YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 16

16
Dawid gee Mefiboset se eiendom vir Siba
1Dawid was net oor die kruin van die heuwel toe Siba, die bestuurder van Mefiboset se eiendom, hom onverwags teëkom. Hy het twee donkies by hom gehad, gelaai met 200 brode, 100 trosse rosyntjies, 100 houers vrugte en ’n sak vol wyn. 2“Wat wil jy met al hierdie goed doen?” vra die koning vir Siba.
Siba antwoord: “Die donkies is vir u gesin om op te ry, die brood en vrugte is vir u manskappe om te eet. Die wyn is vir hulle wat in die wildernis uitgeput raak.”
3“Waar is Mefiboset?” vra die koning hom.
“Hy het in Jerusalem agtergebly,” antwoord Siba. “Hy dink: ‘Vandag sal Israel die koninkryk van my oupa Saul vir my teruggee.’”
4“O, so!” sê die koning vir Siba. “Alles wat Mefiboset besit, gee ek nou vir jou!”
“Ek buig voor u in dankbaarheid, my heer die koning,” antwoord Siba. “Mag ek altyd u guns geniet.”
Simeï vloek Dawid
5Toe Dawid en sy geselskap by Bagurim aankom, kom ’n man uit die dorp en vloek hulle so ver as wat hy gaan. Sy naam was Simeï, seun van Gera en ’n lid van Saul se familie. 6Hy het klippe gegooi na die koning en sy amptenare, asook na die dapper krygsmanne wat links en regs van die koning was. 7Terwyl hy klippe gooi, skree hy: “Maak dat jy wegkom, jou moordenaar, jou skurk! 8Die Here vergeld jou nou omdat jy Saul en sy familie uitgeroei en in sy plek koning geword het. Nou gee die Here dit aan jou seun Absalom, terwyl die onheil jou tref omdat jy ’n moordenaar is!”
9“Hoekom laat u toe dat hierdie lae hond my heer die koning vloek?” vra Abisai, seun van Seruja, vir die koning. “Laat ek tog sy kop van hom gaan afkap!”
10“Nee!” sê die koning. “Dit het niks met my of julle te doen nie, seuns van Seruja. Hy vloek so omdat die Here vir hom gesê het ‘Vloek Dawid’. Laat hy dit maar doen. Wie kan dan vra: ‘Hoekom doen jy dit?’” 11Dawid sê verder vir Abisai en die amptenare: “My eie seun probeer my doodmaak. Hoeveel te meer hierdie Benjaminiet? Los hom uit en laat hom vloek, want die Here het vir hom gesê om dit te doen. 12Dalk sal die Here my swaarkry raaksien en my seën as gevolg van hierdie vervloekings.” 13Dawid en sy mense het verder getrek. Simeï het op die oorkantse heuwel gelyk met hulle geloop en gedurig bly vloek, klippe gegooi en stof opgeskop.
14Die koning en sy geselskap het moeg by hulle bestemming#16:14 Grondteks meld nie die plek van aankoms nie. Dis waarskynlik die Jordaanrivier. aangekom en daar gerus.
Agitofel se raad aan Absalom
15Intussen het Absalom en die hele leër van Israel by Jerusalem aangekom. Agitofel was saam met hom. 16Toe Dawid se vriend Gusai die Erekiet by Absalom aankom, sê hy vir hom: “Lank lewe die koning! Lank lewe die koning!”
17“Is jy dan nie aan jou vriend getrou nie?” vra Absalom. “Hoekom het jy nie saam met hom gegaan nie?”
18“Nee! Ek is getrou aan die een vir wie die Here, hierdie mense en die magte van Israel gekies het. Al my lojaliteit gaan na hom toe,” antwoord Gusai. 19“Wie sal ek dien? Behoort ek nie die seun te dien nie? Soos ek u pa gedien het, so sal ek nou vir u dien!”
20Daarna vra Absalom vir Agitofel: “Gee julle nou vir my raad oor wat my nou te doen staan!”
21Agitofel sê vir hom: “Gaan en slaap by jou pa se byvroue wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas. Dan sal die hele Israel weet dat jy jou pa beledig het sodat daar geen sprake van versoening meer is nie. Dit sal u volgelinge se hande versterk.” 22Hulle het toe ’n tent bo-op die dak van die paleis opgerig sodat almal kon sien hoe hy by sy pa se byvroue gaan slaap.
23Absalom het Agitofel se raad aanvaar net soos Dawid gedoen het, want elke woord wat Agitofel gesê het, was destyds asof dit direk van God afkomstig was.

Currently Selected:

2 SAMUEL 16: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy