Onbeperkte LiefdeVoorbeeld

Onbeperkte Liefde

DAG 1 VAN 30

NIKS IS BELANGRIKER AS VERHOUDINGS NIE

“Die eerste is: ‘ Luister, Israel, die Here ons God is die enigste Here. Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand en met al jou krag.’ Die tweede is: ‘ Jy moet jou naaste liefhê soos jouself” — (Markus 12: 29–31 AFR83).

Die drie algmene woorde vir liefde in die Griekse taal is:

  • Agape — die tipe liefde wat God vir ons het en ons vir Hom en mekaar moet hê.
  • Filos — ‘n vriendskaplike tipe liefde tussen mense.
  • Eros — ‘n passievolle en romantiese tipe liefde.

Dink aan man en vrou, ouers en kinders, uitgebreide families, vriende, werksomgewings, werkgewer-werknemer, werkskollegas, skool, ensovoorts.

Van die begin tot die einde is niks belangriker as verhoudings nie. In die begin het God jou vir verhoudings geskep. Hy het jou gemaak om in verhouding met Hom en ander te staan. As jy nie goed doen in verhoudings nie, mis jy die belangrikste rede waarvoor God jou op hierdie planeet geplaas het.

Verhoudings kan pynlik wees. Dink aan ‘n egpaar wat op die rand van 'n egskeiding staan of die ouers wat nie tot hul kind kan deurdring nie. Om nie eers te praat van die kind wat teleurgestel word deur sy/haar ouers nie.

Verhoudings kan ook wonderlik wees. Dink aan die verhouding waarmee ander al moed opgegee het, en dan kom daar tog versoening. In groeigroepe word dikwels vriendskappe geskep wat die begin van ‘n nuwe lewe beteken.

‘n Lewe sonder verhoudings mag ‘n eenvoudiger lewe wees, maar dit is ook ‘n leë lewe. Die pad na die volste moontlike lewe en die grootste moontlike vreugde, word gevind in die prioriteit wat Jesus ons geleer het om bo-aan die lys te plaas: Heg die grootste waarde aan verhoudings.

Wees eerlik met jouself:

  • Hoe belangrik is verhoudings vir jou?
  • Hoe beleef jy jou verhoudings?

Onthou:

Alleenlik wanneer ek toelaat dat Jesus met my ‘n verhouding (van LIEFDE) kan aanknoop, sal ek in staat wees om met ander in ‘n verhouding van LIEFDE te kan leef.

Gebed:

DANKIE Jesus, dat U ook met my persoonlik in ‘n verhouding van LIEFDE wil leef.

Aangaande hierdie leesplan

Onbeperkte Liefde

“Ons het lief omdat God ons eerste liefgehad het.” - 1 Joh 4:19 LIEFDE is deel van die gelowige se lewe (veronderstel om te wees . . .) God gee die gawe van LIEFDE vir elke gelowige – ook vir jou! Ons liefde vir God is om hierdie gawe van LIEFDE in ontvangs te neem en dit onbeperk te gaan uitleef. Gedurende die tyd gaan jy die geleentheid kry om daagliks na te dink oor LIEFDE. Met die LIEFDE VAN JESUS! Begeleidingspan, spanleiers, skryfspan en Dr Michiel van der Merwe.

More

Ons wil graag NG Gemeente Jeffreysbaai bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.ngkjeffreys.co.za