Mosaiek Lydenstydgids Gr 4 & 5 - 2026Voorbeeld

Psalm 121: As ek bang word, kyk ek na die blou berge
(deur Wendy Maartens)
As ek bang word, kyk ek na die blou berge
En ek wonder wie my gaan help.
Die Here sal my help. Hy is sterk en slim en wonderlik!
Hy is die Koning van die hemel en aarde. Hy sal nie toe laat dat ek iets oorkom nie.
Die Here raak nie vaak nie.
Hy slaap nooit.
Hy is die beste oppasser onder die son.
Hy stap voor my uit.
Hy volg my soos ‘n skaduwee.
Hy is aan my linker-en regterkant.
Niks of niemand kan by Hom verbykom nie,
Al is hulle hoe sterk.
My Here is beter as al die soldate in die hele wêreld.
Hy pas my op waar ek ook al is:
by die skool, by die huis, in die parkie, of op pad in die motor.
Hy gaan oral saam met my.
Elke liewe dag!
Aswoensdag: Kyk op na God!
Vir die volgende 40 dae gaan ons nou saam met Jesus stap. Ons gaan leer oor hoe baie God ons liefhet — so lief dat Hy selfs vir ons sy seun Jesus gestuur het.
In hierdie tyd onthou ons dat God ons uit stof (grond) gemaak het. Hy het ons goed gemaak omdat Hy ons lief het maar ons is net mense, mense wat soms siek word, seerkry en eendag ook oud word. Gelukkig weet ons dat ons nooit alleen is nie. Jesus help ons onthou dat ons nie alleen gaan wees op hierdie Lydenstydreis nie maar dat Hy saam met ons stap. Die Heilige Gees werk in ons hart tydens die reis.
Wanneer jy vandag na die hemel kyk sien jy dalk wolke, dalk blou lug of selfs reën. God het dit alles spesiaal gemaak!
Psalm 121 sê dat God altyd na ons kyk, dag en nag. Hy raak nie moeg nie en Hy vergeet nie van jou nie.
Gesels / skryf daaroor:
Wanneer voel jy klein of bang? Wat help jou om te onthou dat God altyd naby is?
Doen dit:
Kry ‘n klein bakkie en gooi bietjie sand/stof daar binne en trek ‘n kruisie met jou vinger daarin. Sit dit nou iewers in jou kamer waar jy dit elke dag kan sien.
Dit herinner jou: “God is saam met my.”
Herhaalgebed:
“Here, help my onthou en voel dat U my liefhet en altyd by my is. Amen."
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Vir die volgende 40 dae gaan ons nou saam met Jesus stap. Ons gaan leer oor hoe baie God ons liefhet — so lief dat Hy selfs vir ons sy seun Jesus gestuur het. Psalm 121 sê dat God altyd na ons kyk, dag en nag. Hy raak nie moeg nie en Hy vergeet nie van jou nie.
More
Ons wil graag Mosaiek bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: mosaiek.com




