YouVersion Logo
Search Icon

2 KONINGS 10

10
Jehu roei Agab se familie uit
1Agab het 70 seuns gehad wat in Samaria gewoon het. Jehu skryf toe briewe en stuur dit na Samaria toe, na die regeerders van Jisreël, na die leiers en na die oppassers van koning Agab se seuns. In die brief sê hy: 2“Die koning se seuns is daar by julle en julle het strydwaens, perde, ’n versterkte stad en wapens. Sodra julle hierdie brief ontvang, 3moet julle die beste en bekwaamste van koning Agab se seuns as koning aanwys. Wees dan gereed om vir Agab se koningshuis te veg.”
4Maar hulle was doodbang en sê: “Twee konings kon nie teen hierdie man weerstand bied nie! Hoe sal ons dit kan doen?” 5Gevolglik het die paleisbestuurder en die persoon in beheer van die stad, asook die ander leiers en die oppassers van die koning se seuns die volgende brief aan Jehu gestuur:
“Ons is u dienaars en sal enigiets doen wat u ons beveel. Ons sal niemand koning maak nie. Doen wat u dink die beste is.”
6Jehu het ’n tweede brief gestuur:
“As julle aan my kant is en vir my wil luister, moet julle môre teen hierdie tyd die koppe van die koning se seuns na my toe bring in Jisreël.”
Die 70 seuns van die koning is versorg deur vooraanstaandes van die stad wat hulle moes grootmaak. 7Toe die leiers die brief ontvang, het hulle die koning se seuns geneem en al 70 doodgemaak. Hulle het die koppe in mandjies gesit en dit na Jehu in Jisreël gestuur. 8Die boodskapper het gekom en gesê: “Hulle het die koppe van die koning se seuns gebring.” Jehu beveel toe: “Sit dit in twee hope by die poort van die stad en los dit daar tot môre-oggend.”
9Die volgende oggend gaan hy buitentoe en gaan staan daar in die poort. Hy sê vir die groeiende skare: “Julle is onskuldig. Kyk, dis ek wat teen die koning saamgesweer en hom doodgemaak het. Maar wie het al hierdie mense doodgemaak? 10Weet dan dat niks van wat die Here aangaande Agab se familie gesê het, onvervul sal bly nie. Die Here het gedoen wat Hy deur sy dienaar Elia aangekondig het.” 11Daarna het Jehu al Agab se bloedverwante wat nog in Jisreël oor was, doodgemaak, asook al die vooraanstaandes, sy vriende en sy priesters. So het dit gebeur dat daar vir Agab niemand oorgebly het nie.
12Toe het Jehu na Samaria toe vertrek. Op pad, by Bet-Eked-Roïm, 13kom hy bloedverwante van koning Ahasia van Juda teë. “Wie is julle?” vra hy.
Hulle antwoord hom: “Ons is naasbestaandes van koning Ahasia. Ons is op pad om die seuns van die koning en van die koninginmoeder te besoek.”
14“Vang hulle lewendig!” beveel Jehu. Hulle het toe al 42 gevang en net daar by die put van Bet-Eked doodgemaak. Nie een van hulle het oorgebly nie.
15Toe Jehu verder gaan, kry hy vir Jonadab seun van Rekab wat hom tegemoetkom. Nadat hy hom gegroet het, sê Jehu vir hom: “Is jy lojaal aan my soos ek lojaal is aan jou?”
“Ja, ek is,” antwoord Jonadab.
“As jy is,” sê Jehu, “gee my dan jou hand.” Jonadab gee hom toe sy hand en Jehu het hom op sy wa laat klim. 16Daarna sê Jehu: “Kom saam met my en jy sal my toewyding aan die Here sien.” Jonadab het toe saam met hom gery. 17Toe Jehu in Samaria aankom, het hy almal doodgemaak wat nog oor was van Agab se bloedverwante. Hy het hulle uitgeroei soos die Here deur Elia gesê het.
Jehu maak die profete van Baäl dood
18Daarna het Jehu al die inwoners van die stad bymekaargeroep en gesê: “Agab se verering van Baäl is niks in vergelyking met wat ek sal doen nie! 19Roep nou al die profete en aanbidders van Baäl, asook al die priesters na my toe. Niemand mag wegbly nie, want ek gaan ’n groot offer aan Baäl bring. Enigeen wat nie opdaag nie, sal doodgemaak word.” Maar eintlik was Jehu van plan om al die Baälaanbidders uit te roei.
20Toe beveel Jehu: “Heilig ’n byeenkoms ter ere van Baäl!” Hulle het dit gedoen. 21Hy het boodskappers deur die hele Israel gestuur om die Baälaanbidders op te roep. Hulle almal het gekom; niemand het weggebly nie. Hulle het ingegaan in die Baältempel sodat dit van hoek tot kant vol was. 22Jehu het aan die persoon in bevel van die klerekamer gesê: “Maak seker dat elke aanbidder van Baäl een van hierdie kledingstukke aanhet.” Daar is toe aan hulle klere uitgedeel.
23Daarna het Jehu saam met Jonadab seun van Rekab die tempel binnegegaan. Toe sê Jehu vir die Baälaanbidders: “Kyk goed dat net aanbidders van Baäl hier is. Sorg dat geen aanbidder van die Here hier inkom nie!” 24Toe hulle ingaan in die tempel om offers en brandoffers te bring, het Jehu 80 van sy manne buitekant opgestel. Hy het hulle beveel: “As julle enigeen toelaat om te vlug, sal julle met julle eie lewens daarvoor boet.”
25Net nadat Jehu die brandoffer gebring het, beveel hy die hardlopers en offisiere: “Gaan in en maak hulle almal dood. Nie een van hulle mag uitkom nie!” Hulle het hulle toe met die swaard doodgemaak en die wagte en offisiere het die liggame buitentoe gesleep. Daarna het hulle ingegaan in die binneste heiligdom van die Baältempel, 26die Asjerapaal uit die Baältempel uitgebring en verbrand. 27Hulle het die heilige klippilaar van Baäl stukkend geslaan, die tempel van Baäl verwoes en dit omskep in toilette, soos dit vandag nog is. 28So het Jehu elke teken van Baälaanbidding in Israel uitgeroei. 29Hy het egter nie die goue kalwers in Bet-El en Dan vernietig nie. Daarom het Israel die verering daarvan voortgesit, net soos Jerobeam seun van Nebat gedoen het.
30Nogtans het die Here vir Jehu gesê: “Jy het goedgedoen deur my bevele uit te voer, naamlik om die familie van Agab uit te roei. Omdat jy reg gedoen het, sal Ek toesien dat jou kinders tot in die vierde geslag konings van Israel sal wees.” 31Maar Jehu het nie die bevele van die Here, die God van Israel, heelhartig gehoorsaam nie. Hy het nie weggedoen met die afgodery wat Jerobeam Israel laat doen het nie.
Jehu se dood
32Ongeveer hierdie tyd het die Here begin om Israel se gebied kleiner te maak. Koning Gasael het verskeie dele van die land verower. 33Dit was die streke oos van die Jordaanrivier, die hele Gilead, insluitend die stamme Gad, Ruben en Manasse, vanaf die dorp Aroër by die Arnonrivier, sowel Gilead as Basan.
34Die ander gebeurtenisse tydens Jehu se bewind, wat hy gedoen het en sy dapper dade, is opgeteken in Die boek van die handelinge van die konings van Israel. 35Toe Jehu sterf, is hy in Samaria begrawe. Sy seun Joahas het hom as koning opgevolg. 36Jehu het altesaam 28 jaar in Samaria oor Israel geheers.

Currently Selected:

2 KONINGS 10: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy