YouVersion Logo
Search Icon

2 PETRUS 3

3
Tot met Jesus se terugkeer is dit genade- en gereedmaaktyd
1Geliefdes, dit is al die tweede brief wat ek aan julle skryf. In albei het ek probeer om julle weer helder te laat dink deur julle geheue te verfris.
2Ek wil hê julle moet die woorde onthou van die profete wat aan God toegewy was#3:2 Grondteks die heilige profete.. Onthou ook wat ons Here en Verlosser julle deur julle apostels beveel het.
3Heel eerste wil ek julle herinner dat daar in die laaste dae mense op die toneel sal verskyn wat die waarheid bespotlik maak en doen net waarvoor hulle lus is. 4Hulle sal soos volg redeneer: “Jesus het belowe Hy sal terugkeer, nie waar nie? Nou maar wat het van daardie belofte geword? Julle weet self: So ver terug as wat mense kan onthou#3:4 Of Van die tyd dat ons voorvaders gesterf het., van die skepping af, bly alles nog net soos dit was.”
5Hulle vergeet opsetlik dat God lank gelede met sy woord die hemele geskep het, en dat Hy die aarde uit water laat opkom het en met water omring het#3:5 Grondteks uit water en deur water laat ontstaan het.. 6En dit is ook met water dat Hy die destydse wêreld oorstroom en laat vergaan het. 7God het presies só – deur sy woord – beskik dat die hemele en die aarde deur vuur verteer sal word op die dag waarop goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.
8Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: Vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag. 9Die Here stel nie die vervulling van sy beloofde terugkeer uit soos party mense dink nie. Nee, Hy wag geduldig ter wille van julle. Hy wil nie hê dat sommige verlore gaan nie, en daarom gee Hy meer tyd dat almal tot inkeer kan kom. 10Maar die Dag van die Here sal so onverwags kom soos ’n dief. Dan sal die hemele met ’n groot gedruis verdwyn, die hemelliggame in vuur opgaan en die aarde met alles wat daarop is, vergaan#3:10 Sommige manuskripte sal verbrand word; ander sal nie gevind word nie; nog ander sal ontbloot word..
11Aangesien alles om ons só gaan wegbrand, moet julle leefstyl soveel meer aan God toegewy wees en moet julle naby aan Hom lewe! 12Sien uit na die Dag van God en maak dat dit nog gouer kom, die dag waarop die Here die hemele aan die brand sal steek en die hemelliggame in vlamme sal wegsmelt. 13Maar ons sien uit na die nuwe hemele en ’n nuwe aarde, soos God belowe het. Dáár sal almal voor God reg lewe#3:13 Grondteks in geregtigheid woon..
14Daarom, geliefdes, terwyl julle wag dat hierdie dinge gebeur, moet julle hard werk om vlekkeloos en sonder fout deur God bevind te word. Lewe in vrede#3:14 Of in harmonie. met God. 15En onthou: Die Here se geduld is ’n geleentheid om verlos te word. Dis presies soos Paulus, ons geliefde broer, aan julle geskryf het met die wysheid wat God hom gegee het. 16Hy praat hieroor in al sy briewe. Sommige van die opmerkings in sy briewe is moeilik om te verstaan. Oningeligtes en mense sonder beginsels verdraai sy briewe, soos hulle dit trouens ook met ander dele van die Skrif doen. Só bewerk hulle hulle eie ondergang.
Petrus se slotwoorde
17Geliefdes, julle weet dit nou vooruit. Wees dus op julle hoede dat julle nie saamgesleep word deur die dwaling van hierdie slegte mense nie.
Ek wil nie hê dat julle julle eie standvastigheid verloor nie.
18Sorg liewer dat julle steeds groei in die genade#3:18 Of onverdiende goedheid. en kennis van ons Here en Verlosser, Jesus Christus.
Aan Hom behoort die heerlikheid vir altyd en altyd. Amen.

Currently Selected:

2 PETRUS 3: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy