YouVersion Logo
Search Icon

2 TIMOTEUS 2

2
Wees ’n goeie soldaat van Christus Jesus!
1Timoteus, my kind, staan sterk in die genade wat God deur Christus Jesus aan jou bewys het.
2Vertrou die waarhede wat jy voor baie getuies van my gehoor het, toe aan betroubare mense wat bekwaam is om dit aan ander deur te gee.
3Verduur saam met my lyding soos ’n goeie soldaat van Christus Jesus. 4Geen soldaat raak verstrengeld in die beslommernisse van hierdie lewe nie, want dan kan hy die een wat hom vir sy leër gewerf het, nie tevrede stel nie. 5’n Atleet word nie gekroon as hy nie volgens die reëls deelneem nie. 6Hardwerkende boere is die eerste wat die vrug van hulle arbeid geniet. 7Dink na oor wat ek sê. Die Here sal jou help om al hierdie dinge beter te begryp.
8Onthou voortdurend dat Jesus Christus uit koning Dawid se nageslag gebore is en dat Hy uit die dood opgewek is. Dit is die Goeie Nuus wat ek verkondig. 9En omdat ek hierdie Goeie Nuus verkondig, ly ek en is ek soos ’n misdadiger in kettings geslaan. Maar die woord van God kan nie vasgeketting word nie. 10Ek is bereid om vir dié wat deur God gekies is, enigiets te verduur as dit vir hulle deur Christus Jesus verlossing en ewige heerlikheid sal bring. 11Hierdie woord is absoluut waar:
As ons saam met Hom sterf,
sal ons ook saam met Hom lewe.
12As ons verdrukking ly,
sal ons saam met Hom regeer.
As ons Hom ontken,
sal Hy ons ook ontken.
13Maar as ons ontrou is –
Hy bly getrou,
want Hy kan Homself nie ontken nie.
Werk hard en verduidelik die woord van die waarheid reg
14Herinner almal aan hierdie dinge, en vermaan hulle in God se Naam om op te hou met ’n bakleiery oor woorde. Sulke argumente is nutteloos en kan die mense ruïneer wat dit aanhoor. 15Werk hard sodat God jou kan goedkeur. Wees ’n goeie werker, een wat nie nodig het om hom te skaam nie; iemand wat die woord van die waarheid reg verduidelik. 16Vermy goddelose en dwase gepraat wat net tot verdere goddeloosheid lei. 17Hierdie soort praatjies versprei soos kanker. Himeneus en Filetus is voorbeelde hiervan. 18Hulle het die pad van die waarheid verlaat met hulle bewering dat die opstanding van die dooies alreeds plaasgevind het. Daarmee het hulle die geloof van sommige ondermyn.
19Maar God se waarheid staan vas soos ’n fondamentsteen met die volgende inskripsie: “Die Here ken dié wat aan Hom behoort,”#2:19a Num 16:5. en: “Dié wat beweer dat hulle aan die Here behoort, moet wegdraai van alle boosheid.”#2:19b Vgl Jes 52:11; Num 16:26.
20In ’n rykmanshuis is sommige gebruiksartikels van goud en silwer, en ander weer van hout en klei. Die kosbare artikels word by spesiale geleenthede gebruik en die goedkoperes is vir gewone gebruik. 21As jy jouself skoon hou van die verkeerde, sal jy ’n kosbare item wees, ’n spesiale besitting van die Huiseienaar#2:21 Grondteks geheilig wees., een wat Hy nuttig kan gebruik en wat gereed is vir enige goeie taak.
22Vlug vir enigiets wat jeugdige drange aanwakker. Spits jou daarop toe om reg voor God te lewe. Streef na geregtigheid, geloof, liefde en vrede saam met dié wat die Here met rein harte aanroep.
23Ek sê weer, moenie betrokke raak in dwase, onsinnige argumente wat net twis veroorsaak nie.
24Die Here se diensknegte moenie twis nie, maar moet goedgesind teenoor almal wees. Hulle moet bekwaam wees om mense doeltreffend te onderrig en geduldig wees met moeilike mense. 25Hulle moet dié wat die waarheid teenstaan, sagmoedig onderrig. Miskien sal God daardie mense se harte verander, en sal hulle die waarheid leer ken.
26Dan sal hulle tot hulle sinne kom en uit die duiwel se strik ontsnap. Want hulle word deur hom gevange gehou om net te doen wat hy wil hê.

Currently Selected:

2 TIMOTEUS 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy