YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 11

11
Saul lei Israel teen die Ammoniete
1 # 11:1 Die Griekse vertaling begin met Omtrent ’n maand later het … Koning Nagas van Ammon het met sy leër teen die Israelitiese stad Jabes-Gilead opgetrek. Maar die inwoners van Jabes het vir vrede gevra: “Maak ’n ooreenkoms met ons en ons sal u onderdanig wees,” het hulle gesê.
2“Goed,” sê Nagas, “maar net op hierdie voorwaarde: dat ek die regteroog van elkeen van julle uitsteek tot die skande van almal in Israel!”
3“Gee ons sewe dae om boodskappers deur die hele Israel te stuur!” antwoord die leiers van Jabes. “As niemand van ons bloedverwante tot ons redding kom nie, sal ons tot jou voorwaardes instem.”
4Die boodskappers het by Gibea, Saul se tuisdorp, aangekom en vir die mense van die dreigende ramp vertel. Almal het in trane uitgebars. 5Saul het toe van die landerye af gekom waar hy besig was om te ploeg. Met sy tuiskoms vra hy: “Wat gaan aan dat almal so huil?” Hulle vertel hom toe van die boodskap van Jabes.
6Maar die Gees van God het met krag oor Saul gekom en hy het baie kwaad geword. 7Hy neem toe twee osse, sny hulle in stukke en stuur dit met boodskappers deur die hele Israel en laat weet: “Dis wat sal gebeur met die beeste van elkeen wat nie saam met Saul en Samuel optrek nie!” Die skrik van die Here het die mense oorval en hulle het soos een man opgeruk. 8Saul het hulle by Besek bymekaargemaak. Daar was 300 afdelings uit Israel en 30 afdelings uit Juda.#11:8 afdelings kan ook vertaal word met duisend. Die Griekse vertaling lees 600 000 Israeliete en 70 000 Judeërs.
9Saul het die boodskappers na Gilead toe teruggestuur met die woorde: “Ons sal julle môre op die middel van die dag kom verlos!” Daar was groot blydskap in die stad toe hulle hierdie boodskap hoor.
10Die inwoners van Jabes laat weet toe vir hulle vyande: “Ons sal môre uitkom na julle toe en dan kan julle met ons maak soos julle wil.” 11Vroeg die volgende môre het Saul sy leër in drie afdelings verdeel. Voor dagbreek het hy ’n verrassingsaanval teen die Ammoniete geloods en hulle tot die middag toe afgemaai. Die oorblyfsel van hulle leër was so verjaag dat daar nie twee van hulle bymekaargebly het nie.
Saul as koning bevestig
12Toe sê die volk vir Samuel: “Waar is daardie mense wat gesê het Saul moenie oor ons regeer nie? Bring hulle sodat ons hulle kan doodmaak!”
13Maar Saul het geantwoord: “Niemand sal vandag tereggestel word nie, want die Here het Israel verlos!”
14Daarna sê Samuel vir die mense: “Kom ons gaan almal Gilgal toe en herbevestig Saul se koningskap.” 15Hulle gaan toe almal na Gilgal toe. Daar het hulle tydens ’n plegtigheid in die teenwoordigheid van die Here Saul tot koning gekroon. Daarna het hulle maaltydoffers aan die Here gebring. Saul en al die Israeliete was baie bly.

Currently Selected:

1 SAMUEL 11: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy