YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 25

25
Die dood van Samuel
1Samuel is toe dood. Die hele Israel het bymekaargekom en oor hom gerou. Hulle het hom by sy huis in Rama begrawe.
Nabal en Dawid
Dawid het na die Maonwoestyn#25:1 Grondteks Paran. Maar vergelyk volgende vers. toe getrek. 2Daar was ’n ryk man in Maon wat ’n plaas in Karmel gehad het. Hy het 3 000 skape en 1 000 bokke gehad. Hy was besig om in Karmel te skeer. 3Die man se naam was Nabal en sy vrou s’n Abigajil. Sy was ’n verstandige en mooi vrou. Maar Nabal, ’n Kalebiet, was rof en onbeskof in alles wat hy gedoen het.
4Toe Dawid in die woestyn hoor dat Nabal sy skape skeer, 5stuur hy tien van sy jong manne na Karmel toe met die volgende boodskap: “Gaan na Karmel toe en wanneer julle by Nabal kom, moet julle hom namens my vra hoe dit gaan. 6Sê dan vir hom: ‘Mag jy lank in vrede lewe! Voorspoed ook vir jou familie en alles wat aan jou behoort! 7Ek het gehoor die skeerders is besig om by jou te skeer. Toe jou veewagters by ons was naby Karmel, het ons hulle nooit skade aangedoen nie, en niks is ooit van hulle gesteel nie. 8Vra maar jou wagters uit, en hulle sal dit as die waarheid bevestig. Daarom, wees asseblief vriendelik teenoor my mense. Kyk! Ons het juis tydens die feesvierings gekom. Gee ons asseblief enigiets wat jy beskikbaar het vir ons en jou vriend Dawid.’” 9Dawid se jong manne het hierdie boodskap net so aan Nabal oorgedra en op sy antwoord gewag.
10“Wie is dié man Dawid nogal?” antwoord hy minagtend. “Wie dink hierdie seun van Isai is hy? Daar is deesdae baie slawe wat van hulle meesters af wegloop. 11Moet ek my brood en water vat en die vleis wat ek vir my skeerders geslag het, en dit net so gee vir mense wat van wie weet waar af kom?”
12Dawid se boodskappers het omgedraai en teruggegaan. Hulle het vir Dawid alles vertel wat Nabal gesê het.
13“Maak vas julle swaarde!” beveel Dawid terwyl hy sy eie swaard vasbind. Ongeveer 400 man het saam met Dawid gegaan en 200 het agtergebly om hulle besittings op te pas.
14Intussen het een van Nabal se veewagters na Abigajil gegaan en vir haar vertel: “Dawid het manne uit die woestyn gestuur om ons meester te groet, maar hy het hulle beledig. 15Tog was Dawid se manskappe baie goed vir ons. Die hele tyd dat hulle by ons in die veld rondgetrek het, het hulle ons nooit skade berokken nie en is niks van ons gesteel nie. 16Trouens, hulle was dag en nag soos ’n muur van beskerming om ons en die skape. 17Nou moet u asseblief vinnig ’n plan maak, want hy sal sekerlik ons meester en sy hele familie daaroor straf. Ons meester is so opvlieënd dat niemand eers met hom daaroor kan praat nie!”
18Abigajil het dadelik 200 brode bymekaargekry, en ook twee kruike wyn, vyf gaargemaakte skape, vyf houers#25:18 Grondteks 5 sea (ongeveer 36 liter). gebraaide koring, 100 trosse rosyntjies en 200 vyekoeke. Sy het dit op donkies laat laai 19en vir haar slawe gesê: “Gaan vooruit, en ek sal agterna kom.” Aan haar man het sy egter absoluut niks hiervan gesê nie.
20Terwyl sy op ’n donkie ’n bergkloof afgaan, sien sy vir Dawid en sy manskappe wat in haar rigting aankom. 21Dawid het so pas gedink: “Dis verniet dat ons hierdie vent se kuddes in die woestyn beskerm het sodat niks van sy besittings weggeraak het of gesteel is nie. Maar hy het my goedheid met kwaad vergeld. 22Mag God met my afreken indien selfs net een manlike lid van sy huishouding teen môre-oggend nog lewe!”
Abigajil laat Dawid van sy plan afsien
23Toe Abigajil vir Dawid sien, klim sy vinnig van die donkie af. Sy buig laag voor hom. 24Sy val toe by sy voete neer en sê: “Verskoon my tog asseblief, Meneer. Luister tog na wat ek vertroulik vir u wil sê. 25Nabal is ’n niksnut. Asseblief, moenie u aan hom steur nie. Hy is soos sy naam lui ’n dwaas.#25:25 Die naam Nabal beteken dwaas. Ek het ongelukkig nooit eens u boodskappers te sien gekry nie.
26“Maar nou, my heer, so seker as wat die Here leef en u leef, aangesien die Here u weerhou het van bloedvergieting en om self wraak te neem, mag al u vyande word soos Nabal, elkeen wat kwaad teen u beplan.
27“Hier is ’n geskenk wat ek vir u gebring het. U kan dit vir u manskappe gee wat saam met u is. 28Vergewe my asseblief as ek u aanstoot gegee het. Die Here sal u sekerlik beloon met ’n bestendige koningshuis, want u veg die Here se oorloë sonder om iets verkeerd te doen.
29“Selfs wanneer iemand u agtervolg om u dood te maak, mag u lewe dan veilig wees in die bewaring van die Here u God! Maar mag Hy die lewens van u vyande weggooi soos klippe uit ’n slingervel!
30“Wanneer die Here al die goeie dinge gedoen het wat Hy u beloof het en u leier van Israel gemaak het, 31mag hierdie saak nie ’n klad op u naam wees en onskuldige bloedvergieting en wraak op u gewete gaan lê nie. En wanneer die Here hierdie groot dinge aan u gedoen het, onthou my dan asseblief!”
32Dawid antwoord vir Abigajil: “Prys die Here, die God van Israel wat jou vandag na my toe gestuur het. 33Geseënd is jy vir jou wyse optrede wat my verhinder het om bloed te vergiet en eiehandig wraak te neem. 34Want so seker as die Here, die God van Israel leef, wat my weerhou het om jou kwaad aan te doen, as jy nie so gou na my toe gekom het nie, sou nie een van Nabal se manne teen môre-oggend nog gelewe het nie.” 35Dawid aanvaar toe haar geskenke en sê vir haar: “Gaan gerus in vrede huis toe. Ek het na jou versoek geluister. Ek sal nie jou man doodmaak nie.”
36Toe Abigajil by haar huis terugkom, was Nabal besig met ’n groot onthaal en het hy soos ’n koning feesgevier. Omdat hy dronk was, het sy vir hom niks gesê voor die volgende oggend nie. 37Eers die volgende oggend toe hy nugter was, het sy hom vertel wat gebeur het. Toe hy dit hoor, het hy ’n hartaanval gekry sodat hy verlam was#25:37 Grondteks en sy hart het in hom doodgegaan sodat hy soos ’n klip geword het.. 38Omtrent tien dae later het die Here hom weer getref en het hy gesterf.
Dawid trou met Abigajil
39Toe Dawid van Nabal se dood hoor, sê hy: “Prys die Here wat Nabal vergeld het vir die onreg teenoor my en my verhinder het om dit self te doen. Nabal het hierdie straf oor homself gebring.”
Daarna het Dawid boodskappers na Abigajil toe gestuur en gevra dat sy met hom moes trou. 40Die boodskappers het by Karmel aangekom en vir Abigajil gesê: “Dawid het ons gestuur om te vra of jy met hom sal trou.”
41Sy het opgestaan, laag na die grond toe gebuig en geantwoord: “Ja, ek is selfs bereid om ’n slavin te wees wat Dawid se manskappe versorg!”
42Abigajil het toe gou klaargemaak en saam met Dawid se boodskappers gegaan. Sy het op ’n donkie gery terwyl vyf van haar diensmeisies saamgegaan het. So het sy Dawid se vrou geword.
43Dawid het ook met Aginoam uit Jisreël getrou sodat hy nou twee vroue gehad het.
44Intussen het Saul sy dogter Mikal, wat reeds Dawid se vrou was, vir ’n man met die naam Palti gegee. Hy was die seun van Lajis uit Gallim.

Currently Selected:

1 SAMUEL 25: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy