan, druiwe en olywe hê. Jy sal ook groot troppe beeste, skape en bokke hê. 14Jy sal meer geseënd wees as al die volke van die aarde. Nie een van jou mans of vroue sal onvrugbaar wees nie en ook nie jou diere nie. 15Die Here sal jou bewaar van alle siektes. Hy sal sorg dat die verskriklike siektes wat jy in Egipte geken het jou nie tref nie. Hy sal die siektes eerder op jou vyande laat neerkom!
16“Vernietig al die nasies wat die Here jou God aan jou oorgee. Moenie hulle spaar nie en moenie hulle gode aanbid nie. As jy dit doen, sal dit vir jou ’n valstrik wees. 17Miskien sal jy dink: ‘Hoe sal ons ooit hierdie nasies kan oorwin wat soveel sterker is as ons?’ 18Moenie vir hulle bang wees nie! Onthou net wat die Here jou God aan die farao en aan die hele Egipte gedoen het. 19Met jou eie oë het jy die verskriklike dinge gesien wat die Here jou God na hulle gestuur het. Onthou die tekens en wonderdade en die geweldige krag wat die Here gebruik het om jou uit Egipte te lei. Hierdie selfde krag sal die Here jou God gebruik teen die volke waarvoor jy bang is. 20Dan sal die Here jou God paniek onder hulle saai#7:20 Of perdebye of ’n plaag stuur. om die paar oorlewendes wat nog vir jou wegkruip, uit te dryf!
21“Nee, moenie vir daardie nasies bang wees nie, want die Here jou God is by jou en Hy is ’n groot en ontsagwekkende God. 22Die Here jou God sal daardie nasies een vir een voor jou uit verdryf. Jy sal hulle nie sommer almal eensklaps kan verdryf nie, want as jy dit doen, sal die wilde diere te vinnig teen jou vermeerder. 23Die Here jou God sal hulle aan jou oorgee. Hy sal hulle heeltemal verwar tot hulle vernietig is. 24Hy sal hulle konings in jou mag oorgee en jy sal hulle name van die aarde af wegvee. Niemand sal teen jou staande kan bly nie en jy sal hulle almal uitwis.
25“Hulle afgode moet jy met vuur verbrand. Moenie die silwer en goud waarvan hulle gemaak is, begeer nie. Moet dit nie vir jou vat nie. Dit sal ’n valstrik vir jou word, iets wat veragtelik is vir die Here jou God. 26Moenie enige van daardie veragtelike goed in jou huis inbring nie, want dan kan jy vernietig word, net soos hulle. Jy moet hierdie goed as veragtelik beskou, want dit is gedoem tot vernietiging.”

Currently Selected:

DEUTERONOMIUM 7: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy