1 KORINTIËRS 9
NLV

1 KORINTIËRS 9

9
Paulus verduidelik hoe
onbaatsugtig sy bediening is
1Het ek nie net soveel vryheid as enigiemand anders nie? Is ek dan nie ’n apostel nie? Het ek dan nie Jesus ons Here met my eie oë gesien nie? Is dit nie op grond van my arbeid dat julle met Christus verbind is nie? 2Selfs al sou ander my nie as ’n apostel beskou nie, is ek dit tog sekerlik vir julle, want julle is ’n lewende bewys dat ek ’n apostel van die Here is.
3Hier volg my verdediging teenoor dié wat my gesag as apostel bevraagteken. 4Het ons dan nie die reg op lewensonderhoud nie? 5Het ons dan nie die reg om ’n mede-gelowige as eggenote saam met ons rond te neem soos die ander apostels en die Here se broers en Petrus doen nie? 6Of is dit net ek en Barnabas wat moet werk om onsself te onderhou?
7Watter soldaat moet ooit vir sy eie uitgawes betaal? Het julle al ooit van iemand gehoor wat ’n wingerd plant, maar hy het nie die reg om van die druiwe te eet nie? Wie pas ’n trop vee op en mag nie van die melk drink nie? 8En dis nie ’n bloot menslike opinie nie. Sê die wet nie ook dieselfde nie? 9In die wet van Moses staan daar tog geskrywe: “Moenie ’n os wat graan dors, verhinder om te vreet nie.” Dink julle God was net oor die osse begaan? 10Het Hy dit nie nog eerder met die oog op ons gesê nie? Natuurlik. Want net soos arbeiders wat die lande ploeg en die graan dors, met reg ’n deel van die oes kan verwag, so behoort werkers vir die Here ook versorg te word deur dié onder wie hulle werk.
11Ons het goeie geestelike saad onder julle gesaai. Is dit dan te veel gevra om op ons beurt stoflike versorging van julle te “oes”? 12As julle ander ondersteun wat by julle optree, kom dit ons dan nie nog meer toe nie? En tog het ons nie van hierdie reg gebruik gemaak nie! Ons sal dit eerder verduur as om die Goeie Nuus oor Christus in enige opsig te benadeel.
13Weet julle nie dat hulle wat in die tempel werk, te ete kry van die offers wat na die tempel gebring word nie? En dat hulle wat die altaar bedien, ’n deel kry van die offerandes nie? 14Net so het die Here opdrag gegee dat hulle wat die Goeie Nuus verkondig, versorg moet word deur dié aan wie hulle die Goeie Nuus verkondig. 15En tog het ek in geen opsig daarvan gebruik gemaak nie. Ek skryf hierdie dinge ook nie om te suggereer dat dit nou met my moet gebeur nie. Om die waarheid te sê – ek sterf eerder as om my daarop te beroem dat ek die Goeie Nuus kosteloos verkondig.
16As ek dan inderdaad die Goeie Nuus verkondig, is dit vir my geen besondere prestasie nie. Ek is verplig om dit te doen. Wee my as ek dit sou nalaat! 17As ek dit uit vrye wil sou doen, sou ek op vergoeding kon aanspraak maak. Maar as ek dit nie uit vrye wil doen nie, dan staan die saak heeltemal anders. En dit is inderdaad die geval: God het ’n bestuurstaak aan my toevertrou. 18Is daar dan vir my enige beloning? My beloning lê vir my juis in wat ek vrywillig addisioneel doen, naamlik dat ek in my werk as evangelieverkondiger die Goeie Nuus kosteloos aanbied sonder om van my reg as prediker gebruik te maak.
19Alhoewel ek dus teenoor niemand ’n verpligting het nie – omdat hulle my nie vergoed nie – het ek myself aan almal diensbaar gemaak sodat ek soveel mense moontlik vir Christus kan wen. 20Onder die Jode het ek soos ’n Jood geword om hulle vir Christus te wen. Alhoewel ek nie meer onder die wet staan nie, het ek vir hulle wat onder die wet staan, geword soos iemand onder die wet om hulle wat nog onder die wet staan, vir Christus te wen. 21Onder die nie-Jode wat God se wet nie ken nie, het ek geword soos iemand sonder die wet – alhoewel ek in werklikheid nie sonder God se wet is nie, maar onder die wet van Christus staan. Dit het ek gedoen om die nie-Jode vir Christus te wen.
22Vir die geringes het ek ’n geringe geword om hulle vir Christus te wen. Ek het my met almal vereenselwig om sodoende tog sommige tot verlossing te bring. 23Al hierdie dinge het ek ter wille van die Goeie Nuus gedoen sodat ek ook aandeel aan sy seëninge kan verkry.
24Onthou, daar hardloop baie atlete op die baan, maar net een ontvang die prys. Hardloop só dat julle die prys sal ontvang. 25Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om ’n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir ’n ewige prys. 26Daarom pyl ek reguit op die wenpaal af, doelgerig met elke tree wat ek gee. Ek is soos ’n bokser wat met elke hou tref. 27Ek brei my liggaam en dissiplineer dit om werklik bruikbaar te wees. Ek wil tog nie, terwyl ek vir ander gepreek het, self deur God gediskwalifiseer word nie.

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011


Learn More About Nuwe Lewende Vertaling