Die DNS Van PotensiaalVoorbeeld

Die DNS Van Potensiaal

DAG 1 VAN 7

Kyk, en ervaar, is twee totaal verskillende dinge ...

Ek drink koffie in ‘n koffiewinkel en kyk na die mense om my. Terwyl ek na hulle kyk, ervaar ek skielik iets anders. Dit is asof ek ‘n ander bril opsit – ‘n 4D-bril.

Ek ervaar ‘n see van potensiaal ... Jy wat vandag hier lees, het die potensiaal om 'n dokter, 'n predikant, 'n boer, 'n onderwyser, 'n entrepreneur, 'n sportheld, 'n kunstenaar en selfs die president van Suid-Afrika te word. Jy is uniek met besondere talente wat deur die Here net aan jou gegee is.

Die vraag is: wat gaan jy, “wat die potensiaal het”, hierdie dag, week, jaar doen met dit wat jy as geskenk gekry het? Een ding is seker ... Jy is nie geskape om middelmatig te wees nie! Jy mag nie met die tweede beste tevrede wees nie.

Ek wonder hoe Adam gevoel het toe hy die opdrag van die Here kry om oor die aarde te regeer? Alles om hom was wild. Geen rivier of berg of see is gekarteer nie; die molekuul is nie ontdek nie; Beethoven se negende simfonie moes nog gekomponeer word; krieket bestaan nie; die seuntjie, Webb Ellis, moes nog die bal optel en begin hardloop; motors, vliegtuie, selfone, rekenaars en die televisie moes uitgedink en gebou word. Die wêreld was ‘n blanko bladsy waarop nog geskryf moes word, maar die pen, papier en ink het nog nie bestaan nie.

Adam se opdrag was om hierdie wonderlike wêreld te ontdek, te bewerk en iets daarvan te maak. Hy mag nooit vergeet het dat die wêreld nie syne is nie. Hy was slegs die toesighouer daarvan. Daarom die morele vraag: “Doen ek, met dit wat aan my gegee is, die wil van die Here? Maak ek ‘n positiewe verskil?”

Die boodskap aan ons is nog dieselfde as aan Adam en Eva. Julle is nie hier om net die tyd om te kry nie – jy is nie geskape om voor ‘n televisie te lê nie – jy is hier om die wêreld te oorwin. Jy is geskape met ‘n brein en bewegende ledemate. Daar wag groot avonture vir jou, gaan soek dit. Miskien moet jy ‘n boot bou en seile span, miskien gaan jy ‘n simfonie skryf, miskien gaan jy iets nuuts ontdek of die beste sportman of kankernavorser ooit word – dit is waarom jy hier is. Ondersoek, neem deel, bou, oorwin – in hemelsnaam doen iets!

In die fliek, Braveheart, sê William Wallace: “Elke mens sterf; maar nie elke mens leef werklik nie.” Maak seker jy lewe werklik. Net soos vir Adam, is die wêreld nog nie klaar ontdek nie – waarvoor wag jy?

Kahlil Gibran het die volgende mooi woorde gesê:“Forget not that the earth delights to feel your bare feet and the winds long to play with your hair.”

Maak vandag 'n koffie afspraak met God en vra Hom:

  • Wat is my vermoëns?
  • Wat moet ek doen om volgens my vermoëns te presteer?

Aangaande hierdie leesplan

Die DNS Van Potensiaal

Stop. Kyk. Ervaar. Dit is die verskil tussen middelmatigheid en jou roeping. Agter die alledaagse sien jy 'n see van moontlikhede – jou eie, Godgegewe potensiaal. Jy is uniek, met talente wat net aan jou toevertrou is. Jy kan 'n baanbreker, 'n sportheld, of selfs die president word! Jy is nie geskape om middelmatig te wees nie. Die vraag is: Wat gaan jy met hierdie geskenk doen? Ons ontleed die DNS van Potensiaal deur stil te staan by spesifieke areas: van spesiale waarde tot die teruggee van jou geskenk. Staan elke dag stil en aktiveer die volheid van jou roeping!

More

Ons wil graag The Human Hub bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: humanhubs.com