Op reis na die onbekende saam met GodVoorbeeld

Lê daar dalk vir jou ’n onseker tyd voor? Dalk ’n nuwe werk, ’n huwelik, verwagting van ’n nuwe baba, aftrede of dalk selfs immigrasie?
Jeremia 29 speel ook af in ’n tyd van groot verandering vir die volk van God. Die volk is in ballingskap weggevoer deur Nebukadnesar en hulle verlang terug na die tyd voor die ballingskap. Hulle word weggeneem van hulle mense, hulle taal, hulle geloof en bykans alles wat vir hulle belangrik was. Het jy al gevoel asof God jou vergeet het of ignoreer? In nuwe en onbekende situasies, selfs as dit nie noodwendig slegte situasies is nie, is daar uitdagings. Tydens hierdie uitdagings voel ons so maklik dat God ons verlaat het of van ons vergeet het. Ons sien in hierdie verhaal dat dit glad nie die geval is nie.
God het nie sy mense vergeet nie! Hy gee opdrag dat die profeet Jeremia ’n brief stuur aan die ballinge, met raad oor hoe om op te tree en met hoop wat net van God kom. God praat met ons op verskillende maniere, in dié geval deur ’n brief van die profeet van God. Soms praat die Here slegs deur sy Woord en soms deur ’n vriend of boodskap van ’n prediker. God werk soos Hy goeddink! Jy moet net vertrou en luister na God. Wees met verwagting en geloof op die uitkyk dat God op die uitkyk is vir jou!
- God laat jou nooit alleen nie.
- God praat met jou in alle omstandighede.
- Leef met opgewondenheid oor hoe God met jou gaan praat.
Gebed:
Here God, dankie dat U ons nooit alleen laat in vreemde tye nie. Dankie dat ek altyd die uitdagings saam met U kan benader. Here, help my in hierdie tyd om u stem helder en duidelik te hoor. Amen.
Aangaande hierdie leesplan

Die leesplan uit Jeremia 29 leer ons hoe God wil hê ons die onbekende in sy Naam kan aanpak. God bly in beheer van ons lewens, maar tog het ons 'n keuse oor hoe om, in soms uitdagende plekke of tye te reageer. Hierdie leesplan gee vir ons praktiese riglyne oor wat ons kan doen in sulke omstandighede.
More
Ons wil graag NG Kerk Middelburg-Suid bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.midsuid.co.za



