YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 8

8
Israel vra vir ’n koning
1Toe Samuel ouer begin word, het hy sy seuns as rigters oor Israel aangestel. 2Sy twee oudste seuns, Joël en Abia, was rigters in Berseba. 3Hulle het anders as Samuel opgetree en was ingestel op eie gewin en omkopery, en selfs in die regspraak was hulle korrup.
4Die leiers van Israel het toe by Rama bymekaargekom en die saak met Samuel bespreek. 5“Kyk,” sê hulle vir hom, “u is nou al bejaard en u seuns volg nie u voorbeeld nie. Stel vir ons ’n koning aan soos die gebruik is by al die ander nasies.”
6Samuel was baie ontsteld oor hierdie versoek en het eers die Here gaan raadpleeg. 7“Maak soos hulle sê,” antwoord die Here, “want dis nie vir jou wat hulle verwerp nie, maar vir My wat hulle nie meer as hulle koning wil hê nie.
8“Sedert Ek hulle uit Egipte verlos het, het hulle My aanhoudend verwerp en ander gode gedien. Nou maak hulle net so met jou ook. 9Doen soos hulle vra, maar waarsku hulle ernstig oor wat ’n koning met hulle sal doen.”
Samuel se waarskuwing oor ’n koning
10Samuel het toe die waarskuwing van die Here aan die mense oorgedra. 11“Dis hoe ’n koning met julle sal maak,” sê hy. “Die koning sal die reg hê om julle seuns op te roep vir sy diens, sommige by sy wa en perderuiters, ander om voor sy wa uit te hardloop.
12“Sommige sal bevelvoerders van sy troepe wees en ander sal sy landerye ploeg en oes; nog ander sal vir hom wapens maak en toerusting vir sy strydwaens.
13“Julle dogters sal hy vat om vir hom salf te meng, en om te kook en te bak. 14Hy sal die beste landerye, wingerde en olyfboorde vir hom vat en aan sy amptenare gee. 15Hy sal ’n tiende van julle oeste neem en dit ook aan sy amptenare en personeel gee.
16“Julle slawe en slavinne, die beste van julle jong manne en julle donkies sal hy neem en vir sy eie werk gebruik. 17Hy sal ’n tiende van julle kleinvee vat. Julle sal niks anders as sy slawe wees nie.
18“Wanneer dit gebeur, sal julle om hulp roep oor die koning wat julle verkies het, maar dan sal die Here julle nie antwoord nie.”
19Maar die volk wou nie na Samuel se waarskuwings luister nie. “Nee, ons wil nogtans ’n koning hê!” het hulle gesê. 20“Ons wil soos die nasies om ons wees. Ons koning moet oor ons regeer en ons op die slagveld lei.”
21Samuel het die Here vertel wat die mense gesê het.
22Die Here se antwoord was: “Doen soos hulle sê en stel ’n koning oor hulle aan.”
Samuel sê toe vir die manne van Israel: “Gaan nou elkeen na sy huis toe.”

Currently Selected:

1 SAMUEL 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy