Soekresultate

MALEAGI 1:6 (AFR83)

'n Seun eer sy vader en 'n slaaf sy eienaar. As Ek dan vader is, waar is die eer wat My toekom? En as Ek Here is, waar is die eerbied vir My dan? Dit is wat Ek, die Here die Almagtige, vir júlle vra, priesters, júlle wat My met minagting behandel. Maar julle vra: “Hoe het ons U met minagting behandel?”

MALEAGI 1:7 (AFR83)

Julle bring onrein voedsel op my altaar, en dan vra julle: “Hoe het ons U te na gekom?” Julle doen dit wanneer julle dink: “Die altaar van die Here kan maar met minagting behandel word.”

MALEAGI 1:8 (AFR83)

Wanneer julle 'n blinde ding bring om te offer, is dit dan nie verkeerd nie? En wanneer julle 'n siek of 'n lam ding bring, is dit nie verkeerd nie? Bring bietjie so iets vir jou goewerneur! Sal hy ingenome met jou wees of jou vriendelik ontvang? Dit is wat die Here die Almagtige sê.

MALEAGI 1:9 (AFR83)

En dan sê julle: “Maak God dan tog nou goedgesind dat Hy ons genadig kan wees!” As julle só optree, sal Hy een van julle se versoek toestaan? Dit is wat die Here die Almagtige sê.

MALEAGI 1:10 (AFR83)

Was daar maar iemand onder julle wat die tempel se deure wou toesluit, sodat julle nie my altaar tevergeefs aan die brand hou nie! Ek hou nie van julle nie, sê die Here die Almagtige, en Ek wil nie 'n offer van julle hê nie.

MALEAGI 1:11 (AFR83)

Van waar die son opkom tot waar hy ondergaan, word Ek deur die nasies geëer. Oral word daar vir My offers gebring, rein offers. Ek word deur die ander nasies geëer, sê die Here die Almagtige,

MALEAGI 1:12 (AFR83)

maar júlle doen my Naam oneer aan. Julle dink die altaar van die Here kan maar ontwy word en die offers daarop met minagting behandel word.

MALEAGI 1:13 (AFR83)

En dan sê julle nog dis 'n klomp moeite en julle trek die neus daarvoor op. Dit is wat die Here die Almagtige sê. Julle bring gesteelde, lam, siek diere, julle bring dit as offers! Moet Ek ingenome wees daarmee dat julle vir My sulke goed bring? vra die Here.

MALEAGI 1:14 (AFR83)

Daar rus 'n vloek op elke skelm wat 'n bul of 'n ram in sy kudde het en 'n gelofte doen en dan 'n verminkte ding aan die Here offer! Ek is die Grootkoning, sê die Here die Almagtige, vir My het die nasies ontsag.

MALEAGI 2:1 (AFR83)

Die bevel wat julle ontvang het, priesters,

MALEAGI 2:2 (AFR83)

wat julle moet gehoorsaam en waarop julle ag moet slaan, is om my Naam te eer, sê die Here die Almagtige. As julle dit nie doen nie, sal Ek 'n vervloeking oor julle bring en 'n einde maak aan al julle voorspoed. Ek het dit trouens reeds gedoen, want julle het nie ag geslaan op my bevel nie.

MALEAGI 2:4 (AFR83)

Dan sal julle besef dat Ek vir julle dié bevel gestuur het sodat my verbond met Levi kan bly bestaan, sê die Here die Almagtige.

MALEAGI 2:5 (AFR83)

My verbond met Levi sou vir hom lewe en vrede bring, en dit het Ek hom gegee. Hy het My met eerbied gedien en vir my Naam ontsag gehad.

MALEAGI 2:6 (AFR83)

Hy het die volk my wil reg geleer en niks verdraai nie. Hy het naby My geleef, heelhartig en opreg, en hy het baie laat afsien van hulle sonde.

MALEAGI 2:7 (AFR83)

'n Priester moet met kennis kan praat, daar word verwag dat hy die volk sal kan leer wat my wil is, want hy is 'n boodskapper van die Here die Almagtige.

MALEAGI 2:8 (AFR83)

Maar julle het die regte pad verlaat, julle het baie tot 'n val gebring met wat julle hulle geleer het; julle het my verbond met Levi geskend, sê die Here die Almagtige.

MALEAGI 2:9 (AFR83)

Nou maak Ek julle ook verag en sonder aansien by die hele volk, want julle het nie my wil gedoen nie, julle was nie onpartydig in julle uitsprake oor wat my wil is nie.

MALEAGI 2:10 (AFR83)

Ons het tog almal een Vader, ons is tog deur een God geskep! Waarom is die een dan ontrou aan die ander en ontwy hulle die verbond van God met ons voorvaders?

MALEAGI 2:11 (AFR83)

Juda was ontrou. Daar is iets afskuweliks gedoen in Israel, in Jerusalem. Juda het die heiligdom van die Here ontwy, die heiligdom waarvoor die Here lief is; die manne van Juda het met vrouens getrou wat in diens van 'n ander god staan.

MALEAGI 2:12 (AFR83)

Mag die Here elkeen wat nog iets te doen wil hê met 'n man wat so 'n vrou trou, uit die gemeenskap van Jakob uitroei, ook al bring so 'n man nog offers vir die Here die Almagtige.

MALEAGI 2:13 (AFR83)

Daar is nog iets wat julle doen. Julle huil en kerm en sug by die altaar van die Here omdat Hy nie meer julle offers wil aanneem nie,

MALEAGI 2:14 (AFR83)

en julle vra: “Waarom dan nie?” Dit is omdat die Here weet wat gebeur het tussen jou en die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is: jy was ontrou aan haar, ontrou aan jou eie vrou, die vrou aan wie jy plegtig trou belowe het.

MALEAGI 2:15 (AFR83)

Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê dat daar 'n nageslag moet wees wat Hom eer. Beheers julle, moenie ontrou wees aan die vrou met wie jy van jou jeug af getroud is nie.

MALEAGI 2:16 (AFR83)

Die Here die God van Israel sê Hy haat egskeiding. Egskeiding is niks anders as geweld nie, sê die Here die Almagtige. Beheers julle, moenie ontrou wees nie.

MALEAGI 2:17 (AFR83)

Julle het die Here moeg gemaak met wat julle gesê het, en dan vra julle nog: “Waarmee het ons Hom moeg gemaak?” Julle het dit gedoen toe julle gesê het: “Vir die Here is almal wat verkeerd doen, goeie mense, Hy hou van hulle,” of toe julle gevra het: “Waar is die God wat reg moet laat geskied?”