Goddelike LeierskapVoorbeeld

Goddelike Leierskap

DAG 3 VAN 3

Een van die heel grootste uitdagings wat elkeen van ons as geroepe leiers in die gesig kan staar, is ‘n diepe moegheid wat soms soos ’n swaar mis oor ons kom lê. Ek het op ‘n keer iemand hoor sê dat hy nou so moeg is dat selfs sy moeg nou moeg is. Ek wil glo dat elkeen wat die roeping van die Here in getrouheid probeer uitleef, ook al so gevoel het.

Die waarheid is dat daar oomblikke in elke Goddelike leier se lewe sal kom wanneer ons ons in ‘n toestand van wanhoop, moegheid en afgematheid kan bevind. Soms heeltemal alleen, en dan ontdek ons dat die put van ons harte leeg geloop het of leeg getap is. Dis in hierdie seisoene, wanneer ons te veel op ons eie krag, wil en begrip staatgemaak het, dat ons heeltemal uitgeput en uitgebrand voel. Ons siele word uitgedroog en ons mag selfs wonder hoe ons sal aanhou om diegene rondom ons te dien.

Hoe herstel ons ons gesondheid?

Hoe vul ons ons harte weer en verseker dat ons genoeg het om aan diegene wat ons dien, te bied?

In Jesaja 41:17-18 (NIV) deel God ’n pragtige belofte: “Die armes en behoeftiges soek na water, maar daar is niks; hulle tonge brand van dors. Maar Ek, die Here, sal hulle antwoord; Ek sal nie My volk in die steek laat nie.” Hierdie versekering herinner ons daaraan dat, selfs in ons swakste oomblikke, God gereed is om te reageer wanneer ons Hom aanroep. Hy is ons bron van lewende water, wat deur die droë en dorre plekke van ons harte vloei.

God verwelkom ons nie in die chaos van die lewe nie, maar in die stilte van ons rustige oomblikke. Dit is daar, in die sagte rustigheid, dat ons ons harte vir Hom kan oopmaak. Onthou, ’n leë houer kan nie gevul word as dit toe bly nie. Ons moet daardie heilige tye vind om stil te wees in sy teenwoordigheid, sodat Hy ons kan vul met liefde, genade en barmhartigheid.

Terwyl ons dit doen, kan ons vashou aan die belofte in Jesaja 40:31 (NIV): “Maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke; hulle hardloop en raak nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie.” Wanneer ons op Hom vertrou, word ons opnuut nuut gemaak en word ons weer bemagtig om ons Here se werk te doen.

Ek wil jou persoonlik aanmoedig om oomblikke in jou besige dagboek uit te kerf — ja, vandag nog — om stil by die voete van Jesus te kom sit. Laat sy onuitputlike strome van lewende water jou hart vul, sodat jy kan oorloop met sy liefde en seëninge, sodat jy kan sterk wees vir diegene wat jy dien, sodat die Here ook sy seëninge deur jou in hulle lewens waar kan laat word.

Gebed:

Here, ek bid dat U ons lei na plekke waar ons tyd kan vind om net by U te wees. Help ons om stil en ontvanklik te wees, gevul en herstel met u lewende water. Laat die Heilige Gees in ons oorloop, sodat ons ’n seën kan wees vir almal wat ons dien. Amen.”

Aangaande hierdie leesplan

Goddelike Leierskap

Om 'n leier te wees wat deur God geroep is, ‘n leier wat volkome na die stem van die Heilige Gees luister en wat op die Here alleen vertrou, is nie ‘n maklike taak nie.

More

Ons wil graag Eagles Rising Leadership Academy bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.jotform.com/app/252521990077561