YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 21

21
Dawid kom in Nob aan
1Dawid het by die priester Agimelek in Nob aangekom. Agimelek was bang toe hy Dawid sien en vra: “Hoekom is jy alleen sonder iemand anders by jou?”
2“Die koning het my op ’n geheime sending gestuur,” sê Dawid. “Hy het my verbied om vir enigiemand te sê hoekom ek hier is. Ek het my manskappe aangesê om my op ’n bepaalde plek te ontmoet. 3Maar sê my, wat het julle hier om te eet? Gee vir my vyf brode of enigiets anders wat beskikbaar is.”
4“Ons het nie gewone brood hier nie,” antwoord die priester. “Ons het net die heilige brode wat julle maar kan kry as jou manne nie onlangs by ’n vrou geslaap het nie.”
5“Geen probleem nie,” antwoord Dawid. “My manskappe mag nie by vroue kom wanneer ons op ’n veldtog uitgaan nie. Dis die reël vir gewone veldtogte, hoeveel te meer vir hierdie een!”
6Omdat daar dus nie gewone brood beskikbaar was nie, gee die priester hom die offerbrood wat net daardie dag uit die heiligdom geneem is en met vars brode vervang is.
7Doëg die Edomiet, hoof van Saul se veewagters, moes dié dag daar in die heiligdom deurbring.
8Dawid vra vir Agimelek: “Is hier dalk ’n spies of ’n swaard beskikbaar? Die koning se opdrag was so dringend dat ek nie eens tyd gehad het om my wapens te gryp nie!”
9“Al wat ek hier het,” antwoord Agimelek, “is die swaard van Goliat die Filistyn wat jy in die vallei van die groot boom doodgemaak het. Dit is toegedraai in ’n mantel agter die skouerkleed. Jy kan dit vat as jy wil, want daar is niks anders hier nie.”
“Daar is niks beters as dié swaard nie. Gee dit vir my!” sê Dawid.
Dawid kom by Akis aan
10Dawid het nog dieselfde dag van Saul af weggevlug en by Akis, die koning van Gat, aangekom. 11Maar Akis se amptenare het gevra: “Is dit dan nie Dawid, die koning van die land nie? Is dit nie die een wat die mense met danse vereer het en oor wie hulle gesing het:
‘Saul het sy duisende verslaan,
maar Dawid sy tienduisende’ nie?”
12Dawid het hierdie opmerkings gehoor en was bang dat Akis teen hom sou optree. 13Daarom het hy gemaak of hy mal is deur teen die poorte te krap en sy spoeg teen sy baard te laat afloop. 14Toe sê Akis vir sy amptenare: “Kan julle nie sien die man is mal nie? Hoekom bring julle hom na my toe? 15Het ons nog mal mense nodig dat julle hom na my toe bring om voor my mal te wees? Hoekom moet ek so iemand in my huis toelaat?”

Currently Selected:

1 SAMUEL 21: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy