1 SAMUEL 20
NLV
20
Jonatan lig Dawid in oor sy pa
1Dawid vlug toe uit die profetekwartiere in Rama en kom by Jonatan aan. Hy vra hom: “Wat het ek gedoen? Wat is my oortreding, en wat het ek teen jou pa verkeerd gedoen dat hy my lewe soek?”
2“Nee!” antwoord Jonatan. “Jy sal nie doodgemaak word nie! Kyk, my pa sal niks, groot of klein, doen sonder dat ek dit weet nie. En hoekom sou my pa so iets vir my wegsteek? Nee, dit is nie so nie.”
3Maar Dawid het onder eed gesê: “Jou pa weet dat ons goed bevriend is en toe dink hy: ‘Ek sal dit nie vir Jonatan sê nie sodat ek hom nie seermaak nie.’ Wees verseker, so waar as die Here en jy leef, daar is maar net een tree tussen my en die dood.”
4“Wat jy ook al voorstel, sal ek vir jou doen,” sê Jonatan.
5Dawid antwoord hom: “Kyk, dis môre nuwemaan. Ek behoort saam met die koning aan tafel te sit. Stuur my weg dat ek in die veld kan wegkruip tot die derde aand. 6As jou pa oor my navraag doen, moet jy sê: ‘Dawid het dringend gevra om na sy tuisdorp Betlehem te gaan sodat hy daar die jaarlikse feesviering saam met sy familie kan vier.’ 7As hy sê: ‘Dis goed!’ beteken dit ek is veilig. Maar as hy baie kwaad word, moet jy weet dat hy reeds besluit het om my om die lewe te bring. 8Wys dat jy aan my getrou is, want jy het voor die Here ’n verbond met my gesluit. As ek teen jou pa oortree het, moet jy my self doodmaak. Dit sal dan nie nodig wees om my aan jou pa uit te lewer nie.”
9“Nooit!” sê Jonatan. “As ek seker is my pa het vas besluit om jou dood te maak, sal ek jou beslis daaroor inlig.”
10Dawid vra toe: “Wie sal vir my vertel of jou pa kwaad geword het of nie?”
11“Kom saam na die veld toe,” sê Jonatan. Hulle gaan toe saam daarheen. 12Jonatan sê vir Dawid: “So waar as die Here die God van Israel leef, ek sal môre hierdie tyd of oormôre met hom praat. As hy gunstig oor jou praat, sal ek jou laat weet. 13Indien nie, mag die Here met my afreken as ek jou nie waarsku en veilig wegstuur nie. Mag die Here met jou wees soos Hy by my pa was. 14As ek dan nog lewe, moet jy my behandel met die troue liefde van die Here sodat ek nie doodgemaak word nie. 15Wees getrou aan my familie, selfs wanneer die Here jou vyande een vir een van die aarde af wegvee. 16Mag die huis van Dawid nie Jonatan se familie uitroei nie, anders sal die Here Dawid deur middel van sy vyande vergeld.”
17Jonatan het sy eed van vriendskap met Dawid hernu, want Jonatan was besonder geheg aan hom – hy het hom liefgehad soos homself.
18Jonatan sê verder: “Môre is dit nuwemaan. Jou afwesigheid sal opval omdat jou sitplek leeg sal wees. 19Op die derde dag moet jy teen die aand na die plek gaan waar jy voorheen weggekruip het. Wag daar by die kliphoop. 20Ek sal kom en drie pyle daarheen skiet asof ek teikenskiet. 21Ek sal dan ’n seun stuur om die pyle te gaan soek. As ek vir hom sê: ‘Hulle is aan die duskant; bring dit,’ weet dan so waar as die Here leef dat alles reg is en dat daar geen probleme is nie. 22Maar as ek vir hom sê: ‘Die pyle lê aan die anderkant,’ moet jy gaan, want die Here stuur jou weg. 23En mag die Here ons help om die beloftes aan mekaar na te kom – Hy is immers getuie daarvan.”
24Dawid het toe volgens afspraak in die veld weggekruip. Toe die Nuwemaanfees begin, het die koning aangesit om te eet. 25Hy het op sy gewone plek teen die muur gaan sit, met Jonatan teenoor hom en Abner langs Saul. Dawid se plek was egter leeg. 26Daardie dag het Saul niks gesê nie, want hy het gedink: “Dawid is dalk seremonieel onrein. Dis seker hoekom hy nie hier is nie.” 27Maar toe Dawid se plek die volgende dag ook weer leeg is, vra Saul vir Jonatan: “Hoekom het die seun van Isai dan nie gister en vandag vir die ete opgedaag nie?”
28Jonatan het geantwoord: “Dawid het my dringend verlof gevra of hy Betlehem toe kon gaan. 29Hy het gesê: ‘Laat my asseblief toe om die familie-offer op die dorp by te woon. My broer het my beveel om te kom. As jy dit goedvind, gee my toestemming om te gaan en my broers te besoek.’ Dis hoekom hy nie hier by die koning se tafel is nie.”
30Maar Saul het in woede teenoor Jonatan uitgebars: “Seun van ’n opstandige en rebelse vrou! Jy verkies mos die seun van Isai tot jou skande en die van jou ma wat jou in die wêreld gebring het! 31Solank daardie seun van Isai lewe, sal jy nooit koning word nie. Stuur en bring hom hier, want hy moet sterf!”
32“Maar wat het hy dan gedoen?” vra Jonatan. “Hoekom moet hy doodgemaak word?” 33Toe tel Saul sy spies op om na Jonatan te gooi. Jonatan het besef sy pa het vas besluit om Dawid dood te maak. 34Jonatan het woedend van die tafel af opgestaan en wou die hele dag niks eet nie, want hy was ontsteld oor sy pa se skaamtelose gedrag teenoor Dawid.
35Die volgende oggend het Jonatan veld toe gegaan soos hy met Dawid afgespreek het, en ’n jong seun saamgeneem om die pyle op te tel. 36“Hardloop,” sê hy vir die seun, “en gaan haal die pyle wat ek afskiet.” Die seun het gehardloop en Jonatan het anderkant hom verby geskiet. 37Toe die seun by die plek kom waarheen die pyl geskiet was, roep Jonatan: “Die pyl is nog anderkant jou. 38Maak gou, moenie nog talm nie.” Die seun het gou die pyle opgetel en dit na hom teruggebring. 39Hy het natuurlik niks van die saak geweet nie. Net Jonatan en Dawid het van die afspraak geweet. 40Toe gee Jonatan sy boog en pyle vir die seun en beveel hom: “Hierso! Vat dit terug huis toe.”
41Nadat die seun weg is, kom Dawid uit sy wegkruipplek by die kliphoop en buig drie keer diep voor Jonatan. Hulle het mekaar omhels en gegroet. Albei was in trane, Dawid meer as Jonatan. 42Jonatan sê toe vir Dawid: “Gaan in vrede. Ons het in die Naam van die Here aan mekaar trou gesweer. Die Here is vir altyd getuie van hierdie ooreenkoms tussen my en jou en tussen ons nageslagte.”
Dawid is toe daar weg, en Jonatan is terug na die stad toe.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling