YouVersion Logo
Search Icon

1 TIMOTEUS 5

5
1Moet nooit onbeskof met ’n ouer man#5:1 Of ’n ouderling. praat nie, maar spoor hom met respek aan asof hy jou eie pa is. Praat met die jonger mans soos wat jy met jou eie broers sou praat. 2Vermaan die ouer vroue soos jou ma, en vermaan die jonger vroue met alle eerbied soos jou eie susters.
Advies oor werklik behoeftige weduwees
3Respekteer en versorg dié weduwees wat niemand anders het om na hulle om te sien nie. 4Maar as ’n weduwee kinders of kleinkinders het, moet dié leer om hulle praktiese godsdiens heel eerste tuis te beoefen en hulle ouers en grootouers te vergoed deur hulle te versorg. Dit is iets wat God baie bly maak.
5’n Vrou wat ’n egte weduwee is, iemand wat werklik alleen in die wêreld is, het haar hoop op God geplaas. Dag en nag vra sy God om hulp, en bestee baie tyd in gebed. 6Maar die weduwee wat net vir plesier leef, is geestelik dood. 7Gee hierdie opdragte aan die gemeente sodat die weduwees wat julle#5:7 Of die gemeente. Grondteks hulle. onderhou, nie berispe word nie.
8Dié wat nie hulle eie familie versorg nie, veral dié wat in dieselfde huishouding woon, verloën wat ons glo. Sulke mense is slegter as ongelowiges.
9’n Weduwee wat op die lys vir dienende weduwees kom, moet ’n vrou van ten minste 60 jaar oud wees. Sy moes getrou aan haar man gewees het#5:9 Grondteks wat die vrou van een man was.. 10Sy moet gerespekteer wees deur almal vanweë die goeie dade wat sy gedoen het. Het sy haar kinders goed opgevoed? Was sy gasvry teenoor vreemdelinge? Het sy ander gelowiges nederig gedien?#5:10 Grondteks Het sy die voete van die heiliges gewas? Het sy dié wat in die moeilikheid was, gehelp? Het sy altyd reggestaan om goed te doen?
11Die jonger weduwees moenie op die lys kom nie, want hulle liggaamlike behoeftes sal hulle toewyding aan Christus bedreig, en hulle sal wil hertrou. 12Dan sal hulle skuldig wees aan die verbreking van hulle vorige belofte.#5:12 Die weduwees op die lys het ’n belofte afgelê om ongetroud te bly. 13Buitendien word hulle waarskynlik lui en bestee hulle tyd deur van huis tot huis te skinder, hulle te bemoei met ander mense se besigheid en dinge te sê wat kon gebly het. 14Daarom raai ek hierdie jonger weduwees aan om te hertrou, kinders te hê en hulle eie huise te versorg. Dan sal hulle die vyand geen aanleiding gee om ons te beskinder nie. 15Want ek is bevrees dat sommige van hulle alreeds afgedwaal het en nou Satan volg. 16As ’n Christenvrou weduwees in haar familie het, moet sy hulle versorg en nie die verantwoordelikheid op die gemeente afskuif nie. Dan kan die gemeente dié weduwees versorg wat werklik alleen is.
Nog advies oor ouderlinge, siekte en slawe
17Ouderlinge wat hulle werk goed doen, moet ook goed betaal word#5:17 Of behoort dubbele erkenning te kry., veral dié wat hard werk in prediking én lering. 18Want die Skrif sê: “Moenie ’n os verhinder om te eet terwyl hy die graan uittrap nie.” En op ’n ander plek: “Dié wat werk, verdien hulle loon.”#5:18 Deut 25:4; vgl Luk 10:7.
19Moenie na klagtes teen ’n ouderling luister nie, tensy daar twee of drie getuies is wat hom aankla. 20Enigeen wat sondig, moet voor die hele gemeente berispe word sodat die ander ook op hulle hoede kan wees.
21In die teenwoordigheid van God en Christus Jesus en die heilige engele beveel ek jou ernstig om hierdie opdragte uit te voer sonder om kant te kies of besondere guns aan enigeen te bewys. 22Moet nooit oorhaastig ’n ouderling aanstel nie. Moenie aan ander se sondes deel hê nie. Hou jou rein van die sonde.
23Moenie aanhou om net water te drink nie; drink ’n bietjie wyn ter wille van jou maag omdat jy so dikwels siek word.
24Onthou, sommige mense lei openlik sondige lewens, en almal weet dat hulle geoordeel sal word. Ander weer se sondes sal eers later aan die lig kom.
25Net só weet almal hoeveel goed sommige mense doen; ander weer se goeie dade is minder sigbaar, maar hulle kan nie verborge bly nie.

Currently Selected:

1 TIMOTEUS 5: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy