Leef SigbaarVoorbeeld

Dit wat jy weggee, maak jou lewe ryk
‘n Vriend deel onlangs ‘n onderhoud wat ‘n radiostasie met ‘n bekende Nigeriese sakeman gevoer het op Facebook. Hy is gevra wat hom die gelukkigste maak. Hy sê toe dat alles in sy jonger lewe oor geld en besittings gegaan het. Later het hy waardevolle dinge begin versamel. Toe het groot internasionale projekte gevolg. Niks van hierdie dinge het egter blywende geluk gebring nie. Maar toe nooi een van sy vriende hom om rolstoele aan verlamde kinders te gaan uitdeel. Hy vertel hoe een van die kinders hom vasgegryp het. Toe kyk die kind vir hom en sê: “I want to remember your face so that when I meet you in heaven, I will be able to recognise you and thank you again.” Dit was sy gelukkigste oomblik op aarde, het die sakeman gesê.
Wat maak jou gelukkig? As dit nie die dinge is wat jy weggee en deel nie, sal jy nooit ware geluk ken nie. Geluk sal dan gedurig ‘n verskuiwende teiken in jou lewe wees. Paulus haal vir Jesus aan in Handelinge 20:34 waar Hy sê dit maak ons gelukkiger om te gee as om te ontvang. In God se oë is ons waarlik geseënd as ons vry genoeg is om met vrygewige harte en oop hande te leef. Dit gaan oor ‘n leefwyse van mededeelsaamheid waar ons ons kennis, ons geld, ons talente, ons tyd en ons energie met ander deel. Ons grootste vreugde is wanneer ons klein stukkies opoffering en vrygewigheid veroorsaak en ander ‘n beter uitsig kry op God se liefde.
Gebed:
Ek kies opnuut voor U om vrygewig te wees. Laat u Gees my help en lei hoe om dit prakties te doen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Hierdie 5-dag-leesplan help jou om God se liefde prakties te leef: deur te gee, eerlik en sigbaar te dien, wysheid te beoefen in jou woorde, jou geloof te versterk en te vertrou op God, selfs in moeilike tye. Jy sal leer hoe om vrygewig, opreg en wys te wees, terwyl jy jou verhouding met God verdiep en sy teenwoordigheid elke dag ervaar.
More
Ons wil graag eKerk bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.ekerk.org




