Goddelike LeierskapVoorbeeld

Om 'n leier te wees wat deur God geroep is, ‘n leier wat volkome na die stem van die Heilige Gees luister en wat op die Here alleen vertrou, is nie ‘n maklike taak nie. En dit waarborg nie 'n maklike pad vry van uitdagings nie. Trouens, die teenoorgestelde is dikwels waar. Om etiese leierskap in 'n gebroke wêreld te navigeer, waar so baie mense net hulle eie agendas nastreef en uitleef, is geen eenvoudige taak nie. Tog is dit juis binne hierdie uitdagings dat ons ons ware krag en doel in ons Vader se roeping kan ontdek.
Om te verstaan wat dit werklik beteken om 'n Goddelike leier te wees, is dit belangrik dat ons na een van die groot leiers, wat gekies is om God se volk te lei, sal kyk—Josua. God het Josua geroep om die monumentale skoene van Moses vol te staan. Moses wat die Israeliete uit slawerny in Egipte gelei het en hulle op hul moeisame reis na die Beloofde Land begelei het (Eksodus 1-14). Stel jou voor watter enorme gewig op Josua se skouers kom rus toe hy hierdie verantwoordelikheid aanvaar het. Die vrees van nie “genoeg” wees nie. Van ontoereikendheid, en ek glo dat dit baie van ons vandag nog sou oorweldig het. Josua het egter gekies om die Here te dien. In plaas daarvan om weg te hardloop, het hy hom tot God in gebed gewend, leiding en krag gesoek om die roeping wat op hom geplaas is, te vervul.
Oor die volgende drie dae sal ons verken hoe Josua gegroei het in die Goddelike leier wat God bedoel het hy moet wees, en ons sal ons eie roeping op dieselfde fondament bou. Dit is egter noodsaaklik om te erken dat werk in God se koninkryk nie iets is wat ons vanuit ons eie kragte aanpak nie. God het elkeen van ons vir 'n spesifieke doel en taak geskep. Hy het jou liggaam en siel met bedoeling en liefde ingewikkeld saamgeweef, volgens sy Goddelike doel (Psalm 139:13-14).
Net soos God Josua gekies het om Moses op te volg as die leier van die Israeliete, is ek en jy ook gekies. Dit is 'n Goddelike aanstelling wat nie gebaseer is op jou eie krag of persoonlike strewe na leierskap nie. Elke leier in God se koninkryk word Goddelik aangestel, geroep tot iets groter — 'n ware dienaar in die koninkryk van ons hemelse Vader (Deuteronomium 31:7-8).
Josua se Goddelike keuse dui op God se vertroue in sy vermoëns om sy volk na die Beloofde Land te lei. Vandag wil God jou ook vertrou. Hy sou jou nie geroep het as jy nie waardig was nie, as Hy nie die enorme potensiaal binne jou gesien het nie. Aanvaar hierdie roeping, wetende dat jy toegerus en bemagtig is om met wysheid en genade te lei.
Kom ons begin hierdie reis saam, en put inspirasie uit Josua se voorbeeld terwyl ons ontdek hoe ons ons Godgegewe roeping kan vervul.
Gebed:
“Vader, ons vra dat U ons oë, ons ore en ons harte oopmaak sodat ons u roeping duidelik kan hoor. Gee ons asseblief die krag, moed en geloof om elke dag te groei in die rolle wat U vir ons beplan het. In die Naam van Jesus, amen.”
Aangaande hierdie leesplan

Om 'n leier te wees wat deur God geroep is, ‘n leier wat volkome na die stem van die Heilige Gees luister en wat op die Here alleen vertrou, is nie ‘n maklike taak nie.
More
Ons wil graag Eagles Rising Leadership Academy bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.jotform.com/app/252521990077561




