YouVersion Logo
Search Icon

1 KORINTIËRS 15

15
Jesus Christus het beslis opgestaan!
1Broers en susters#15:1a Grondteks broers., ek herinner julle aan die Goeie Nuus#15:1b, 2, 11 Of evangelie. wat ek tevore reeds aan julle verkondig het. Julle het dit aangeneem en hierdie boodskap vorm die vaste basis van julle geloof. 2Deur hierdie Goeie Nuus#15:1b, 2, 11 Of evangelie. word julle verlossing bewerk, dit wil sê as julle daaraan vashou soos ek dit oorspronklik aan julle verkondig het – anders was julle geloof heeltemal nutteloos.
3Die kern van die boodskap wat ek destyds aan julle deurgegee het, en wat ek weer van hulle voor my ontvang het, was dat Christus, soos in die Skrif staan, vir ons sondes gesterf het. 4Ook dat Hy begrawe is en God Hom op die derde dag opgewek het, soos in die Skrif staan. 5Verder dat Hy aan Petrus#15:5 Grondteks Sefas. verskyn het en daarna ook aan die twaalf apostels. 6Daarna het Hy aan meer as 500 van sy volgelinge#15:6 Grondteks broers. tegelyk verskyn. Van hulle leef die meeste nou nog, maar party is reeds dood. 7Daarna het Hy aan Jakobus verskyn en later aan al die apostels. 8Heel laaste van almal het Hy ook aan my verskyn, asof ek ontydig gebore is. 9Ek is werklikwaar die geringste van al die apostels, een wat die naam van ’n apostel nie werd is nie omdat ek God se kerk vervolg het.
10Maar deur God se genade#15:10 Of onverdiende goedheid. is ek wat ek vandag is. Hy het sy goedheid nie tevergeefs aan my bewys nie. Ek het harder gewerk as al die ander – en tog was dit ook weer nie ek nie, maar God se goedheid wat my gedra het. 11Maak ook nie saak wie gepreek het nie. Die belangrike feit is dat dít die Goeie Nuus#15:1b, 2, 11 Of evangelie. is wat ons verkondig en wat julle in die geloof aangeneem het.
Die dooies sal beslis opstaan
12Sê vir my, as ons verkondig dat God Christus uit die dood#15:12a Grondteks Christus tussen die dooies uit. laat opstaan het, hoe is daar dan sommige van julle wat beweer dat daar nie so iets soos die opstanding uit die dood#15:12b, 13 Grondteks opstanding tussen die dooies uit. bestaan nie? 13As daar werklik geen opstanding uit die dood#15:12b, 13 Grondteks opstanding tussen die dooies uit. is nie, dan is Christus ook nie opgewek nie.
14Maar as Christus nie opgewek is nie, sou dit beteken dat ons verkondiging geen substansie het nie en dat julle geloof ook platval. 15Dan sou ons as leuenaars omtrent God aan die kaak gestel word. Dan het ons mos teen die waarheid van God in getuig dat Hy Christus opgewek het, terwyl Hy dit in werklikheid nie gedoen het nie – dit wil nou sê, as die dooies nie opgewek word nie.
16Ek sê weer, as die dooies nie opgewek word nie, dan is Christus ook nie opgewek nie. 17En as Christus nie opgewek is nie, dan is julle geloof waardeloos en is julle nog vasgevang in julle sondes. 18In daardie geval is ook dié wat in Christus gesterf het, verlore! 19As ons egter op niks meer sou kon hoop as dat Christus ’n verskil sal maak aan ons huidige lewe nie, sou ons definitief die bejammerenswaardigste mense onder die son wees!
Christus se opwekking waarborg die gelowiges se opstanding
20Maar nou is die werklikheid totaal anders! God hét Christus uit die dood#15:20 Grondteks Christus tussen die dooies uit. laat opstaan! Dit gee ons die waarborg dat ook die ander dooies sal opstaan.
21Julle sien, soos die dood deur ’n mens, naamlik Adam, in die wêreld ingekom het, so het die opstanding uit die dood#15:21 Grondteks opstanding tussen die dooies uit. ook deur ’n mens werklikheid geword. 22Almal van ons sterf omdat ons almal aan Adam, die eerste mens, verbonde is. Net so sal almal wat aan Christus, die ander mens, verbonde is, weer lewendig gemaak word. 23Maar daar is ’n bepaalde volgorde hieraan verbonde: Christus was die eerste Een#15:23 Grondteks eerste vrug van die oes.; daarna, wanneer Christus terugkom, sal al sy mense opgewek word. 24Vervolgens sal die einde kom wanneer Jesus die koningsheerskappy aan God die Vader sal teruggee nadat Hy elke vyandige mag wat daar kan wees#15:24 Grondteks elke regering en gesag en mag., onderwerp het. 25Want Christus moet aan bewind bly totdat Hy alle vyande finaal verslaan en aan Hom onderdanig gemaak het. 26Die laaste van hierdie vyande wat vernietig moet word, is die dood. 27Die Skrif sê mos: “God het aan Hom gesag oor alles gegee.”#15:27 Ps 8:7. (Natuurlik, wanneer die Skrif sê dat God aan Hom die gesag oor alles gegee het, is God wat aan Christus hierdie gesag gegee het self uitgesluit.)
28Wanneer die Seun dan alles aan Homself onderwerp het, sal Hy Hom ook self aan God onderwerp. So sal God dan, wat aan sy Seun die gesag oor alles gegee het, uiteindelik die absolute Koning oor alles en almal wees.
29As die dooies hoegenaamd nie opgewek word nie, watter sin het dit dan dat mense hulle vir die dooies laat doop? Waarom sou hulle dit nog vir die dooies doen as hulle in elk geval nie weer opgewek word nie?
30En waarom sal ons ons lewens uur na uur in gevaar stel? 31Dag na dag verkeer ons op die randjie van die dood. Dit is die absolute waarheid, broers en susters#15:31 Grondteks broers., net so seker as dat julle ons trots is oor wat Christus Jesus ons Here vir julle gedoen het.
32Verder, waarom sou ek as’t ware met wilde diere in Efese geveg het#15:32a Moontlik verbete teenstanders wat sy lewe in gevaar gestel het; vgl 1 Kor 16:9. as dit alles verniet was? As daar geen opwekking van die dooies is nie,
“laat ons feesvier en dronk word,
want môre sterf ons”.#15:32b Jes 22:13.
33Moenie toelaat dat mense wat sulke dinge sê, julle vir die gek hou nie, want
“slegte geselskap
bederf goeie gewoontes”#15:33 Miskien ’n populêre spreekwoord wat by die Griekse dramaturg Menander voorkom, of wat oorspronklik deur Menander gemunt is..
34Kom tot julle sinne en moenie langer sondig nie. Tot julle beskaming moet ek vir julle sê dat party van julle heeltemal tekort skiet wat julle kennis van God betref.
Paulus beskryf hoe gelowiges se opstandingsliggaam sal wees
35Nou kan iemand vra: “Hoe sal die dooies wees wanneer hulle opgewek word? Watter soort liggame sal hulle hê?”
36Jou onverstandige mens, as jy saad in die grond sit, ontkiem dit tog nie tot nuwe lewe as dit nie eers self doodgegaan het nie. 37Wat jy in die grond sit, is nie die plant wat gaan groei nie, maar bloot ’n droë koringkorreltjie of watter ander saad jy ook al plant. 38Dan gee God daaraan ’n nuwe liggaam – presies soos Hy dit bepaal het. Van elke soort saad groei daar ’n ander soort plant. 39En net soos daar verskillende soorte saad en plante is, so is daar ook verskillende soorte vleis – dié van mense en diere en voëls en visse is almal verskillend.
40Verder is daar ook hemelse liggame en aardse liggame. Die prag van die hemelliggame verskil van dié van aardse liggame. 41Die stralende prag van die son verskil van dié van die maan, en die sterre het weer hulle eie prag. Die een ster se prag verskil ook weer van die ander een.
42Dieselfde is die geval met die opstanding van die dooies. Ons aardse liggame, wat gewoonweg sal sterf en vergaan, sal anders wees wanneer hulle opgewek word, want hulle sal nooit weer sterf nie. 43Daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid. Daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. 44’n Fisiese liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek. Ja, net soos daar fisiese liggame is, so is daar ook geestelike liggame.
45Die Skrif sê vir ons: “Die eerste mens, Adam, het ’n lewende, fisiese persoon geword.”#15:45 Vgl Gen 2:7. Maar die laas-te Adam – dit is Christus – het ’n lewendmakende gees-telike Persoon geword.
46Die natuurlike, fisiese liggaam het eerste gekom, daarna die geestelike een. 47Adam, die eerste mens, was uit die stof van die aarde gemaak, terwyl Christus, die tweede mens, van die hemel kom. 48Elke menslike wese het ’n aardse liggaam, net soos dié van Adam, maar ons hemelse liggame sal net soos dié van Christus wees. 49Net soos ons nou ewebeelde van Adam is, die mens uit die aarde, so sal ons eendag ewebeelde van Christus wees, die mens uit die hemel.
50Wat ek wil sê, broers en susters#15:50, 58 Grondteks broers., is dat ’n gewone mens van vleis en bloed nie net so aan die koninkryk van God kan deel kry nie. Wat verganklik is, kan nie deel kry aan wat onverganklik is nie.
51Ek wil aan julle ’n diep waarheid vertel wat God aan ons bekendgemaak het. Dit is dat ons nie almal sal sterf nie, maar ons almal sal verander word. 52Dit sal dadelik, ja, in ’n oogwink gebeur, wanneer die laaste trompet weerklink. Want as die trompet sy klank laat hoor, sal die dooies met onverganklike liggame opgewek word. En dan sal ons ook verander word. 53Want ons verganklike aardse liggame moet in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie.
54Wanneer dit gebeur – wanneer ons verganklike aardse liggame in hemelse liggame omskep word wat nooit sal sterf nie – dan uiteindelik sal die Skrifwoord waar word:
“Die dood is totaal uitgewis,
want dit is heeltemal oorwin.”#15:54 Jes 25:8.
55“O dood, waar is jou oorwinning?
Dood, wat het van jou angel
geword?”#15:55 Hos 13:14.
56Want sonde is die angel wat die dood veroorsaak. En dit is die wet wat aan die sonde sy slaankrag gee. 57Aan God kom ons dank toe – Hy wat aan ons die oorwinning oor die sonde en die dood gee deur Jesus Christus ons Here!
58Dus, my geliefde broers en susters#15:50, 58 Grondteks broers., staan baie vas, onbeweeglik. Gee altyd julle allerbeste vir die Here se werk, want julle weet voor die Here is alles wat julle doen die moeite werd.

Currently Selected:

1 KORINTIËRS 15: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy