YouVersion Logo
Search Icon

1 TIMOTEUS 6

6
1Gelowiges wat slawe is, moet aan hulle eienaars volle respek betoon sodat die Naam van God en sy leringe nie beskaam word nie.
2As jou eienaar ’n mede-Christen is, is die feit dat julle geloofsbroers is, geen verskoning om oneerbiedig op te tree nie. Julle behoort dan selfs harder te werk, want dan is dit gelowiges en geliefdes wat uit julle kwaliteitwerk voordeel trek.
In kontras met die vals leerstellings bring die ware godsdiens geestelike rykdom
Onderrig hierdie waarhede, Timoteus, en moedig almal aan om dit te gehoorsaam. 3Sommige vals leraars ontken dalk hierdie dinge, maar dit is die gesonde, heilsame leer van die Here Jesus Christus en dit is die fondament vir ’n godvresende lewe. 4Enigiemand wat enigiets anders leer, is nie net verwaand nie, maar ook dom. Só ’n mens het ’n ongesonde begeerte om oor die betekenis van woorde te kibbel. Dit veroorsaak argumente wat eindig in jaloesie, stryd, beledigings en bose agterdog. 5Hierdie mense veroorsaak altyd moeilikheid. Hulle gedagtes is korrup, en hulle praat nie die waarheid nie. Vir hulle is godsdiens net ’n manier om ryk te word.
6Tog is ware godsdiens saam met tevredenheid ’n groot rykdom. 7Ons het immers niks saamgebring toe ons in die wêreld gekom het nie, en ons kan ook nie enigiets saamneem wanneer ons sterf nie. 8As ons dus genoeg kos en klere het, laat ons tevrede wees. 9Maar mense wat begeer om ryk te wees, val in versoeking en trap in die strik van baie dwase en skadelike begeertes wat hulle in die verderf en ondergang stort. 10Want die liefde vir geld is die wortel van alle soorte kwaad. En sommige mense wat geld begeer, het weggedwaal van die geloof en hulleself met baie ellende deurboor.
Waak met ’n heilige erns oor wat God aan jou toevertrou het!
11Maar jy, Timoteus, man van God; vlug weg van al hierdie bose dinge, en volg na wat reg en goed is. Beywer jou vir ’n lewe volgens die wil van God, gekenmerk deur toewyding, geloof, liefde, volharding en deernis. 12Stry die goeie stryd vir dit waarin ons glo. Hou stewig vas aan die ewige lewe wat God jou gegee het, en wat jy so opreg bely het voor baie getuies. 13En voor God wat aan alles lewe skenk, en voor Christus Jesus, wat die goeie belydenis voor Pontius Pilatus afgelê het, druk ek dit jou op die hart 14dat jy jou opdrag stiptelik en onberispelik uitvoer totdat ons Here Jesus Christus weer verskyn. 15Want op die bestemde tyd sal God Jesus Christus openbaar,
Hý, die geseënde en alleen Magtige,
die Koning van die konings
en die Heer van die here.
16Hy alleen besit onsterflikheid,
en bewoon die ontoeganklike lig.
Niemand het Hom ooit gesien of kan Hom sien nie.
Hom kom toe die eer en die ewige krag.
17Sê aan hulle wat ryk is in hierdie wêreld om nie trots te wees en op hulle geld te vertrou wat spoedig sal verdwyn nie. Maar hulle vertroue moet in die lewende God wees wat aan ons ryklik alles skenk wat ons nodig het om die lewe te geniet. 18Sê hulle moet hulle geld gebruik om goed te doen. Hulle moet ryk wees in goeie dade en moet ruim gee aan dié in nood; hulle moet altyd gereed wees om wat God aan hulle gegee het, met ander te deel.
19Deur dit te doen, sal hulle vir hulle ’n skat opbou – ’n goeie fondament vir die toekoms sodat hulle die egte lewe kan ontvang.
20Timoteus, waak oor wat God aan jou toevertrou het. Vermy goddelose, dwase praatjies met hulle wat jou met hulle sogenaamde kennis teenstaan. 21Sommige mense het van die geloof afgedwaal deur sulke dwaasheid na te volg.
Mag God se genade#6:21 Of onverdiende goedheid. met julle almal wees.

Currently Selected:

1 TIMOTEUS 6: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy