Ons wag op 'n redderVoorbeeld

Ons wag op 'n redder

DAG 1 VAN 7

Dag 1 – ’n Lig in die donker

Tema: Ons wag op ’n Redder wat lig bring

Oordenking:

Die volk van Juda het in ’n tyd van groot onsekerheid en pyn geleef. Hulle was bedreig deur vreemde magte, en hul toekoms het donker gelyk. Jesaja bring egter ’n boodskap van hoop: God sal nie sy volk in duisternis los nie. Hy belowe dat ’n lig sal kom wat selfs die skaduwee van die dood sal verdryf. Hierdie woorde het destyds nuwe moed gebring aan mense wat geworstel het met vrees en moedeloosheid.

In die Nuwe Testament sien ons hoe hierdie profesie in Jesus Christus vervul word. Matteus haal juis Jesaja 9 aan om te wys dat Jesus die groot lig is wat in die wêreld sou kom (Matteus 4:16). Hy bring hoop, nie net vir Israel nie, maar vir al die nasies. In Hom is daar ’n lig wat sterker is as enige duisternis — selfs die duisternis van sonde en dood.

Wanneer ons vandag wag op ons Redder, wag ons nie in blinde onsekerheid nie. Ons wag met hoop omdat die lig reeds in Christus gekom het. Tog wag ons steeds op die volle openbaring van hierdie lig wanneer Hy weer sal kom. Intussen mag ons self draers van lig wees in ’n wêreld wat dikwels steeds in skadu’s vasgevang is.

Refleksievraag:

Waar in my lewe is dit tans nodig dat God se lig oor my duisternis skyn?

Gebed:

Here, ek dank U dat U die Lig van die wêreld is. Dankie dat U in my donkerte ingekom en my hoop gegee het. Help my om nie in wanhoop te leef nie, maar in die sekerheid dat u lig altyd sterker is as enige duisternis. Maak my ’n draer van u lig vir ander wat moed verloor het. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Ons wag op 'n redder

Die Ou Testament is propvol profesieë oor Jesus en sy koms na die aarde. In hierdie reeks reis ons vir sewe dae oor hierdie tekste wat ons in Jesaja vind. Die wêreld is vandag nog op soek na 'n redder. Elkeen van ons was ook al in 'n posisie waar ons redding nodig gehad het. In hierdie reeks sien ons God se reddende karakter raak.

More

Ons wil graag Kerksondermure bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: ksm.co.za